Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.6.12

’n Laafplekkie weg van Vegkop se gewoel

PHILIP DEETLEFS roep herinneringe aan ’n eksklusiewe persklub op.

Destyds woon Frans Sceepers, Lala Wahl, Piet Ebersohn, Wilma Rudman en ek in ’n blok terras-woonstelle net bokant Ellispark se tennisbane – Suncliffe Terrace in Panoramarif (eintlik maar Troyeville).

Om die een of ander rede het ons besluit dit kan ’n plan wees om nog een
van die woonstelle te huur en dit in ’n persklub te omskep. Andersom, eintlik maar net ’n drinkplek vir ons, weg van Vegkop se ergste gestamp en stotery.

Eksklusief hoor! Slegs koerant-, polisiemanne en die ander inwoners van die woonstelblok was toegelaat om lid te wees van die persklub. Wyle Lou Henning het selfs vir ons ’n lidmaatskapkaart ontwerp.

Daar was gewoonlik ook ’n vuur aan die brand sodat gaste braaipakke daar kon gaarmaak. Ons het die gaafste biefstukke teen R1 stuk (!) by ‘n Tsjeggiesse slagter, ene Steven, daar langs die Tudor Inn in Braamfontein gekoop en teen dieselfde prys herverkoop.

As ek reg onthou, het ‘n bier destyds 29c in Vegkop se kroeg gekos. Ons het dit teen drankwinkelprys by Diamond gekoop en kon dit teen ’n laer prys aan klublede verskaf.

Die polisielidmaatskap was hoofsaaklik omdat ons nie ’n dranklisensie gehad het nie. Van die ouens van die destydse Drank, Dobbel en Ontug-eenheid was goed genoeg om soms ’n ander sjebeen te stroop en ons voorraad daarmee aan te vul.

Een van die reëls van die Persklub was dat dit nie sal toemaak solank daar ’n drinkende gas in was nie. Dit was natuurlik ’n heerlike uitdaging vir sommige ouens. As ek reg onthou, het 'n bekende sportskrywer die rekord gehou deur van Vrydagaand 7-uur tot Sondag, ná die kerk al uit was, ons kroegmense in skofte besig te hou.

Ons het die wet probeer omseil deur dit ’n klub te noem waar elke lid kastig sy eie dop bring en daar drink en dat geen geld geruil word nie. Elke bottel het ‘n naam opgehad, maar niemand het rekord gehou van watter naam op watter bottel geplak word nie.

Een van die inwoners van die woonstelblok het ons gewaarsku dat sy vrou ’n alkoholis was en dat ons haar geensins met alkohol mag bedien nie.

Ons kan ons vermoedens teen hierdie tannie nie bewys nie, maar een aand het ’n vreemde (en onsimpatieke) polisiestasie se manne by die klub opgedaag en op al ons drank beslag gelê. Ons vertel hulle van ons klub-status, maar die hoofbeslaglegger sê elkeen kan eenvoudig die volgende dag kom en sê op watter bottel sy naam verskyn dan sal hulle dit vir hom terug gee.

Toe ons vra wat hulle sal doen as die ouens nie kan onthou waarop sy naam geplak is nie? Dan vernietig ons die drank, vertel hy.

Die polisie se geduld het opgeraak toe ons vra of ons minstens na die drankvernietigingspartytjie genooi sou word.

Die geluk by die ongeluk was dat hulle die pakkamer vir ‘n toilet aangesien het en ‘n klompie voorraad darem behoue gebly het om die teleurstelling weg te sluk!

En ons kom, met alle onkoste vereffen – insluitende drie maande se huurgeld – ’n mooi bedraggie vir die koerant se Kerspartytjie bydra.