Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Maureen (Heyl) Swart. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maureen (Heyl) Swart. Wys alle plasings

6.2.22

Die Rooi Roos blom weer

MAUREEN SWART skryf (In aansluiting by “‘n Droom aan skerwe.” (6.9.20)): Eens op ‘n tyd was daar rakke en rakke tydskrifte by die betaalrye in winkels, met die tydskrifte sardientjie-styf-teen-mekaar uitgestal. Totdat Covid-19 meegebring het dat ‘n swetterjoel tydskrifte in 2020 skielik moes toemaak, sommige letterlik oornag. 

 Vir ‘n rukkie was daar nog eksemplare uitgestal, maar geleidelik het hulle al hoe minder geword. Winkeliers het op allerlei maniere probeer om die bedroewende groot spasies tussen die tydskrifte te verdoesel, maar desnieteenstaande het dit naderhand gelyk of tydskrifte hul eie soort sosiale afstand toepas. 

6.9.20

'n Droom aan skerwe

MAUREEN SWART skryf: Selfs nou nog, maande ná die nuus dat Rooi Rose se deure gesluit het, is ek steeds verslae. 

Hene, vandat ek kan onthou, was Rooi Rose deel van my lewe. Nou het Covid-19 meegebring dat hierdie ikoniese tydskrif, saam met 'n hele rits Suid-Afrikaanse tydskrifte, moes toemaak.

Aangesien Rooi Rose grotendeels by Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) begin wortel skiet het, het ek so 'n bietjie in Rooi-Rose se (verre) verlede gaan snuffel.

Rooi Rose is deur 'n man begin -- deur die baie bekende skrywer, Mark Preston. Dit was nie sy regte naam nie, maar die skuilnaam van Hendrikus Potgieter. Sy droom was om 'n vrouetydskrif te publiseer. 

20.11.19

Hoeveel kos iets moois?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Terwyl ek navorsing vir 'n storie oor Brixton gedoen het, het ek ook deur K'rant gesnuffel en onder andere huldeblyke aan Kittie Vermaak gelees.

Dit het my baie hartseer gemaak. Nie net omdat sy nie meer met ons is nie, maar ook omdat ek ten tye van haar dood nie daarvan geweet het nie en dus nie haar begrafnis kon bywoon nie. Die rede hiervoor is dat ek toe nog nie met K'rant kennis gemaak het nie.

Nou wil ek graag 'n laat huldeblyk aan haar bring. Kittie was vroueredaktrise van Die Vaderland terwyl ek in die vroeë sewentiger jare hofverslaggewing gedoen het.

5.11.19

Nagmerrie in Twiststraat

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Wat ís dit tog met Hillbrow dat ons hom nie kan uitlos nie en hy ons nie wil laat gaan nie? Net toe ek gedink het dat alles wat daar oor die "Brow" te sê is, reeds gesê is, was Karin Pretorius se heerlike en interessante storie in K'rant.

Helaas, hierdie eens geliefde voorstad het 'n plek geword om te vrees. Hóór deesdae net die naam, "Hillbrow," en alarms begin in jou kop skree: GEVAAR! BLY WEG!

Daar is oorbevolking, erge armoede, baie van die geboue, 'n swetterjoel daarvan gekaapte plekke, is in so 'n vervalle toestand dat dit lewensgevaarlik is om daarin te woon en elke soort misdaad onder die son vier in hierdie woonbuurt hoogty.*1)

9.10.19

Bloeddorstig in Brixton

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In heelwat K'rantstories word daar na die Brixton‐polisiestasie*1) ‐‐ alombekend as die Brixtonse moord‐ en roofafdeling ‐‐ verwys, asook na die Brixton‐blitspatrollie en die voorstad self. Sommige kollegas het in Brixton of omgewing gewoon, soos dinamiese en geliefde Kittie Vermaak, wat 'n huis in Putneyweg gehad het. Boonop was Perskor in 'n stadium skaars 'n klipgooi van hierdie gewilde woonbuurt af geleë en baie van ons het seker ook jare lank ons inkopies by die destydse OK Basaar ‐‐ ai,waar is daardie dae? ‐‐ in Highstraat gedoen.

Dus moeilik om te glo dat hierdie einste voorstad eens deel van een van die bloedigste gebeurtenisse in Suid‐Afrika se geskiedenis was. So gewelddadig was dit dat ons land op die randjie van 'n burgeroorlog gestaan het.

1.3.19

'n Nagmerrie-vlug

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: In sy storie, Pretoria se Viole Galm in Kimberley, verwys Piet Ebersöhn na die SAL.

Frans du Toit
Dit het my laat dink aan die dag toe ek en 'n fotograaf na die Lughawe Jan Smuts (soos dit nog in die vroeë sewentigs bekend gestaan het) moes uitpiekel vir 'n foto van 'n groep nuwe SAL-waardinne, wat dié dag hul vlerkies sou ontvang.

Frans du Toit het die foto één fronsende kyk gegee en gesê: "Hulle sal van vlieg 'n nagmerrie maak."

11.2.19

Verrassing die bloedbroer van skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n K'rantstorie wat my baie lekker laat lag het, was "Philip voorspel die sterre". As hy steeds Die Sterre Voorspel geskryf het en as dié "Sterre" dálk nou die dag vir my 'n gróót verrassing "voorspel" het en ek dálk een van die diereriem‐bygelowiges was, sou ek dadelik katvoet beweeg het. Want sowaar as vet, 'n verrassing is partykeer niks anders as die bloedbroer van skok nie. Maar in dié geval? Wel, laat ek maar sê dat ek nou met 'n meer optimistiese oog na verrassings kyk.

Want nog skaars het ek Piet Ebersöhn se gesprek met Hermie Hendriks (1/3) weer gelees ‐‐ waarin Hermie onder meer oor Piet Meiring gesels ‐‐ of een van die laasgenoemde se boeke het asof met die klap van 'n vinger in my hande beland! Dit het só gebeur:

15.10.18

Geheimsinnig in die skeihof

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Hofstories darem! Wyle Johann Britz se vertelling van sy ervaring in die Paleis van Justisie tydens die Vontsteen‐moordverhoor, het my laat terugdink aan sommige van die dinge wat in my hofverslaggewersdae met my gebeur het. Vat nou maar die keer toe 'n geheimsinnige joernalis se pad in die Johannesburgse hooggeregshof met myne gekruis het. In die skeihof, om presies te wees.

Die jaar was 1971, en in die Johannesburgse hooggeregshof het skeisake destyds op Woensdae voorgekom. Die Vaderland het 'n bladsy daaraan afgestaan. Die hooggeregshof‐verslaggewer was Jan Hoeksema (ook al aan die ander kant) en my turf was die landdroshof. Maar dié Woensdag moes Jan 'n ander hofsaak bywoon en ek moes vir hom in die skeihof instaan. Dit sou my vuurdoop in die hooggeregshof wees.

23.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel III van III)

Hillbrow se brandweer was eerste in Goudstad 

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In Johannesburg se beginjare was die uitbreek van brande 'n yslike kopsorg, want hoewel die Goudstad al vanaf 1889 elektrisiteit gehad het, is paraffienlampe vir beligting gebruik. Boonop was die boumateriaal in die delwerskampe hoogs vlambaar ‐‐ hout, grasdakke, seil. (Vir vertroosting en versterking was daar whiskey; vlambaar in meer as een opsig.) Brandweerstasies moes gebou word en een van die eerstes was die Berea‐brandweerstasie, wat in 1910 opgerig is. Sy amptelike naam was eers die Noordelike Distrikte‐brandweerstasie Hillbrow, maar die Hillbrowiete het dit die Hillbrow‐brandweerstasie genoem. Aanvanklik is brandweerwaens deur 'n span perde getrek. Die Pophuis is die oudste funksionerede brandweerstasie in Jozi en is in 2011 tot nasionale monument verklaar.

22.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel II van III)

Perskebome het op Hillbrow se sypaadjies gegroei

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Een van die eerste huise wat in Hillbrow gebou is,*3) was in Van der Merwestraat, tussen Quartz‐ en Claimstraat. Die eienaar was RJ Nicholas. Die huise het tuine/tuintjies gehad en vreemd soos dit nou mag klink, was daar toeka se tyd glo perskebome langs die Brow se strate. Daar was ook die dae van stowwerige grondpaaie in 'n tyd toe Johannesburg se eerste openbare vervoermiddel trems was, wat deur perde getrek is. Twiststraat was deel van die roete. (Oor die stegies en nagwaens sal ek liewer swyg.) Die bome is hoeka al deur beton en die mens verswelg, maar een van die eerste ou huise ‐‐ op die hoek van Van der Merwe‐ en Quartzstraat ‐‐ klou nog aan die lewe vas. Ek het byna elke dag daar verbygeloop, maar dié arme ou plekkie is nou al erg opgekrok. Onder vervloë dae se Hillbrow‐inwoners was bekende name:

21.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel I van III)

Hillbrow was doerie jare soveel van ons se tuiste en speelplek. Maureen Swart dink ook met groot nostalgie terug aan die “goeie” ou dae in Hillbrow. Sy het deeglik navorsing oor die Brow gedoen en deel dit met ons oor drie aflewerings. Vandag is die eerste hoofstuk. Terloops, die verwysingsbronne kom aan die einde van die laaste aflewering.

Hillbrow met al sy nostalgie herroep

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Spyt kom altyd te laat. Dit besef ek vir die ontelbaarste keer in my lewe toe ek 'n foto van die Berea‐brandweerstasie op Google sien. Op die hoek van Mitchell‐ en Banketstraat, en op die grens tussen Berea en Hillbrow, staan hierdie brandweerstasie.

Terwyl ek in Hillbrow gewoon het ‐‐ 'n sug van nostalgie ‐‐ was dié gebou dikwels op my staproete vir oefening, baie lank voordat Fitbits die lewenslig aanskou het. Dan het ek met die onkundige ongeërgdheid van 'n jongmens gedink: "Cute" plekkie; dit lyk soos 'n pophuis. Min wetende dat dit inderdaad Die Pophuis genoem word, omdat die boustyl dit die voorkoms van 'n pophuis gee. Eers 'n leeftyd later het ek geleer ('n mens is nooit te oud om te leer nie) dat die boustyl nogal 'n mondvol is: Neo‐barok‐Edwardiaans.)
Nou hoe pas spytigheid in die prentjie?:

13.6.18

Die wraak sou soet wees


MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Met verwysing na Gert van Rooyen se amusante brokkie oor subs (klik HIER) , van my kant af ook 'n bydraetjie: Soos honderde joernaliste vóór my en honderde ná my, moes ek ook in my kuikendae deur die smeltkroes van vertaalwerk gaan. Daai Sapa-berigte wat so onophoudelik en genadeloos uit die teleksmasjien gestroom het.

Een oggend kry ek met 'n beriggie te doen wat wemel van die Engelse woord, "maritime." Dit was"maritime" voor en "maritime" agter. Al te verskriklik.

23.5.18

As ek tog maar ouer was!

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Liewe land! Watse soort wensdenkery is dié tog? Het ek nou kluts kwytgeraak, of wat?

Maar hokaai! Dit beteken nie dat ek die horlosie wil aanskuif en my ouderdom noordwaarts wil stuur nie. So nooit as te nimmer nie! Dit gaan eintlik daaroor dat ek in my verslaggewerdae heeltemal te jonk en onkundig vir party stories was. Jonkdom. Miskien sou dit tot my voordeel gewees het as ek op 'n gegewe tydstip ouer was as wat ek was, met meer lewenservaring.

16.5.17

Van plaaswerf tot paleis

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n Mens is nooit te oud om te leer nie, het ek opnuut besef nadat ek Japie Bosch se artikel, Perskor was g'n in Aucklandpark (klik HIER), gelees het.

Hy skryf dat die ou Perskor-gebou in Braamfontein-werf geleë was, en nie in Aucklandpark nie. Dit het ek nooit besef nie, ten spyte daarvan dat ek 23 jaar lank in Aucklandpark gewoon het! Ek het sommer dadelik met nuwe oë na die padkaart gekyk.

16.3.17

Feniks verrys uit die as

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Gert van Rooyen se lekkerlees-herinnering aan Hillbrow het my aangespoor om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi oor Hillbrow en omgewing, in 'n tyd wat la-a-nkal saam met die stof oor die Goudstadse mynhope weggewaai het.

Ek kan dit nie glo nie, dis byna vyftig jaar gelede dat ek ook die voorreg gehad het om in hierdie hoë-oktaan-voorstad te kon woon. Maar dit voel soos gister. En vir my, as dorpsdogter, was dit een van die wonderlikste belewenisse van my lewe - mense soos miere in die veilige strate, enige tyd van die dag of nag. Eetplekke en winkels wat deurnag oop was.

(Aangesien Gert en ander joernaliste reeds oor heelwat van die landmerke geskryf het, gaan ek nie oor almal uitbrei nie.  Gert se storie is HIER.)

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.

21.9.16

Johann se dood skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek was baie geskok toe ek vanoggend van Johann Britz se dood lees, en baie hartseer. Een van ons pelle in die joernaliste-skool.

My innige simpatie aan sy familie en vriende.