SIPKE DE VRIES skryf: My vriend André de Bruyn en ek het die Soweto-onluste, en dié in Alexandra, van die begin tot die einde vir Die Vaderland gedek. Dit het só gebeur.In die vroeë oggend van 16 Junie, ek dink dit was 'n Woensdag, was ek op kantoor in Aucklandpark toe daar berig kom daar is moeilikheid in Orlando-Wes. Ek is toe soontoe gestuur met die getroue bestuurder Gabriel Maphalala in sy wit Peugeot.
Ons ry verby die Baragwanath Hospitaal na die Orlando-polisiestasie waar 'n groot deurmekaarspul was en ons dadellik weggejaag is. Nóg Gabriel, nóg ek het eintlik besef wat aan die gang was. Toe ons verby die Orlando-Wes-hoërskool ry, word ons toegesak deur 'n groot groep skoliere wat aan Gabriel se Peugeot begin ruk het.


