Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Gerhard Kleijn. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gerhard Kleijn. Wys alle plasings

18.4.23

‘Zijn naam is Kleijn, zijn daden bennen groot’

Lang Gerhard Kleijn
HOPELIK sal die Nederlandse liriekskrywer van “De zilverenvloot” bostaande stukkie vryheid met sy woordkuns vergun as ons na Gerhard Kleijn verwys. 

HARALD PAKENDORF, ’n gewese redakteur van Oggendblad skryf: Gerhard Kleijn is ʼn voorbeeld van iemand wie se naam nie by hom gepas het nie. Nie in statuur nie, maar ook nie as verslaggewer nie. Hy het sy leerjongenskap by Oggendblad in die Sewentigs in Pretoria deurloop. 

Van die begin af was dit duidelik dat hy in ʼn redaksiekantoor tuis is. Nie te lank nie toe het ander weivelde geroep en was hy opeenvolgens redakteur van spesialis- en plaaslike koerante.

Harald Pakendorf
In sy laaste jare net deur Facebook (Aletta s’n) geweet hoe dit met hom gaan. Sy afsterwe het ons heeltemal onkant gevang en laat ʼn leegte. 

DRIES SONNEKUS, ’n gewese redakteur van Die Kouter, skryf: IN my geval is dit deesdae net ʼn kort treetjie en dan is ek daar – deel van daardie groot ritueel wat ek eenkeer op Korfu gesien het. Ons groot vriend – paradoksaal Gerhard Kleyn – het nou reeds daardie tree gegee en so met sy lang bene uit ons lewens getree. Ons sal hom mis.   

15.4.23

Gerhard Kleijn oorlede

Gerhard Kleijn
GERT VAN ROOYEN laat weet dat Gerhard Kleijn gister oorlede is. Geen nadere besonderhede is bekend nie, maar K’rant sal laat weet sodra dit meer te wete kom. 

(Gerhard het sy loopbaan as koerantman by die Klerksdorp Rekord begin, was later aan Oggendblad en Die Kouter verbonde, eh hy en vrou, Angie, het die afgelope klomp jare ‘n baie suksesvolle gemeenskapstydskrif, Die Bronberger, aan die Ooste van Pretoria uitgegee. – Red.)

14.4.15

Elvis is dood

GERHARD KLEIJN skryf ja, díé oorlede Sapa darem: Dit was in die nanag van 17 Augustus 1977. Die koerant (Oggendblad) het lank reeds gesak en die grondvlak-rolpers het knap begin om die hele ou Mitchelstraatgebou aan die bewe te sit. In die nagkantoor was die manne besig om die laaste leksels uit ‘n breëskouer-fles te ledig.

Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.

5.2.15

Ou Harry laat hoor van hom

GERHARD KLEIJN skryf na aanleiding van Hanlie Vornberg-Swanepoel se navraag oor Harry van den Berg:

Ou Harry het my verlede jaar uit die bloute van baie verloopte jare gebel. Hy wou praat oor die moontlikheid van ‘n wynrubriek in ons tydskrif en ‘n gesamentlike wynsmousery.

Harry bly nou in Pretoria se ooste, ná baie jare in die Kaaplandse wynwêreld. Daar het hy hom duidelik bekwaam in die fynere kunsies van wynskryf, -smous, -proe en geniet.

3.3.14

Fotodag 21: ʼn Fees wat nie end wou kry

GERHARD KLEIJN skryf: Onthou julle vir Gerhard van der Merwe? Einste hy wat destyds die salarisleer van Die Transvaler af Vleissentraal toe geklim het en toe nogal aktief betrokke geraak het by die Landbouskrywersvereniging? Nou, uit die bloute uit stuur Gerhard se dogter, Marlou, onderstaande kiekie aan.

Ou Gerhard was nogal kranig met kitaar in die hand en het ‘n heel

2.4.13

Die Mitchelstraatse Mannekoor

GERHARD KLEIJN skryf: Ek weet oorle ou Etienne wou nog iets hieroor sê en ek self bly ‘n paar skrywes skuldig. Ek hef dus aan met ‘n ietse oor ‘n baie spesiale klomp ouens uit ‘n baie spesiale tydperk in my lewe.

Wie dit presies was wat die eerste keer die naam ‘Mitchelstraat Mannekoor’ aan ons klompie kuiergatte toegedig het, kan ek nie met sekerheid sê nie.

Dit kon enige een van ‘n kerngroepie Oggendbladters gewees het wat geesdriftig meegedoen het aan die gereelde sing-en-suip-sessies in die ná-nagure, verby saktyd.

8.2.13

Steeds daardie bromponie

GERHARD KLEIJN skryf: Ek lees nou knap Peet van Staden se vertelling oor André Pienaar en toe skop die onthou-ding in.

Toe André op ‘n dag by Die Tranvaler se redaksiekantoor in Aucland Park inwals, was ek en ‘n paar ander penkoppe soos Joe van Buuren, Phillip Deetlefs en Johann van Loggerenberg darem al manne met etlike maande se ervaring.

6.12.12

Etienne Kriel oorlede

Gerhard Kleijn laat weet dat ETIENNE KRIEL, redakteur van Stywe Lyne en jare lange Perskor-staatmaker (Oggendblad en Die Transvaler) vanoggend in die hospitaal oorlede is ná 'n kortstondige siekbed. Nadere besonderhede is nie bekend nie. Die begrafnis is Dinsdag, 11 Desember 2012, om 15:00 uit die NG Kerk Valhalla-Suid, Hugostraat 11, Valhalla, Pretoria.

10.8.12

Kopskoot!

Gerhard Kleijn skryf: Die raakvat-koppe het my onwillekeurig weer laat dink aan die een wat oorle Koos Doep destyds ietwat in die moeilikheid by die witoë laat beland het. Te "onsensitief", het hulle gedink. Die storie was oor ‘n meisie van 12 of 13 wat ‘n kind gekry het en ou Koos se kop het gelees: "Mossie maar ma".

16.7.12

George altyd reg om te help

GERHARD KLEIJN skryf: Dankie vir die mooi storie oor George Nicholas. Ek het al dikwels gewonder of George nog aanstap. Die storie het vir my blye tyding gebring oor ’n jintelman waarvoor ek die wêreld se respek het.

In die tydperk wat ek my met die landboujoernalistiek besig gehou het, was ek bevoorreg om heel dikwels met George te doene te kry. ’n Ware heer wat altyd bereid was om ’n groentjie te help en onderhoudend oor omtrent alles kon gesels. Altyd netjies en korrek in sy optrede, maar met ’n gesonde ondeunde streep, is George.

11.6.12

Nou lol K’rant met my spertyd

GERHARD KLEIJN ‘n gewese nuusredakteur van Oggendblad, skryf: Ek het nou net ‘n lekker nostalgiese trippie met die K’rant saam gevat. Dit terwyl ek my eintlik dringend moet besig hou met die haal van nog ‘n speryd. Deur die jare kon ek eenmaal nie my dagbladmentaliteit afskud nie. Los bykans alles tot op die laaste moontlike oomblik om ons maandelikse tydskrif persklaar te kry. As julle wil, kan julle by www.bronberger.co.za gaan loer om ‘n idee te kry van waarmee ek my die afgelope tien jaar besig hou.

Dankie aan julle ou strydrosse vir K’rant. Ek het die skakel by my gunstelinge gevoeg.