SIPKE DE VRIES skryf: ALLEREERS moet ek julle gelukwens met die blog wat julle uitstuur -- 'n baie professionele stukkie werk, hoor!
Sover dit jou (Piet Ebersöhn) uitnodiging betref om na die Engelstalige sy van oud Perskor-slawe te kyk, moet ek aanvanklik bietjie terugstaan. Ek is wel bly dat jy my Engels wou laat skryf of miskien sub omdat ek al die afgelope 37 jaar uitsluitlik Engels skryf, maar dit is op die oomblik vir my onmoontlik.
Die redes is dat ek nog voltyds vierkant in die joernalistiek staan – buitelandse redakteur van Sapa. (Ek hoop naamlik om my beoogde doelwit, 50 jaar in hoofstroomjoernalistiek, in Februarie volgende jaar te bereik.) Terloops, my kollega John Simpson van die BBC in London het dieselfde ambisie, maar hy is 8 jaar agter my.