Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.10.14

Metamorfose tref Rooi Rose

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ná aanleiding van Jasper Schellingerhout se uitmuntende berig oor die "Sewentigs en hul nuwe koerant" wil ek graag ´n stuiwer in die armbeurs gooi oor die metamorfose wat die vrouetydskrif Rooi Rose op 10 Maart 1971 ondergaan het.

Soos Jasper skryf van die oorstoot van die sestigs na die sewentiger jare, was hierdie "oorstoot" by Rooi Rose nie so maklik met Martie Snyman aan die stuur nie.

23.10.14

Martie se Rooi Rose

GERHARD BURGER skryf: Op ʼn goor dag kan jy een van twee dinge doen: gaan busry of in ʼn winkel vol tweedehandse boeke gaan speel.

Port Elizabeth se busdiens is nie aan te beveel nie. Maar hier is darem twee boekwinkels waar ʼn mens maklik ʼn hele dag kan deurbring as die dors jou nie oorval nie.

Dit is hoe dit gebeur het dat daar nou tussen al die goeters in hierdie klein kraamsaal (ander mense het studeerkamers) ʼn uitgawe van Rooi Rose lê: Woensdag 19 Mei 1971. Die redaktrise was Martie Snyman, wat ʼn nogal lywige stuk oor haar dogter se kleresmaak geskryf het.

22.10.14

Nardus se humorsin laat kerk lag

Nardus Nel
JAKKIE GROENEWALD was die naweek by Nardus Nel se begrafnisdiens. Hy sê aan die mense wat Nardus se begrafnis bygewoon het, is dit duidelik dat hy diep en wyd spore getrap het.

Met die huldeblyke wat gelewer is, het Nardus se humorsin sterk na vore gekom met die lagbuie wat daar telkens in die kerk uitgebreek het. Huldeblyke is gelewer deur John Liebenberg en Dr Edith Phaswana (Nardus se buurvrou). Die diens is deur dr André Bartlett gelei.

Benewens Nardus se familie, het ook verskeie oud-kollegas opgedaag om hulde aan hom te bring - onder andere Elma Potgieter, Sipke de Vries, Louise Blake, Wessel Oosthuizen en Dana Snyman.

Bekendes in die vermaaklikheidswêreld wat daar was, sluit in Frank Opperman (wat namens Marina - Nardus se weduwee) die bedankings gedoen het, Leon Schuster, die rolprentvervaardiger André Scholtz en sy vrou Riana (wat as Riana Pienaar in verskeie rolprente verskyn het), Lochner de Kock, Nicky van den Bergh en Cobus Visser. (Nardus was 64 jaar oud. -- Red.)

20.10.14

Spietkop klop vir Nardus wakker

JAKKIE GROENEWALD skryf: Ons het in die 70’s die film Diamant en die Dief in onder meer die Vrystaat verfilm (Koffiefontein en Jagersfontein).

Omdat die inwoners daar ons so baie gehelp het, het die vervaardiger, André Scholtz, besluit dat ons die première van die film op Koffiefontein moet hou.

Lede van die tegniese span, akteurs, soos Hans Strydom, Sybil Coetzee, Francois de Bruyn en Mel Miller – en die uwe – was saam Koffiefontein toe vir die geleentheid. Nardus Nel is gestuur om foto's te neem.

17.10.14

'n Huldeblyk aan Nardus Nel

DANA SNYMAN skryf op sy Facebookblad soos volg oor Nardus Nel wat vroeër die week oorlede is:

Maart 1992. Ontmoet Nardus in Huisgenoot se kantoor in Johannesburg. Spreek hom die eerste keer as “Meneer Nel” aan. Ons gaan Durban toe. Dis my eerste keer in ´’n vliegtuig.

Ek neem aktief aan die lugwaardin se veiligheidsdemonstrasie deel. Nardus sit met ’´n perdeboekie en kies vanmiddag se wenners op Greyville. Dit gaan ’´n tawwe trip wees hierdie, dink ek. Hierdie beroemde fotograaf hou vir hom beter.

Kapper in ons woud is bedrywig

WILLIE BUYS skryf: Ek stem heelhartig saam met Lita Kotze se skrywe onder die opskrif Omkrultoon-storie van Jasper. Nou, nog voor Lita se skrywe het ek dominee Jasper se storie gelees en, net soos sy, behoorlik hoendervleisbulte uitgeslaan van pure lekkerte oor die behendige taalgebruik van die man.

15.10.14

Niki Lauda en Mozart in twee noue ontkomings

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Tydens ons opleiding by die joernalisteskool, moes ons op 'n dag Kayalami toe gaan om oor 'n motorwedren verslag te doen.

Evert van Niekerk, destyds die motorredakteur van Die Vaderland, het hom oor ons ontferm.

Evert moes dikwels met die renjaers onderhoude voer. Onder hulle was daar die gawe ouens en die galpille. Niki Lauda was een van die laasgenoemdes. Evert het geen ooghare vir hom gehad nie.

Waar is Dries van Heerden?

JAAP THERON, oud-Vaderlander vra: Wat het van my oud-Perskorkollega, Dries van Heerden, geword? Is hy nog met ons.

Afrikanergroete vanuit Brisbane in die South Pacific.

14.10.14

Gedenkdiens vir Nardus

MARINA NEL (Nardus Nel se weduwee) skryf: 'n Gedenkdiens word Saterdag 18 Oktober vir Nardus Nel gehou om 11:00 by die NG Kerk Aasvoëlkop, Hockeylaan, Northcliff. Boodskappe kan aan haar gestuur word by marina.nel@gmail.com.

13.10.14

Nardus Nel oorlede

Hans Lombard het laat weet dat Nardus Nel oorlede is.  Begrafnisreëlings sal bekend gemaak sodra besonderhede ontvang is.

Omkrultoon-storie van Jasper

LITA KOTZE skryf: Allamaskas, wat ‘n heerlike stuk letterkunde kry ons nie vanoggend van Jasper Schellingerhout in K’rant nie!

Nie alleen spreek die inhoud van belewenis aan eie bas nie, maar daai taalgebruik! My tone het behoorlik omgekrul van lekkerte oor die kuns van skryf wat Jasper besig. Gits, mens lees nie vandag maklik meer sulke kleurige, afgeronde, weldeurdagte berigte nie.

Ek skryf dit toe aan die era van “information overload” waarin ons lewe. Die beskikbaarheid van nuusbrokkies is eenvoudig dawerend te veel vir die ruimte wat beskikbaar gestel word deur die advertensieverkope in ‘n publikasie.

Sieg van Niekerk oorlede

Jakkie Groenewald het laat weet dat Sieg van Niekerk, voormalige motor-redakteur van Die Transvaler, is verlede week aan kanker oorlede.

10.10.14

Die SEWENTIGERS en hul "nuwe" koerant

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf:  ELKE bedeling het sy eiesoortige “geite” waarvoor daardie tydsgreep bekend is. Niks is solied gegiet nie. Al wat vas en seker is is dat niks vas en seker is nie. Dikwels kan hierdie tydperke in dekades ingedeel word.

Die dekade van 1960 – ’70 het behoort aan die sg. sestigers. Hul vrye denke, gedigte en storielyne het die grense partykeer erger getoets as wat die Nasionale Party kon platklap en in die grond inboor: André P. Brink, Etienne Leroux, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en kie ...

7.10.14

Nardus Nel is baie siek

Nardus Nel
PIET ROOS skryf: Ons goeie vriend Nardus Nel is baie siek.

Hy was destyds 'n fotograaf by Die Vaderland saam met my. Hy het van die Oosterlig gekom, as ek reg onthou, en ons het saam gewerk in Aucklandpark. Nardus het nooit met 'n suur gesig rondgeloop nie, en altyd geglimlag.

Ek het daardie jare 'n kamera by Nardus gekoop, en betaal, Bienkie! Dit was 'n Minolta Autocord.

6.10.14

Johan Moolman oorlede

PIETER SCHOOMBEE skryf: Piet Roos vra Vrydag in K'rant wat geword het van Johan Moolman, vroeër sake-joernalis by Die Transvaler. Hy is op 8 Junie verlede jaar aan kanker oorlede nadat hy so 30 jaar lank die eienaar en redakteur was van Cape Business News. Dis steeds 'n suksesvolle sake-koerant in die Kaap.

3.10.14

Waar is Johan?

PIET ROOS vra: ´n Vriend vra my wat geword het van Johan Moolman wat destyds by Die Transvaler se sake-redaksie gewerk het? Weet iemand?

(Oud-kollegas kan met graagte dié forum gebruik om ander oud-kollegas te probeer opspoor.  -- Red.)

2.10.14

Piet betaal sy weddenskap na 40 jaar

PIET ROOS skryf: In Maart 1973 het ek die grootmens-wêreld van die joernalistiek betree.

Dit was die wonderlikse plek waar dinge gebeur het. Ons het elkeen 'n tikmasjien gehad, in ons hokkies gesit en stories op "seksie"-papier getik en die blaaie met kopspelde aanmekaar vasgesteek.

Toe ek meer as dertig jaar later op Upington by Douglas Jones kuier, trek hy 'n skryfblok nader en teken die hokke.

1.10.14

Gerhard is hoof van Bienkie se bewonderaarsklub

Die blote feit dat Bienkie Wessels van haar laat hoor het en dan nog op so 'n heerlike lekkerlees manier, het nie net K'rant se redaksie beïndruk nie.

GERHARD BURGER skryf: Bliksem! Daardie Bienkie Wessels kán skryf. Van kleins af. Nou nog. Laat weet haar ek is steeds hoofkommandant van haar fan club. Nog al die jare. (Jy het 'n vrag mededingers Gerhard - Red.)