Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Hanlie Vornberg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hanlie Vornberg. Wys alle plasings

19.12.23

Die Joodse Kersboom

HANLIE VORNBERG skryf:  Nou, terwyl ek die storie skryf, besef ek eers hoe besonder aktueel die tema op die oomblik is met al die probleme daar is Israel. 

Soos bekend, was daar 'n tyd hier in Europa waar mense van Joodse afkoms harde bene gekou het. Trouens, deur 'n Semitiese familielid êrens in die geslagregister te hê, kon die doodvonnis beteken.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Jode wat hier oorgebly het, óf Israel toe geëmigreer, of hulle bes gedoen om so gou soos moontlik by die res van die bevolking in te skakel. Talle was selfs bereid om hulle geloof prys te gee en hulle as Katolieke of Protestante te laat doop

7.11.23

Bernie, die kraai

HANLIE VORNBERG skryf: HULLE het oornag hier by ons in Wenen aangekom. Die groot swart kraaie. Met die koms van die herfs, is hulle elke jaar dié tyd, terug. Hulle kom al die pad uit Rusland om hier te oorwinter. Vanmôre het ek hulle hoor krys en gesien hoe die tamaai voëls heen en weer oor die huis vlieg.

Daar is 'n Oostenrykse boerewysheid wat sê dat wanneer die kraaie kom, dit tyd is om jou vuurmaakhout bymekaar te maak.

27.9.23

Treinry en ʼn nuwe rubriek

HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek ʼn kind was, was treinry vir my een van die lekkerste dinge wat daar was. Dit was ʼn kosbare ondervinding. Hoe anders was die treine van daardie tyd nie!

Ons het jaarliks tydens die wintervakansie in Junie, met die trein vir my oupa in George gaan kuier.

Dit was ʼn belewenis. Die lawaai van die stoomtrein, die roet in jou oog, die stank van die steenkool en die voortskommel en kantel van die waens. Dan was daar die reuk van die groen leerbekleedsel, die glinsterende houtwerk en die kondukteur-sleutel wat ratel in die slot.

31.8.23

Bier en mossels is 'n gevaarlike resep

HANLIE VORNBERG skryf:  IN 1858 was daar reeds agt verskillende koerant publikasies in die Kaap. Koerante is graag in klubs en in openbare plekke gelees en een koerant het dikwels deur baie hande gegaan. Ook die dames het reeds hulle eie blad gehad, die sogenaamde,
„Lady ́s Companion.“

Aangesien advertensies altyd die lewensbloed van die pers was, was daar ook in die ou Kaap geen tekort daaraan nie. Die adverteerders het van al hulle skeppende talente gebruik gemaak om die lesers se aandag te trek.

Sommige het met dekoratiewe illustrasies gewerk en andere het selfs sover gegaan om hulle advertensies as nuwe "stories" te kamoefleer.

3.7.23

Die slang in die brandewyn

HANLIE VORNBERG skryf: WAT vir my hierdie storie besonders interessant maak, is die feit dat ʼn voorvader van my hier ʼn rol gespeel het. 

My ouma was ʼn Kirsten uit Darling en oor dié betrokke familie bestaan heelwat geskrifte uit die ou Kaap. 

Johann Friedrich Kirsten, was in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en het voor 1740 uit Duitsland in die Kaap aangekom.

Hy was een van ʼn groep hardwerkende Lutheraanse ondernemers wat in die Kaap groot sukses behaal het.

16.5.23

Makassie

HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek destyds, twee-weekliks vir Rooi Rose my rubriek, Doodluiters, geskryf het, het Martie Snyman my ʼn vrye hand gegee en kon ek meestal self kies waaroor ek wou berig. Net soms het sy van haar kant af ʼn voorstel vir ʼn moontlike tema gemaak. 

Op ʼn dag het sy my na haar kantoor toe geroep en gesê: “Jy kom mos van die Kaap af, so skryf vir ons volgende keer iets oor die see.” Ons het groot respek vir Martie Snyman gehad. Was selfs ʼn fraksie bang vir haar. As sy met daardie blink olyfswart oë van haar vir jou gekyk het, het jy mooi geluister en reg getrap. 

22.4.23

Elisabeth van Oostenryk in Korfu

HANLIE VORNBERG skryf: Nadat ek Piet Ebersöhn se twee interessante berigte oor sy nuwe blyplek, Korfu, gelees het, het ek skeilik onthou dat daar 'n interessante verbinding bestaan tussen Korfu en Oostenryk.

Dit is die paleis Achilleion, sewe kilometer suid van die stad Korfu. Elisabeth,die Keiserin van Oostenryk en Hongarye, het dit in die jare 1890 tot 1892, vir haar laat bou.

Keiserin Elisabeth, genoem Sisi, was die vrou van Keiser Frans Josef I wat van 1848 tot sy dood in 1916 oor die Oostenrykse Ryk regeer het. Elisabeth was uit die Duitse adelsgeslag Wittelsbach en was aan die Habsburgse keiser verwant.

19.3.23

Oor babas, troeteldiere en koerantsirkulasie – veral troeteldiere

HANLIE VORNBERG skryf: EK het gesien op die foto’s wat die K`rant-skrywers ingestuur het, was baie met hul troeteldiere afgeneem. 

Toe Hermie Hendriks destyds vir ons in die joernalisteskool "Human Interest"-stories verduidelik het, het hy gesê: Plaas 'n baba op die voorblad en jou sirkulasie styg. Plaas 'n baba en 'n hond op die voorblad en jou sirkulasie skiet die hoogte in. 

Ek sien die klomp is maar huiwerig om te skryf ... kom ons rook hulle uit met 'n storie oor troeteldiere! 

Van die lekkerste stories wat ‘n mens dikwels hoor, het met mense en hulle diere te doen. 

1.3.23

Besoek aan die bank

HANLIE VORNBERG skryf: HULLE sê jy praat nie oor geld nie, jy HET dit. Of jy praat nie oor geld nie, jy GEE DIT UIT! Vanoggend wil ek onverfynd wees en die reël oortree en vertel oor die besoek wat ek onlangs by my plaaslike bank gehad het. 

Ná ʼn huwelik van bykans veertig jaar, was ek daaraan gewoond dat Richard al ons geldsake behartig het. Ná ons egskeiding, waartydens hy gelukkig 'n gentleman was en my nie finansieel benadeel het nie, moes ek begin om al my sake alleen te hanteer. 

Veral wat die geldsake betref, het ek gevoel soos ʼn donkie op 'n ysskaatsbaan.

18.2.23

Hanlie herleef die wonder van die boom en die Appelvrou

HANLIE VORNBRG skryf: IN die tuin van die huis wat ons drie jaar lank in Kopenhagen gehuur het, het ’n ou appelboom gestaan. Die boom was oor die honderd jaar oud en so hoog soos die dubbelverdieping self. Elke laatsomer, tot diep in die herfs, het die boom in drag gestaan. Swaar en mat soos 'n markvrou met arms vol appels. 

Die takke het in hulle oorvloed af aarde toe gebuig en ons het op ons tone gestaan en gepluk en gepluk. Soms het ons op 'n leer geklim om in die hoogste toppe by te kom maar die boom wou net nooit kaal word nie! 

Wanneer die herfswinde begin waai, het van die appels afgeval en oor die hele grasperk gerol waar sommige verrot en ander deur die slakke toegetakel is. 

28.11.22

Die grot met die pikante naam!

HANLIE VORNBERG skryf: EK versamel graag ou Africana-boeke en veral die stories uit die Ou Kaap is ʼn voorliefde van my. Sommige daavan is so kostelik dat ek dit graag met die K’rant-lesers wil deel. 

Een daarvan is die storie oor die grot in Vishoek wat vandag bekend staan as Peers se Grot. Die grot is in 1926 vernoem na Victor Stanley Peers (1874 – 1940) en sy seun, Bertie, wat die skedel van die sogenaamde Vishoekmens, ongeveer 12,000 jaar oud, tydens opgrawings, daar gevind het. Voor dit was die grotte bekend as die Skildersgatgrotte. Die grotte het egter nog lank voor dié naam, 'n ander meer pikante naam gehad!