Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.6.12

Emerentia kuier met ’n besonderse tante

EMERENTIA HUTTEN-BURGER kon nie vanjaar die reünie bywoon nie, omdat sy met ‘n besonderse tante gaan kuier het. K’rant het haar gevra om meer van die kuier en die tante te vertel. Sy het laat weet:

Kortweg: Ek het vandag by my tante dr. Irma Vermeulen, argitek, skrywer en dogter van die argitek van die Voortrekkermonument, Gerard Moerdijk, asook my neef Gerard en sy vrou, Dorette, by die Moerdijkhuis (wat nou ’n historiese gastehuis is) gekuier.

Links: Emerentia Hutten-Burger en haar tante, dr. Irma Vermeulen.

Tannie Irma het onder meer vertel hoe die gewese premier van Israel, David Ben Gurion saam met haar pa Gerard deur die Voortrekker-monument gestap het en hom toe gevra het om ’n soortgelyke monument in Jerusalem te bou omrede die eenderse geskiedenis van die volk van Israel en die Afrikaner. Golda Meir, ook ’n gewese Israeli-premier het dit stopgesit uit die oortuiging dat geen „afbeeldingsˮ toelaatbaar is nie.

Op die suidwestelike muur van die Voortrekker-monument word tannie Irma se moeder , Sylva Moerdijk, uitgebeeld waar sy wys dat die Voortrekkervrou „eerder barvoets oor die Drakensberg sou trek as om in slawerny te leef”. Haar vader, Moerdijk self, word op die noordwestelike muur uitgebeeld as bouer van die geloftekerkie. Tannie Irma self en haar suster, Sylva (Heath), word as twee meisies op die suidoostelike muur – sover haar geheue strek.

Dr Irma Vermeulen is ook skryfster van verskeie historiese romans – veral na haar aftrede as hoof-argitek van die stad Bloemfontein.

KykNet het onlangs ’n program oor Irma Vermeulen en Gerard Moerdijk gebeeldsend en die familiegeskiedenis word gedramatiseer in haar onderskeie boeke (en die van haar niggietjie Irma Joubert) – van Jacqueline Joubert as goeweneursgasvrou in die Kaap af, die De Wets, Moerdijks (ook spesifiek in haar boek „Man en Monumentˮ), Jan van Riebeeck se kleindogter, die Van der Stels, en andere.