Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.6.12

Koud-koud kry Japie toe sy witwarm "scoop"

JAPIE BOSCH vertel hoe hy in 1973 een van die grootste politieke “scoops” van die tyd -- Marais Steyn, die Transvaalse leier van die Verenigde Party, se oorstappery na die Nasionale Party -- amper misgeloop het, omdat dit koud was. Boonop het die storie sy ontstaan gehad toe Jaap de Villiers, ‘n ses voet ses miljoenêr, gedreig het hy gaan hom “doodslaan”.

Dié betrokke aand in September 1973 het Jaap my so teen elfuur gebel. Ek onthou nog my telefoonnommer was 31-1715. “Onthou jy, ek het jou ‘n groot storie belowe? Kom nóú na my toe (in Northcliff), dan vertel ek jou.

Dis was vrekkoud en ek het Jaap mooi laat verstaan uit die bed uit klim ek nie. Hy wou niks weet nie. My volgende verskoning is toe dat ek besig is om siek te word en die koue gaan dit vererger.

“As jy nie wil kom nie, dan stuur ek my bestuurder om jou te gaan haal,” het Jaap aangedring

Lepellê moes ek maar prysgee en ek is weg in my oranje Volksie – vir volk en Die Vaderland.

By sy goed-ingerigte kroeg het Jaap eers praatjies gemaak en ‘n dop gegooi. “Ons het iets om te vier.”

Jaap was ‘n kleurvolle karakter, soms flambojant. Met sy joviale persoonlikheid, groot bou en sakevernuf het hy mense om sy pinkie gedraai. Ek was vas onder indruk hy wil een of ander storie vir publisiteit aan my afsmeer.

Links: Marais Steyn sluit by die Nasionale Party aan. Langs hom is Jack Steyl, die NP se sekretaris in Transvaal. (Foto: Die Verenigde Party – die groot eksperiment.)

“Marais Steyn stap more oor na die Nasionale Party,” sê hy uit die bloute. “Ek het gereël dat jy die storie eerste kry.”

Ek het dit nie juis kop toe gevat nie. Die VP in Transvaal het daardie tyd deur erge troebelwater gegaan, nadat Marais die vorige jaar deur Harry Schwarz as leier onsetel is. Die VP-politiek was rooiwarm. Amper elke dag is oor elke Sap wat in tel was se bewegings en woorde gerapporteer.

Die volgende dag sou die VP se Transvaal-kongres by die Sunnyside Park Hotel in Johannesburg begin. Ek het gedink Jaap praat maar eers bietjie politiek om my sag te maak vir die publisiteit wat hy wil hê. Dit was in elke geval vergesog dat “sir De Villiers Graaff se linker- en regterhand” na die Nasionale Party sou oorstap.

“Jy glo my nie, né? Laat ek hom bel, dan praat jy self met hom. Ek bel hom by dié telefoon (by die kroeg), dan luister jy by daardie telefoon (op die buffet in die eetkamer).

Jaap se eerste woorde onthou ek soos gister: “Naand Marais, hoe voel jy nou?”

Ek kon glo wat ek hoor nie. Marais het als bevestig.

Die groot vis (Marais Steyn) wat weggekom het. -- T.O.Honiball.
Ons het gereël dat ek en Jaap hom die volgende oggend sewe-uur by sy woonstel in die rykmansbuurt, Killarney, sou kry, maar “geen fotograaf nie”, het hy gevra.

Skielik was dit meer koud nie en ek en Jaap het kopstukke gepraat.

Vroegoggend was ek by die kantoor. Ek het nuusredakteur Tom Buys gevra om ‘n strokie vir ‘n persmotor te teken. “Waarvoor?” het hy kortaf geblaf, want ek en hy het die vorige dag ‘n onderonsie gehad. “Ek gaan die “scoop’ van die jaar haal,” het ek ontwykend geantwoord. Toe ek sien ons gaan tyd mors met redekawel, het ek hom van die storie vertel, maar ek kon sien hy het getwyfel of ek die waarheid praat.

Ek en Jaap het saam-saam by die woonstelgebou aangekom en saam by die voordeur geklop.

Dit was aardig om dié bekende en skerp politieke figuur wat ek nog net altyd op ‘n verhoog in ‘n das en pak gesien het in sy slaapklere, japon en pantoffels te ontmoet. Toe verstaan ek hoekom hy nie wou ek hê dat ek ‘n fotograaf moes saambring nie.

Marais het koffie gemaak en ons het ons praat met die sluk daarvan gepraat. Hy het gesê ons kan nog die storie dieselfde dag plaas, want hy gaan dit in elk geval die middag by die VP-kongres aankondig. “Moet net nie die koerant voor my toespraak by die hotel beskikbaar stel nie.” Daaraan het ek my gesteur nie, want ek versprei nie die koerant nie en boonop weet nie een van ons hoe laat hy gaan praat nie. Daarbenewens: ‘n “scoop” is ‘n “scoop”.

Terug by die koerant in Aucklandpark het ek Dirk Richard op die platdak van die gebou sien staan toe ek uit die motor klim. Ek kan nie sê dit is so nie, maar ek vermoed hy het my ingewag, want hy het sy een duim in die lug gedruk asof hy gevra het: “Het jy dit storie?” Ek het duim-op bevestig.
Die aanloop tot dié verhaal was ‘n paar maande vroeër toe Jaap ‘n ou mynkampong in Albertville, Johannesburg in ‘n woonkompleks, Villa Barcelona, omgeskep het. Die middag van die amptelike opening, het Jaap Die Vaderland teen huis-toe-gaan-tyd om 16:00 gebel en “almal” genooi. “Gaan sê vir Marius Jooste hy’s ook genooi,” het hy gesê. “Hier’s alles van alles. Kom hou “party’”.

‘n Paar verslaggewers het die geleentheid benut. Jaap was in sy skik met ons teenwoordigheid. In ‘n stadium het hy by my gespog dat hy die kompleks laat restoureer het sonder goedgekeurde munisipale planne.

Regs:  Die pyl dui die ligging en omvang van Villa Barcelona aan.  Regs is 'n deel van die Wespark-begraafplaas, Johannesburg.

As munisipale verslaggewer het ek die storie opgevolg. Daardie middag lees Jaap toe dat hy vervolg kan word pleks van sy verwagte gratis advertensie.

Dieselfde middad het Jaap my gebel, maar ek was nie daar nie. Buks Pietersen het geantwoord.  Jaap vertel hom toe dat hy my gaan dood*&^# as hy my in die hande kry.  Met my terugkoms het Buks my allerhande bangmaakstories oor dié "gevaarlike man" vertel. 

‘n Klompie maande later het ek en my vrou een aand ‘n atletiekbyeenkoms by die RAU-stadion bygewoon. Daar loop ek toe teen Jaap en sy mooi Spaanse (so ver ek onthou) vrou vas.

Met sy twee yslike hande op my skouers het hy ses duim oor my uitgetoring en gesê: “Jou #$@%&!, ek soek jou.”

Ek het my lam geskrik. My vrou se oë was pieringgroot.

“Ek sê jou wat doen ons nou,” het hy dreigend gesê. Bring jou vrou en kom drink koffie by ons.”

Ons het lekker gekuier en sedertdien het ek en Jaap ‘n vriendskap gehad.