Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.8.18

Hillbrow se brandweer

Die drukkersduiwel het K’rant besoek in die gewaad van Philip, die kopskrywer.
Hillbrow se brandweer was nie die eerste brandweerstasie in Johannesburg nie, maar wel een van die eerstes.

Die duiwel vra nederig om verskoning! - Red

23.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel III van III)

Hillbrow se brandweer was eerste in Goudstad 

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In Johannesburg se beginjare was die uitbreek van brande 'n yslike kopsorg, want hoewel die Goudstad al vanaf 1889 elektrisiteit gehad het, is paraffienlampe vir beligting gebruik. Boonop was die boumateriaal in die delwerskampe hoogs vlambaar ‐‐ hout, grasdakke, seil. (Vir vertroosting en versterking was daar whiskey; vlambaar in meer as een opsig.) Brandweerstasies moes gebou word en een van die eerstes was die Berea‐brandweerstasie, wat in 1910 opgerig is. Sy amptelike naam was eers die Noordelike Distrikte‐brandweerstasie Hillbrow, maar die Hillbrowiete het dit die Hillbrow‐brandweerstasie genoem. Aanvanklik is brandweerwaens deur 'n span perde getrek. Die Pophuis is die oudste funksionerede brandweerstasie in Jozi en is in 2011 tot nasionale monument verklaar.

22.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel II van III)

Perskebome het op Hillbrow se sypaadjies gegroei

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Een van die eerste huise wat in Hillbrow gebou is,*3) was in Van der Merwestraat, tussen Quartz‐ en Claimstraat. Die eienaar was RJ Nicholas. Die huise het tuine/tuintjies gehad en vreemd soos dit nou mag klink, was daar toeka se tyd glo perskebome langs die Brow se strate. Daar was ook die dae van stowwerige grondpaaie in 'n tyd toe Johannesburg se eerste openbare vervoermiddel trems was, wat deur perde getrek is. Twiststraat was deel van die roete. (Oor die stegies en nagwaens sal ek liewer swyg.) Die bome is hoeka al deur beton en die mens verswelg, maar een van die eerste ou huise ‐‐ op die hoek van Van der Merwe‐ en Quartzstraat ‐‐ klou nog aan die lewe vas. Ek het byna elke dag daar verbygeloop, maar dié arme ou plekkie is nou al erg opgekrok. Onder vervloë dae se Hillbrow‐inwoners was bekende name:

21.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel I van III)

Hillbrow was doerie jare soveel van ons se tuiste en speelplek. Maureen Swart dink ook met groot nostalgie terug aan die “goeie” ou dae in Hillbrow. Sy het deeglik navorsing oor die Brow gedoen en deel dit met ons oor drie aflewerings. Vandag is die eerste hoofstuk. Terloops, die verwysingsbronne kom aan die einde van die laaste aflewering.

Hillbrow met al sy nostalgie herroep

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Spyt kom altyd te laat. Dit besef ek vir die ontelbaarste keer in my lewe toe ek 'n foto van die Berea‐brandweerstasie op Google sien. Op die hoek van Mitchell‐ en Banketstraat, en op die grens tussen Berea en Hillbrow, staan hierdie brandweerstasie.

Terwyl ek in Hillbrow gewoon het ‐‐ 'n sug van nostalgie ‐‐ was dié gebou dikwels op my staproete vir oefening, baie lank voordat Fitbits die lewenslig aanskou het. Dan het ek met die onkundige ongeërgdheid van 'n jongmens gedink: "Cute" plekkie; dit lyk soos 'n pophuis. Min wetende dat dit inderdaad Die Pophuis genoem word, omdat die boustyl dit die voorkoms van 'n pophuis gee. Eers 'n leeftyd later het ek geleer ('n mens is nooit te oud om te leer nie) dat die boustyl nogal 'n mondvol is: Neo‐barok‐Edwardiaans.)
Nou hoe pas spytigheid in die prentjie?:

15.8.18

Verkragting vir die pret

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Maureen Swart se bydrae oor die “maritieme”-episode sal my nooit laat vergeet van die vertaling wat eendag op my lessenaar in Die Vaderland se subkantoor beland het nie. Nog in Aucklandpark se dae.

So ‘n jong penkop-verslaggewer, ‘n dame wat soms met ‘n pas-uit-die-stortpapnatkop op kantoor opgedaag het, was die skepper van dié vertaling.