PAUL ROOS skryf: EK was slegs ʼn paar maande lank ʼn Perskor-werknemer, en daarom neem ek nie juis deel aan julle aktiwiteite nie. Desnieteenstaande is ek ook ʼn slagoffer van die nostalgie, en onthou ek daai tyd met meer as net ʼn tikkie heimwee.
As junior verslaggewer by Die Transvaler (aangestel deur Herman Snyman) veertig jaar gelede, het ek my bevind in ʼn soort Suid-Afrikaanse Alice in Wonderland. Eksentriek was die norm – of so het dit vir my gevoel. ʼn Miernes vol energieke, passievolle, volkleur-karakters propvol lewe en vreugde en spitsvondigheid.
