Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.10.16

Volgende reünie ly nie skipbreuk

K’rant was Vrydagoggend skaars op straat toe Piet Ebersöhn laat weet het dat volgende jaar se Perskor-reünie gewis op die kalender is. Die borgskap vir die bymekaarkomslag is selfs reeds bevestig ook!

Piet, wie dit elke jaar gereël het en nou gaan verhuis, het laat weet dat niemand onvervangbaar is nie.

Die komitee in wie se bekwame hande die reëlings is, bestaan uit
  • Harald Pakendorf (voorsitter), 
  • Louise Blake en 
  • Margaret Lombard.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

17.10.16

Gert van der Walt oorlede

GERT VAN DER WALT is onlangs oorlede, het Gerhard Kleijn laat weet.

Hy was destyds betrokke by Hoofstad en Oggendblad se advertensieafdeling, waar sy broer die nuusredakteur was.

Gert en Tok Grobler het later 'n reklameagentskap begin en was verantwoordelik vir menige legendariese persuitstappies. Hulle het ook TV-reekse, soos Maak 'n Las, vervaardig.

13.10.16

Marius Janssonius oorlede

PIET PIENAAR skryf: Ek het ‘n foto van oud-Vaderlander Marius Janssonius in ‘n K’rant-berig opgemerk.

Marius is so drie jaar gelede oorlede. Hy het by sy dogter in Pretoria gebly. Hy het blykbaar, toe hy alleen tuis was, iets uit die swembad wou haal en vooroor in die water geval. Daar word vermoed dat sy hart gaan staan het. Dit was in die winter.

In 1988 het ek van Perskor na Sentrapers in Ficksburg geskuif. Marius was die bestuurder van die drukkery (wat voorheen aan hom behoort het.)

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

6.10.16

Strippers sit Mej Kaalbas op voorblad

PIET PIENAAR van Bloemfontein het laat weet dat hy baie bly is dat hy op ‘n dag Perskor geGoogle het en so op K’rant se spoor gekom het. Hy sê omdat hy in Kroonstad was, is slegs van die name wat hy op K’rant se webjoernaal sien vir hom bekend, behalwe Bennie Neethling en oorlede tannie Tienie Serfontein vir wie hy geken het.

Hy vertel ook wanneer hulle Perskor in Doornfontein uit die Vrystaat moes besoek, hulle so gou moontlik probeer wegkom het uit vrees dat hulle dalk vir mnr Koos Buitendag sou raakloop. Hy het gehoor mnr Buitendag “fire” sommer enigiemand wat lyk asof hy nie werk nie. Hulle het soms die Posteparade gaan haal of ink daar by Oom Frikkie Liebenberg (hy hoop hy onthou oom Frikkie se naam reg) gaan haal. Vegkop was darem ‘n skuilplek.

4.10.16

Nostalgiese verlange na die tegnologie

KARIN PRETORIUS skryf: K’rant se joernaalmeester, Japie Bosch, het onlangs na my Rhodesiese artikel verwys waarin ek skryf oor die moderne elektronika wat ons oudjoenaliste nie beskore was nie.

Dit het my herinner aan die troue van min PK van der Byl – minister van vervoer, krag en poswese in Zimbabwe-Rhodesië – met prinses Charlotte von Liechtenstein, op Vrydag 31 Augustus 1979 in Waldstein in Oostenryk.

Dit was een van die mees intensiewe en uitputtende artikels – geestelik en fisiek –wat ek nóg vir Rooi Rose moes skryf, hoofsaaklik vanweë die gebrek aan ‘n iPad, selfoon en die internet waarna Maureen Swart in haar interessante artikel ook verwys.