Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.6.12

Sensasie, seks en sies! in nuwe Sondagkoerant

GERHARD BURGER, oud-Transvaler-redakteur en vroeër sportredakteur van Die Vaderland, deel ’n rare vonds met K’rant se lesers.

Provinsiale rugbyspelers was betrokke by ʼn rooftog waarin ʼn klomp geld uit ʼn bank op die Kerkplein in Pretoria gesteel is.

Waar kry jy nou ʼn sterker hoofberig vir die eerste uitgawe van 'n nuwe
Sondagkoerant aan die Rand?

En dit is presies wat die redaksie gekry het wat Die Vaderland se Sondagblad op 8 Oktober 1961 persklaar gemaak het.

Dirk Richard was die redakteur. NP van Wyk Louw, Blaar Coetzee, Topsy Smith, Gert Kotzé, Len Cilliers, Victor Ivanoff en Bill Bosch het in daardie uitgawe bylines gekry.

Sondagblad se eerste uitgawe.
Hermie Hendriks het ʼn treffende artikel in Sondagblad se Tydskrif geskryf. Ook Martie Retief, Koos Liebenberg, Herman Snyman en Beaumont Schoeman, die politieke korrespon- dent, se name het bo-aan berigte gestaan.

Die geskiedkundige eerste uitgawe van daardie koerant kom nou die dag per pos hier aan; van ʼn lewenslange Nasperser nogal. Org Potgieter het begin skoonmaak, op die vergeelde Sondagblad afgekom en dit aangestuur.

Die hoofberig was die bankroofstorie: R165 100 van Volkskas is gesteel deur 'n stuk of agt manne, van wie minstens een ʼn Noord-Transvaalse rugbyspeler was. Geen name was toe al bekend nie, maar die ouer Perskormanne sal dalk onthou wie betrokke was.

Een van die aangrypendste berigte in dié koerant was oor "die opsienbarende ontugsaak" waarin Bevil John Rudd en Dotty Tiyo betrokke was. Die saak het "dramaties" geëindig toe die twee hulle aangemeld het om hul vonnisse van ses maande tronkstraf uit te dien.

Bevil John Rudd
"Hy (Rudd) het sy hande na Tiyo uitgesteek. Sy het dit in albei haar hande gegryp. Sy het dit gedruk en gestreel. 'Tot siens, John,' het sy geprewel."

Sensasie? Seks? Skandes? Smart? Sondagblad het nie teruggestaan nie.

Pieter Wapenaar het geskryf van Dingaka, wat in Johannesburg voor 'n blanke gehoor aangebied is.

"Onder die dekmantel van kuns en vermaak sien die gewaagdste toneelopvoering wat nog in Suid-Afrika op die planke gebring is, moreaand die lig, deur ʼn Bantoegroep in 'n blanke teater."

Dotty op Drum se voorblad.
Pieter, self 'n legendariese Perskorman, skryf van die "aantal Bantoevroue in uiters gewaagde en skamel drag" wat "suggestiewe seksdanse" uitvoer.

Daar is selfs ʼn foto van een van die dansers wat iets van die "wilde ritme" wys.

"Daar gaan groot bohaai wees oor hierdie nuwerwetse gewoonte om steeds meer en meer 'Bantoekuns' op te dis," voorspel die verslaggewer.

VROU MOET GESLEPE WEES

Ses “mooi nooiens” in eenstuk-swemdrag pryk op bl 5. Hulle was die finaliste in die Mej Lido-wedstryd op Umkomaas. En nie ʼn bietjie sexy nie!

Martie Meiring
Dirk Richard
Martie Retief het geskryf oor ʼn kenner wat sê: “Die vrou moet geslepe wees – as sy haar man wil behou.”

Dirk Richard, wat hom sekerlik aan dié stories verkneukel het, het op die HAB in sy rubriek geskryf oor “Die laaste keer ʼn Nat-Sap-eleksie.”

“In Afrika ruim internasionale magspolitiek sy laaste koloniale kolle op, maar die eerste hoofpyne van die vroegrype protégés is reeds daar,” het hy geskryf.

Langsaan, onder die opskrif “Ons opdrag”, staan onder meer: “In SONDAGBLAD het dr. Verwoerd en sy Regering ʼn bondgenoot, ʼn persvriend wat die weerklank van die wekroep, Suid-Afrika Eerste, luid in sy hart voel klop.”

Daar was ook ʼn Engelse rubriek deur Adam White (“an English-speaking South African writes what he likes”).

Maar die klem was elders.

In tradisionele Sondagstyl word op bl 1 berig: ”Seun (13) het glo meisie verwurg ‘vir opwinding.’” Darem in Amerika, maar sy naam word genoem: Steven Sloneger.

Op ʼn binneblad word berig van die vrou van Tzaneen wat ʼn koerant wou hof toe sleep. Dit was oor die plasing van ʼn foto wat sy geneem het toe die skoolhoof ʼn kleurbaadjie verbrand het “wat in die besit van ʼn Bantoeklonkie gevind is”.

Ook die koste van Isak David en Christina Jacoba van Niekerk se skeisaak het op bl 1 opslae gemaak: ʼn hele R50 000.

HARTROERENDE BERIG

In aanbou: 1961
Die hooffoto op bl 1 was ʼn kop-en-skouers oor drie kolom van ʼn treurige meisietjie van so vier jaar, Elsabie. Drie ander kinders van die gesin Pretorius van Balfour is aan ʼn seldsame bloedsiekte dood, skryf Koos Liebenberg in die hartroerende berig.

'n Ander sterk voorbladstorie was van die Sunday Times wat geweier het dat Sondagblad op sy vragmotors gelaai word. Daarom het die nuwe koerant op party plekke laat aangekom.

Een van die koerant se verslaggewers was die eerste buitestaander wat saam met die bouers bo-op die Hertzog-toring in Brixton gestaan het. Hy het ʼn mooi berig daaroor geskryf, maar nie ʼn byline gekry nie. (Regs: die Hertzog-toring nader voltooiing in 1961.)

Daardie naweek kon mense in een van omtrent ʼn dosyn veldflieks gaan kyk na The Seventh Voyage of Sinbad, Drums of Destiny, The Face of a Fugitive, The Bells are Ringing, The Student Prince en The Angel Wore Red.

Anders as moderne koerante wat kosbare ruimte aan halfblad-foto’s afstaan, het Sondagblad genoeg berigte en artikels gehad om 'n mens twee dae en twee nagte aan ‘t lees te hou. Die breëblad-hoofkoerant was 24 bladsye dik en die tydskrif, in tabletformaat, ook 24. Daarby was daar agt bladsye strokiesprente, ook in tabletformaat.

Dalk moet ons later na ʼn paar van die ander stories in daardie dag se koerant kyk, veral in die Tydskrif-deel.