Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.6.12

Boeddha stuit Kersfees nie

JOHAN LIEBENBERG, oud-kunsredakteur van Die Vaderland, vertel van sy onlangse ervarings in Viëtnam.

Kersfees in Viëtnam is groot! Dit het ek tot my verbasing vasgestel toe ek verlede Kersfees in dié land deurgebring het.
’n Mens sou dink dat die Christelike fees ongesiens verby sou gaan in ’n Boeddhistiese land. Maar nee, sommer met die intrapslag in Saigon (nou Ho Chi Min-stad) sien ek enorme Kersbome, rojaal versier. Alle hotelle het sulkes in hul voorportale.

Die snaakste van alles is die groot Kersversierings by winkels – nie in die vensters noodwendig nie (soos die gebruik in die Weste is), tog wel op die sypaadjies waar reuse-Kersvaders, slees, takbokke en geskenkies vertoon word.

My eerste gedagte was dat dit nie hier sou slaag nie, want die volgende dag is Kersvader en sy trawante lankal in die „townshipsˮ! Daar raak niemand aan die uitstallings nie, maar wil graag voor dit afgeneem word en saans wemel die strate van ouers met hul kinders wat almal voor die skouspelagtige uitstallings poseer, tot so ’n mate dat dit moeilik raak om op die sypaadjies te stap.

Kersaand vier die entoesiasme hoogty wanneer al die inwoners op straat is en almal „Happy Christmasˮ skreeu kompleet met Santa se mussie op (foto bo). Dit het ek in Hanoi ervaar waar die mense of te voet of op ligte motorfietse en bromponies die strate vul. Ons kon skaars loop en dit was omtrent iets om die straat oor te steek of om vorentoe te beweeg.

Die gunstling-vervoermiddel daar is die motorfietse en bromponies (regs) en dit is ’n gesig om te aanskou in die spitstyd wanneer letterlik duisende van die goed die straat afkom en ons moes dit telkens trotseer om die straat te oorkruis, want verkeersligte is nie volop nie. Dit werk egter uitstekend. Jy stap eenvoudig doodluiters oor, versigtig en stadig deur bloot nie te stop of bangbroek te wees nie. Dit is aanvanklik angswekkend, maar jy besef gou dat hulle jou ook dophou sodat ’n mens nie skielike bewegings moet maak of gaan stil staan nie.

Ons het natuurlik die Amerikaanse beskouing oor die Viëtnamese oorlog, of die Amerikaanse oorlog soos hulle dit daar noem. Maar dit is darem skreiend wat daar gebeur het en veral die gebruik van wapens soos die napalmbomme en „Agent Orange” wat nou nog ’n effek op die mense het (erg verminkte kinders word nog gebore). Dit laat ’n mens net weer besef wat ’n aaklige ding oorlog is en waste effek dit op die gewone mens het.

Vietnam is ’n mooi land met besonder mooi en vriendelike mense en heerlike kos. Dit is veel skoner as baie ander Asiatiese lande en hulle het die Franse koloniale oorblyfsels soos geboue en breë boulevards behou.

Saigon is pragtig en Hue, die imperiale hoofstad (voor die Franse besetting) is interessant, maar die Yank-bomme het baie vernietig. Die foto links is van die keiserlike paleis in dié stad.

Hanoi is tipies Asiaties met nou en bedrywige straatjies en die ou deel nie so skoon nie. Die hoogtepunt is Hoi An, ’n sjarmante klein stadjie wat ook ’n wêreld-erfenisterrein is.

Laastens is daar natuurlik Halongbaai (links) wat onlangs ook tot een van die nuwe sewe natuurwonders van die wêreld verklaar is. Daar het ons op die tipiese Sjinese jonk (op foto te sien) gevaar en die beste seekos van my lewe genuttig.

Ek kan Viëtnam beslis aanbeveel, omdat dit so interessant is. Maar die geld daar kon ek nie onder die knie kry nie. Te veel nulle agter die syfers sodat 'n mens total verward was.