Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.9.20

Só onthou ek Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler

KARIN PRETORIUS skryf: Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler in die sewentiger jare, was ‘n stil, teruggetrokke en vir ‘n eerstejaartjie by die koerant, nogal ‘n geheimsinnige man. 

Hy’t soggens geruisloos die lang gang van die koerantgebou in Jorissenstraat in Braamfontein van die voordeur afgestap na sy kantoor, aan die linkerkant in die hoek. Omdat sy venster op ‘n binnehof uitgekyk het, kon jy hom altyd van die nagkantoor se venster af sien sit by sy lessenaar – geboë oor die koerant. 

8.9.20

Koos Botha oorlede

SIPKE DE VRIES skryf: In die vroeë oggendure van Vrydag 4 September is oudTransvaler en SAUK joernalis Koos Botha in die ouderdom van 85 jaar by sy geliefde huis in Ferndale oorlede. 

Koos was baie jare verbonde aan die finansiële redaksie van Die Transvaler voor sy aftrede. In die vroeë sestiger jare was hy 'n subredakteur by die Afrikaanse nuusdiens van die SAUK. Toendertyd by die hoofkantoor in Kommisarisstraat. 

6.9.20

'n Droom aan skerwe

MAUREEN SWART skryf: Selfs nou nog, maande ná die nuus dat Rooi Rose se deure gesluit het, is ek steeds verslae. 

Hene, vandat ek kan onthou, was Rooi Rose deel van my lewe. Nou het Covid-19 meegebring dat hierdie ikoniese tydskrif, saam met 'n hele rits Suid-Afrikaanse tydskrifte, moes toemaak.

Aangesien Rooi Rose grotendeels by Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) begin wortel skiet het, het ek so 'n bietjie in Rooi-Rose se (verre) verlede gaan snuffel.

Rooi Rose is deur 'n man begin -- deur die baie bekende skrywer, Mark Preston. Dit was nie sy regte naam nie, maar die skuilnaam van Hendrikus Potgieter. Sy droom was om 'n vrouetydskrif te publiseer. 

2.9.20

Koos Roelofse is nog perdfris

PIETER SCHOOMBEE het laat weet dat Koos Roelofse gesond en vrolik is en op Onrus woon. Sy epos is koosr@icon.co.za

1.9.20

Waar is Koos Roelofse?

PIET ROODT sê hy het lanklaas geloer wat op ‘Krant se werf aangaan. Eers toe broer Frans laat weet Jannie Hebst het beter weivelde gaan soek, dat ek die blog weer bekyk. 

Raak ek sommer bewoë oor almal wat al “afgesterf” het. Besef ek dat ek ook maar op genadetyd leef. Sal graag wil weet wat het van Koos Roelofse geword. Hy was mos professor in Kommusikasiekunde by Unisa, nadat hy lank n redaksielid van Die Transvaler was. 

Ons was 'n bedrywige lotjie destyds in die nagkantoor. Manne soos Peet Smit, Koos Roelofse, Dave Viljoen, Frik van der Walt, Gert Hattingh, Jan Herbst en 'n klomp ander wat nie meer met ons is nie.