Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.6.12

Skou-(sc)oops! uit Milnerpark se dae

Wat ’n sieldodende „beat” kon die destydse skouverslaggewing tydens die jaarlikse Randse Skou op die ou Milnerparkse skouterrein nie wees nie.

Dis mos nou nie elke dag dat ’n eerste minister daar geskiet is nie - en dáárdie dag in 1960 was die mediakontingent boonop so onkant gevang dat hulle die groot nuus bra misgeloop het. (Lees gerus Joel Mervis se boek The Fourth Estate hieroor.)

Nietemin, Die Transvaler het elke jaar pligsgetrou ’n skouverslaggewer gehad, wat dikwels moeite gehad het om die tyd om te kry. Vernon Marais, predikant voor en ná sy dienstyd as verslaggewer en subredakteur by DT, het een jaar die kort stokkie getrek om verslag te doen oor ’n buitengewoon vervelige skou.

Hier teen die einde van die skou besluit hy dat hy genoeg van die storie gehad het en waag die kans om sy waak ’n ietwat voortydig te ontruim. Dis toe dat die duuste koei op die skou vrek … en DT loop die storie mis!

----------

By ’n ander geleentheid is ’n verslaggewer gestuur om ’n paar stories oor adverteerders vir ’n bylae te doen. Die gebruik was daardie dae dat een van die Pers se getroue Peugeots tussen die perssentrum op die skouterrein en die koerantkantoor in Doornfontein gependel het. Daar is nooit lank vir ’n geleentheid heen of terug gewag nie.

Dié dag is daar geen spoor van die motor nie (dit het later geblyk dat advertensieman Piet de Witt die motor vir sy uitsluitlike reise tussen uitstallers opgekommandeer het), en die verslaggewer bel nuusredakteur Willie Buys om te hoor wat aangaan.

„Moenie oor die kar bekommerd wees nie. Die polisie het ’n bom by saal soveel gekry. Gaan kyk wat daar aangaan.” Daar aangekom het die polisie die omgewing afgekordon en wag hulle vir die bomafdeling. Die manne in blou het hul hande vol om die honderde nuuskieriges van die gevaarpunt af weg te hou. ‘n Mens sou sweer die skare word deur ’n selfvernietingsdrang voort gestu. Ná ’n senutergende halfuur of wat daag die bomkundiges uiteindelik op en bekruip die pakkie versigtig.

Die sekondes tik benouend verby. Toe skielik is alles oor. Die bomspan en die kordon onttrek. Die nuuskieriges sak op die bomtoneel toe. En al die tyd was dit toe net ’n kosblik wat iemand daar neergesit het!