Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.6.12

Boeke maak, kry voorkeur

ANNETTE (HUMAN) WAGNER, Pretoriase redaksielid van Die Transvaler in die vroeë sewentigs en bekende skrywer van kookboeke, laat weet van Warmbad af:

Toe ek vanoggend (buite was dit nog nagdonker) deur ons kantoorpapiere worstel sodat my man kan gaan betaal, bestel en dies meer wanneer hy vandag op die dorp is, kom ek op jou brief van 12 April oor K’rant af en besef tot my skande ek het nog nie daarop gereageer nie.

Al verskoning wat ek het, is dat die boerdery ons rêrig-rêrig baie besig hou en dat ek net saans tyd het vir ander bedrywighede soos boeke maak en korrespondensie afhandel. Ek moet nou ook maar eerlik wees en sê boeke maak, kry dan voorkeur, want dis al tyd wat ek daarvoor het en dan is dit nog so verskriklik lekker ook.

Ek was so 'n kort rukkie by Die Transvaler en dit was so lank gelede dat ek geen heimweë of behoefte het aan die dinge van toe nie. Ek waardeer dit dat julle my uitnooi na die reünies, maar ek en my man sal dit waarskynlik nooit bywoon nie, want dis te ver van die plaas af en die mense is vir my nou vreemdelinge.

Ek wens julle egter alle sukses toe met K’rant en dat julle elke reünie baie gaan geniet.