Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Peet van Staden. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Peet van Staden. Wys alle plasings

3.12.24

Koerante waai soms die vergetelheid in

PEET VAN STADEN skryf:  Shoe Lane was wel die straatadres, maar dit is of was g’n laan nie, allermins ‘n straat. Dit was eintlik maar die ingang na ‘n kantoorgebou ‘n paar meter se stap van Fleet Street af.  Die gebou se naam was die International Press Centre, en daar beleef ek op ‘n somerse Saterdagnag iets wat ek jare later besef het simbolies is van die hoogtepunt van koerante, veral Sondagkoerante.

Ná my laat werkery in Rapport se kantoor in die perssentrum het ek regs gedraai in Fleet in die rigting van Trafalgarplein. Hy was, kleurryke verlede en al, self nie veel van ‘n straat nie. Maar die name teen die geboue aan weerskant het hom die trefkrag van ‘n emosionele bakoond gegee: The Times, News of the World, The Daily Telegraph, Daily Mail.

13.8.24

Essie: "Daar was nooit nukke of buie of ego nie"

PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.

Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.

 Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.

7.5.24

Leefbaarder wêreld: net met ʼn glimlag, Pappie!

PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek. 

Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef. 

Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!” 

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

15.6.23

Op papier kan ʼn mens dit mos herontdek

PEET VAN STADEN skryf: GOED, miljoene bome het oorleef nadat die nuusbedryf sy papiergebruik ingekort het. Maar hy is daarom nog armer, want vir ons in die kermkoor het woorde op die skerm eenvoudig nie die trefkrag van woorde op papier nie. Jy kan hulle verklein of vergroot en in ʼn ander lettersoort weergee, maar nie skeef draai of ligkant toe skuif of besnuif nie. Veral nie só bedink en waardeer nie. 

Dit besef ek opnuut toe ek nou die dag in my opgaarkas na die grafika van die sirkulasiesyfers gesoek en afgekom het op iets waarvan ek half vergeet het. Dit was net te herontdek omdat dit op papier is, al kom sommige daarvan reeds uit ʼn

8.6.23

Grafika van ʼn leuen en ʼn flenter hand

PEET VAN STADEN skryf: GERRIE COETZEE se dood in Januarie is seker maar hoekom ek opnuut gewonder het oor die ding. Soos oor al die ander in Perskor se biblioteek wat ʼn mens oor jare bygebly het: knipsels van ons spookstorie as studente wat nege koerantvoorblaaie gehaal het, Willie Havenga se atletiekfoto’s, een uit Wessel Oosthuizen se eerste joppie met sy nuwe motoraandrywing wat wys hoe hoog ʼn knop op ʼn fietsryer se bobeen swel ʼn halfsekonde ná sy valslag.Of die biegbrief van ʼn veroordeelde moordenaar wat Jan Beukes uit die tronk gesmokkel het, geskryf op toiletpapier met sy eie bloed. 

Seker ook maar die vergetelheid in.

5.11.22

Fotoblad van Peet en Elise van Staden

Enkele weke terug het Peet en Elise van Staden  van hul kleurryke lewe en talente vertel. Van die foto's wat Peet saamgestuur het, het nog nie hul pad na K'rant gevind nie.  Hier is hulle nou.

• Oudkollegas kan gerus deur hul foto-albums blaai en herinneringe aanstuur. 

Peet van Staden (middel) was een van vier gewese voorsitters van die eerstydse Randse Sportskrywersvereniging wat teenwoordig was toe die vereniging se geskiedkundige beker vir die Sportman van die Jaar aan die Goue Leeus-rugby-unie se museum oorhandig is. Links van Peet is Ria Rabie en Willie Roux en heel regs Harry Lombaard. Tweede van regs is Andre Bester, wat die skenking bewerkstellig het. Al vyf is gewese Perskorhane.

23.9.22

Nie vergrype nie, mense bly Peet by

 PEET VAN STADEN skryf voorts: My herinneringe is ook nie van oorvloed en vergrype nie, maar van mense.

So halfvyf een middag in 1970 loop ek Hermiena Oberholzer en Marietjie van Rooyen by die hysbak raak. Hulle was gemoedelik ná die afskeid van ons legendariese restaurantvrou tant Rosie, soos wat ons haar toe met respek moes genoem het, maar nie gedoen het nie. Party sal nog onthou dat AM van Schoor haar daar gesoengroet het.

22.9.22

Dié Van Stadens leef dubbel en dwars

PEET VAN STADEN skryf: Ons het ons troshuistuinjie in Randburg só beplant dat al nege die groot bome gelyk hoog sou word bo-oor alles. Rankers en struike tussenin vir die geur. Lenteaande verstik ʼn mens amper daarvan. Oral groei boslelies, nou vol eerste blomknoppe. Daar is ʼn paar geeles maar meestal oranjes. Daarvan kom nog uit Dave Viljoen se welige beddings in Fourways. 

 Oral is daar herinnerings aan ons Perskordae. In die gastebadkamer hang twee Lou Henninkies in potlood wat die weemoed van Paul Kruger in ballingskap uitbeeld, die een (met sakkies onder die oë) van voor af, die ander in profiel. Op ʼn glasrak in die sitkamer staan die bloubont keramiekbakkie wat Thijs Nel as toegif aangedra het nadat ons twintig jaar gelede sy granate in houtskool op papier gekoop het.

Tuin en al is die eiendom so groot soos die hoewehuis waarin ons eens gewoon het. 

20.9.22

Van Stadens onderskei hulle aan wye front

Peet van Staden
PEET EN ELISE (TOE BOTHA) VAN STADEN het binne ʼn maand ná mekaar teen Januarie 1970 by Die Vaderland begin, hy in die sportredaksie onder Gerhard Burger, sy in die vroueredaksie onder Kittie Vermaak. 

Sy was om die beurt joernalis (vroueredaksie, subs en verslaggeefster by DV en Hoofstad) en onderwyseres. Ná lang studie tussenin het sy in die akademie geëindig. 

In ʼn tyd sonder kraamverlof moes sy met elke kind se geboorte bedank en daarna ervaar dat koeranture nie kinders in ag neem nie. In die onderwys kon sy as getroude nooit ʼn permanente aanstelling kry nie. Daar was gevolglik skofte in wit onderwys, waarvan sy een verloor het omdat haar man ʼn joernalis was en daar in ʼn ander koerant ʼn berig oor die skool verskyn het, toe in bruin en uiteindelik in swart onderwys. Ná die dol jare en klipgooiery in Soweto is sy terug pers toe, waar sy later vroueredaktrise by Die Vaderland geword het voordat sy in Sarie se Randse kantoor aangestel is.

5.2.13

‘Dis mos nie alles waar nie’

PEET VAN STADEN skryf: Ek het gewaarsku teen die euwel van my foto by my André Pienaar-bydraetjie, maar nie teen die kultuureuwel nie. Dit was 'n fout.

1.2.13

André sorg vir apopleksie en druipsterte

PEET VAN STADEN was 14 jaar lank aan Die Vaderland, Die Transvaler en Rapport verbonde, by die laaste twee publikasies as sportredakteur. Daarna het hy as nuusskrywer by die SABC TV begin, later bulletinredakteur geword en uiteindelik uitvoerende regisseur. Onder sy innoverende en dinamiese leiding het die Afrikaanse TV-nuusuitsending op SABC2 tot die grootste kykertal naas die Zulu/Xhosa nuusprogram gegroei. ‘n Tweede Afrikaanse