Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.6.12

Johan Kuns kla nie oor die Kaapse weer

JOHAN LIEBENBERG, gewese kunsredakteur van Die Vaderland, laat weet: Ek is nie so goed op foto’s stuur nie, so julle sal maar sonder een moet klaarkom, maar ek kan darem my nuus gee, al is dit nie opwindend nie.

Ek woon al sedert einde 1986 in die Kaap en is doodgelukkig hier. Ek het van dag een af besluit dat dit nie produktief sal wees om oor wind of weer te kla nie! En snaaks genoeg is ek dol oor die winters in die Kaap, nie soseer die somers nie. Ek woon nou in ’n aftreeoord in Vredehoek aan die hange van Tafelberg en is baie trots op die status wat die berg onlangs gekry het as een van die sewe natuurwonders van die wêreld. Dit is ’n n baie lekker plek met talle interessante mense.

Dus is die nodige menslike kontak hier, asook die stad op ’n mens se voorstoep en glo my, die Kaap is vol lewe waar mense nog snags uitgaan en kuier. En dan praat ek nie eers van die plekke ‘n uur of minder se ry buite die stad nie. Daar is so baie te doen en die wynlande net om die draai waar van ons gereeld gaan kuier en eet.

Ek het nog baie gereis ook sedertdien, maar oorsese reise raak al hoe minder aangenaam. Ná my laaste reis in Desember/Januarie na Viëtnam (baie interessant) het die lang vlugte, lughawens, ensovoorts, my onder gekry.

Dan was ek onlangs Sutherland toe om na die teleskoop te kyk en het dit besonder stirmulerend gevind. Ek het egter nog nooit in Suid-Afrika só koud gekry nie en ook nog nie die Karoo só nat gesien nie! Van belang daar is ook die Louwhuis waar W.E.G. en Van Wyk Louw gebore en groot geword het. En dan is die kerk daar van belang omdat dit een van die enigste drie barokorrels in die land het. Laastens moet ek nie die heerlike Karoolam vergeet nie!

Maar nouja, die jare stap aan en ek is maar alte bewus van die aftakeling van oud word. Die een wat ouderdom die goue jare gedoop het, moet geskiet word, al het ek ook nie so baie om oor te kla.nie.

(Ons het Johan gevra om ons lesers van sy Viëtnamese vakansie te vertel. – Red.)