Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.6.12

Hoe dood moet ‘n mens wees voor jy dood is?

PHILIP DEETLEFS skryf: Wanneer is iemand dood en wat is die verskil tussen lewe en dood? Dis die vraag wat die Suid-Afrikaanse doktor in biologie, Lyall Watson in sy boek, The Romeo Error probeer antwoord het.

As jong welpieverslaggewer by Die Transvaler was misdaadverslaggewing en veral oor die dood, so min of meer die mees opwindende ding wat jy by die koerant kon doen.
Elke dag het begin met die hoop op die ontdekking van minstens ‘n gesinsmoord of iets vergelykbaar grusaam.

Destyds het ons nog verslag moes doen oor selfmoorde. Een middag nooi die lykhuis se manne my na die toneel waar ‘n omie homself in sy motor in sy motorhuis vergas het. Enkel-motorhuis met min beweegruimte en ‘n afdraende van die deur af straat toe.

Die omie is vooroor agter sy stuurwiel dood en was al in daardie posisie van die rigor mortis “gesmee”. Al hoe mens die lyk kon uitkry is om die motor eers uit die motorhuis te kry. Lykhuis se manne laat my voor langs die omie in die passasierskant inklim sodat ek moet stuur en die rem trap as hulle die motor uitgestoot het.

Toe hulle na ‘n groot gesukkel die omie op die vlekvrye staaldraagbaar op die grasperk op sy rug het, kantel hy spontaan vorentoe dat dit lyk of hy wil gaan regop sit!

Diep onder die indruk van The Romeo Error en hoe maklik mens iemand vir dood kan aansien en dan is hy nie dood nie, het ek so groot geskrik dat ek byna saam met die omie op die draagbaar Braamfontein toe gevat is.

Ek was daarvan oortuig dat hierdie ‘n Romeo error was tot die lykhuismanne my met groot vermaak oortuig het dat die omie regtig heengegaan het. Het hulle vermoed. Net omdat hy nie ook vir my skrik uitgebars het van die lag soos al die ander nie.