Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Redaksie


PIET EBERSÖHN:

Die vader van K'rant.  Hoewel hy nie meer amptelik deel van K'rant is nie, hou hy steeds 'n oog en sal moontlik weer sy akliwiteite hervat.

Piet het die grade BA en BA (Honns) en die Universiteitsonderwysdiploma aan die destydse P.U. vir C.H.O. behaal, en later ’n M.Phil (Joernalistiek) aan die U.S. Dié het so lank geduur dat die Maties hom later laat weet het hy moet òf klaarmaak òf Springbok word. („Toe begin jy oefen?” het Wim van der Berg gelag toe hy dit hoor.)

Hy het op 6 Januarie 1975 as vertaler onder oom Mac McDonald by Die Transvaler van Willem de Klerk in Aucklandpark ingeval, later ook sub en toe hoofsub geword in die nagkantoor onder Peet Simonis, Mike van Niekerk, Frik van der Walt en Dave Viljoen.

Hy het voorts ’n draai as landbou- en verbruikersverslaggewer in die finansiesredaksie onder Johan Moolman gemaak.

Daarna het hy by die maatskappy Interad aangesluit en was hy opeenvolgens redakteur/skakelbeampte van die Transvaalse Landbou-unie en toe die S.A. Landbou-unie. Hy en vier vennote (onder wie nog ‘n oud-DT-man, Johann van Zyl) het die koöperasietydskrif SA Koöp gestig, wat hulle later aan Schalk Hoogenboezem verkoop het.

‘n Poging om self ‘n koerant, Akasia, in Pretoria noord van die Magaliesberg uit te gee, het na iets meer as ’n jaar doodgeloop en hy is terug Transvaler toe, as spesialis-verslaggewer onder Gerrit Velthuizen en later Gerhard Burger se redakteurskap.

Met die koerant se sluiting was hy hoof van die Pretoriase kantoor.

Toe Perskor Noord-Transvaler Metro, met Frans Aucamp as redakteur, in Pretoria opgerig het, het hy sport-en promosieredakteur van die nuwe koerant geword.

Die afgelope 15 jaar werk hy vir ‘n skakel- en promosiemaatskappy in Pretoria.


---------


 

JAPIE BOSCH: 

Hy hanteer die instandhouding en tegniese versorging van K’rant.

Hy het een jaar skoolgehou voordat hy in 1970 by Die Vaderland begin werk het. Het 'n BA en 'n hoër onderwysdiploma.

Sy eerste “beat” was Noordoos-Randse Verteenwoordiger. Randburg was toe ‘n kleuter en Sandton het pas ‘n naam gekry. Hierop was hy munisipale verslaggewer vir 'n paar jaar.

Tussendeur het hy ook oor die politiek verslag gedoen.

Aan die begin van 1975 het hy Douglas Jones as nuusredakteur opgevolg. In 1979 was hy parlementêre verslaggewer.

Intussen het die rekenaargogga hom gebyt en was hy twee jaar lank rekenaarbestuurder by 'n versekeringsmakelaar.

In Januarie 1981 het hy by die Navorsingstak van Johannesburgse Stadstesouriersafdeling aangesluit. Ses jaar later is hy as uitvoerende hoof na die Instituut van Munisipale Tesouriers en Rekenmeesters (vandag: Institute of Municipal Finance Officers) gesekondeer.

In 1999 is sy sekondering herroep, maar die stadsraad het nie mooi geweet wat tóé om met hom te doen nie. Hy het in 2002 afgetree.
Japie en sy vrou, Myra, bly  in Jeffreysbaai. Hulle het ‘n dogter in Pretoria en twee seuns in Johannesburg.

Hy hou hom besig met die genealogie, die skryf van sy familiegeskiedenis en voortspruitend daaruit die herstel van ou foto’s op sy rekenaar. Voorts skryf hy webjoernale vir ‘n paar instansies. Nou en dan skryf hy vir die plaaslike koerante oor munisipale sake.

 ---------