Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.6.12

Ai, dit onthou so lekker… !

MARIUS DU PLOOY, Die Transvaler-man in die jare sewentig, laat die gedagtes ver teruggaan.

Dis so lekker om weer jonk te kan voel saam met die jong onthoue.

As student op die Goudstadse Onderwyskollege het ek vir Die Transvaler
en Die Vaderland beriggies begin skryf en baie goed gevoel met my eerste „bylineˮ en nogal met die woord „korrespondentˮ daarby!

’n Paar jaar later was dit hierdie verbintenis wat gehelp het om die pad oop te maak om by Radio Nederland as omroeper/verslaggewer te gaan werk. Terug in die land het ek heeltyds by Die Transvaler begin werk met dr. Wimpie de Klerk as redakteur en Willie Buys as nuusredakteur.

Dis die tyd toe dít wat ek geweet het, baie minder geweeg het as dit wat ek gedínk het ek weet. Maar ek het vinnig geleer moet goeie leermeesters.

Van die lekkerste tye was die saam met Lou Henning in informele dinkskrumsessies hou oor die volgende dag se spotprent.

My (en waarskynlik baie ander jonges) se nagmerrie was oorle' Mike van Niekerk. Ek onthou nog daai Sondag toe hy ’n berig oor iemand se skandaal vir my teruggooi: „Dis sommer ‘n %$# storie. Ek wil weet of die man ’n ouderling of iets was. So iets gee ’n storie knaters!”

My lekkerste berig was van die reuse-Premier Rose-diamant, nadat ’n informant die storie aan my gelek het. Ek het juis nou die dag deur ‘n paar van die berigte wat ek bewaar het, geblaai...

Ek is deesdae vryskutomroeper by Radio Tygerberg in die Kaap (500 000 luisteraars), redakteur van die radio se 52-bladsy-glansmaandtydskrif, Indruk, met100 000 lesers en ek vervaardig nog TV-programme en korporatiewe video's en is ook nog besig met skakel- en advertensiewerk vir enkele maatskappye.

Aftree? Nooit!