Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.14

Komkommers moet geskil word

K´rant se redaksie gaan van more af hard aan die werk spring om komkommers te skil en sal ongelukkig nie vir die versorging van enige nuwe bydraes beskikbaar wees tot in die nuwe jaar nie.

Dit gee al die oudwerknemers van Perskor oorgenoeg geleentheid om oor die vakansiedae rustig te besin oor stories wat hulle vir K´rant wil skryf. Skryf dit asseblief, maar hou dit op die ys tot so rondom 12 Januarie 2015 wanneer die komkommerseisoen op sy einde kom.

Lekker ontspan, prop die batterye vol energie vir die jaar wat voorlê en kom veilig tuis!

10.12.14

Lekker om K´rant te ontdek

ANINA ROUX skryf: Lekker om K'RANT te ontdek en stories te lees van mense saam met wie ek eers by Hoofstad en later by Rooi Rose gewerk het.

Groete en beste wense vir die Feestyd

(Foto van Anina uit Perskorhaan, Mei 1972.)

9.12.14

Fanie Hattingh is oorlede

FANIE HATTINGH, gerekende sub by Die Transvaler in die jare sewentig en later, is sowat vier maande gelede onder moeilike omstandighede oorlede.

DU PREEZ MARTINS het laat weet dat Fanie na 'n kort siekbed in die Baragwanath Hospitaal oorlede is. Hy het ten tye van sy dood sonder vriende of familie in 'n tehuis vir armlastiges gewoon.

Fanie was geskei en het tweeling dogters gehad. Niemand weet of hulle kontak met hulle pa gehad het of eens weet dat hy oorlede is nie.

Fanie het ook boeke geskryf. Die slegte tyding oor Fanie en sy dood het juis na vore gekom toe Gert Basson, wat aan 'n uitgewery in Swellendam verbonde is, na Fanie begin navraag doen het omdat hulle een van Fanie se speurvehale wou heruitgee.

(Indien enigiemand weet waar Fanie se dogters hulle bevind, laat weet asb. - Red.)

5.12.14

Karin onthou vir Koos Doep

KARIN PRETORIUS skryf: Ek kuier onlangs by ‘n oud-Tukkievriend, Douglas Davis en sy vrou Heloise op Stellenbosch en ons blaai deur sy fotoalbum. Ons staan vir ‘n oomblik stil by sy Koos Doep-foto’s.

Douglas was ‘n groot deel van sy loopbaan in Maties se skakel- en publisiteitsafdeling werksaam. Hy het ook later jare as Universiteit Stellenbosch se woordvoerder opgetree en sal onthou word vir sy TV-onderhoude waartydens hy met gesag oor Perskor se eie joernalis en liedjieskrywer, Koos du Plessis, gesels het.