GERT VAN ROOYEN, koerantman en akademikus, skryf: DIE
afgelope maand is daar twee groot bome in die Perskor-bos gekap toe éérs
Philippa Breytenbach en toe David van Rooyen oorlede is.
PHILIPPA BREYTENBACH is op 4 September aan ʼn
hartdefek in Johannesburg oorlede, drie dae voor haar 90e verjaarsdag. Sy het grootgeword
in Frankfort en Alberton en in die Lambton-skool in Johannebsurg matrikuleer. Ná matriek het sy ʼn
diploma in joernalistiek by die destydse Witwatersrandse
Kollege vir Tegniese Onderrig verwerf en in die vyftiger jare by die
SAUK se musiekafdeling begin.
In die vroeë sestigs begin Phillipa by TRUK te werk
as skakelbeampte en dit is hier waar sy haar kennis van musiek,
ballet, opera en ander kunste opgeskerp het. In 1967 begin sy as
kunsverslaggewer by Die Transvaler, waar sy dan later ook kunsredakteur
word. Nadat Die Transvaler in 1987 ʼn Pretoriase middagkoerant
geword het, is Phillipa Die Vaderland toe, waar sy ook kunsredakteur
was. Nadat Die Vaderland ook toegemaak het, is Phillipa weer SAUK
toe en het daarna by die Stadskouburg skakelwerk gedoen. Sy
het daar afgetree en nog vrykskutwerk gedoen.
 |
PHILLIPA BREYTENBACH (tweede van regs) met Wouter de Wet, ook 'n oud-kollega wat saam met haar op die kunsredaksie was, (tweede van links). Die ander is SAUK-radiomense wat saam met Phillipa-hulle KKNK toe was. (Foto: Gert van Rooyen)
|
Philippa was ‘n merkwaardige mens wat as een van
die doyens van kunsresensente in Suid-Afrika bestempel kan word.
Sy was nie een vir wie jy in n blik kon druk nie. Sy was vurig, maar
reguit. "Phillipus", soos haar familie en vriende haar genoem het, het in
haar loopbaan skouers geskuur met vele beroemde kunstenaars,
nasionaal en internasionaal, onder meer Mimi Coertze.
Phillipa was nooit getroud nie en word oorleef deur
haar susters Anke, Babs en ʼn broer Willem.
DAVID VAN ROOYEN is op Maandag 15 September in
George oorlede ná ‘n hewige stryd met kanker. Hy was in sy
joernalistieke loopbaan eers ‘n fanatiese sportskrywer en later
een van die hoogsaangeprese sakejoernaliste in Suid-Afrika.
Ek persoonlik het David geken op die PUK, waar ek,
hy, en die oorlede atletiekskrywer van die destydse Transvaler en
later Rapport, Johan van Wyk, saam in dieselfde koshuis was. Dáár het
David al sy liefde vir rugby gehad toe hy deel was van die PUK se
koshuisrugbyliga, waar hy die wedstrydreëlings behartig het. Hy het ook
dikwels Perskor-rugby- en krieketspanne bymekaar geskraap en
sosiale wedstryde teen onder meer Beeld, SAUK, SA Brouery, ens. gereël.
 |
DAVID VAN ROOYEN en sy vrou, Gladys. (Foto: Rapport)
|
David het sy sportjoernalistieke loopbaan in 1971
by die Klerksdorp Rekord begin en in 1974 by Die Vaderland se
sportredaksie aangesluit. Hy is kort daarna aangestel as
sportredakteur. Dit is waar ek weer noue kontak met David gehad het toe ek as
atletiekskrywer by Die Vaderland aangestel is. In 1987 word hy as
nuusredakteur van Naspers se drie dagblaaie aangestel en later
was hy ‘n senior lid van Sake24.
Met sy aftrede in 2014 was David sakeredakteur van
Rapport. Daarna het hy en sy vrou, Gladys, ‘n gastehuis in Melville
bedryf. Hy het as vryskut dikwels oor sakebedrywighede geskryf.
Wat baie mense dalk nie geweet het nie was dat
David ook in die musiekwêreld betrokke was toe hy die sangpaar
Cora-Marie en Kupido se bestuurder was!
David was die ware gentleman en ʼn saggeaarde mens.
Ek het hom bitter min sien kwaad word en hy het sy werk met
presisie en oorgawe gedoen.
Rus in Vrede ons twee oudkollegas. Julle altwee was
formidabele mense!
GERHARD BURGER, koerant- en tydskrifredakteur,
skryf: DAVID, wie se naam as Dawid uitgespreek is, het van
Potch af in Die Vaderland se sportredaksie beland in die dae toe
Joe Venter, Jaap Swanepoel, Willie Roux, Peet van Staden, Harry
Lombaard en Carl Köhler bekendes in die bedryf was.
Hy het ʼn verbasende kennis van verskeie sportsoorte
gehad, want hy het baie gelees en min gepraat. En minder bier as
party sy van nuwe kollegas gedrink.
Hy het ʼn voorliefde vir gholf gehad gehad en gou
gesaghebbend daaroor geskryf, veral omdat hy so deeglik
“huiswerk” gedoen het – ʼn kenmerk van sy hele loopbaan.
Toe hy as jong alleenloper skielik hospitaal toe
gestuur is om sy blindederm te laat verwyder, is hy gedwing om,
pleks van alleen in sy woonstel te gaan aansterk, vir ʼn week of wat by die
sportredakteur en sy gesin te gaan intrek.
Dit is waar tannie Rachel Makaya hom help versorg
het. Een aand kom vra sy half bekommerd: “Meneer, dié man loop
hier rond en dan steek hy vas en dan buig hy so effens en dan swaai
met sy hande so-so en weer ... ”
“Rachel,” beduie ek, “hy oefen gholf. Hulle noem
dit ‘putting’. Hy oefen kastig om die bal met ʼn stok in ʼn gaatjie in
te rol.”
Omdat Die Vaderland gesoute sportskrywers vir die
vernaamste ‘beats’ gehad en internasionale sport skaars geraak
het, het David sy vlerke begin sprei en uiteindelik as finansiële
joernalis uitgestyg. Hy het, dink ek, ook ʼn stewige rol in die bemarking
van Afrikaanse musiek gespeel.
Waar hy ook al in sy loopbaan geloop het, het dié
lang man hom as ʼn staatmaker onderskei, met sy gesonde oordeel en
ernstige benadering vriende gemaak en belangrike mense beïndruk.
En almal sal daardie glimlag onthou wat so ʼn deel
van sy persoonlikheid was.
MAGNUS HEYSTEK, beleggingstrateeg, skryf:
EK dink die een karakteristiek wat veral
uitgestaan het van David was sy rustigheid in die warboel van nuusflitse wat
soos kartetse die heeldag op onverwagte plekke ontplof het. Dis soos
ek hom in die sportjoenalistiek geken het—waar ek ook n paar jaar
by Beeld was — en toe later in die finansiele joernalistiek,
waar ons albei beland het.
Ek dink nie ek het David ooit ʼn vloermoer sien gooi
nie — hy was altyd in beheer van sy emosies en selfs onder intense
spanning van spertye en om ʼn "quote" van iemand skaars
in die hande te kry, was hy die toonbeeld van rustigheid. Sy beriggewing was
altyd gebalanseerd en het beide kante van enige storie met dieselfde
waardigheid aangebied – iets wat vandag in ʼn era van "advocacy
journalism" erg ontbreek.
ELMA POTGIETER, aktrise en skrywer, skryf: Ek het as BA-gragadueerde student, wie se enigste
doel was om op die verhoog te speel, in 1968 by Die Transvaler se
Jan van Rooyen (hoofredakteur) se deur gaan aanklop vir werk as
verslaggewer/joernalis in Johannesburg.
Hy het my die Bybelvers en Mense (se doen en late)
opgelê en ná twee maande my na Phillippa Breytenbach en Igna Wessels
gestuur om te help op die Kuns- en Vroueblad.
Ek was effe lugtig vir Phillippa, maar ek het haar
tegemoetkomend en sonder fieterjasies gevind. Ek het haar opdragte
met volle oorgawe (en aanhoudende vrae) uitgevoer – toneel, opera en
ook ballet het alles binne my belangstellingsveld geval.
Ons twee het baie gou dikwels saam na opvoerings en
rolprente gaan kyk en my kennis is merkwaardig uitgebrei op vlakke
wat my nie beskore sou wees as ek direk ná universiteit
verhoog toe sou gaan nie.
Phillippa se kennis van haar vak het my deurlopend
beïndruk.
Phillippa, ek is bly ek kon jou
"toevallig" 'n paar maande gelede raakloop in die nuwe hospitaal in Northcliff,
Johannesburg. Ons het gesels soos destyds.
Jy is nog steeds die reguit maar terselfdertyd
tegemoetkomende mens wat ek in Die Transvaler in Johannesburg se kantore
die voorreg gehad het om te leer ken en waardeer.
Dankie Phillippa vir jou kennis en insig wat jy so
mildelik gedeel het met 'n groentjie-verslaggewer en latere
toneelspeler.
Ek sal jou altyd hoog ag.
JAKKIE GROENEWALD, akteur, talentslyper en taalversorger, skryf: Toe Phillippa kunsredakteur van Die Transvaler was
en ek kunsredakteur van Die Vaderland, het ons soms
meningsvers kille gehad in ons sienings/interpretasies van sommige
toneelstukke/rolprente, maar sy was bekend vir haar hardekwasheid en sonder om rusie te maak, het ons ons verskille oor verskeie
glasies wyn gemoedelik uitgesorteer.
Ná die samesmelting van die twee koerante was
sy die TV-redaktrise en ek die kunsredakteur, so derhalwe het ons
“onderonsies” tot ‘n einde gekom.
In daardie stadium het ek heelwat oorklanking vir
die SAUK gedoen en in die SAUK-wandelgange het ek gereeld gehoor
hoe van die SAUK-werknemers en TV-akteurs hul heilige vrees
uigespreek het as hulle met haar ʼn onderhoud moes voer. Tog het hulle
groot resepek vir haar gehad, al het sy hulle soms aan die kort
haartjies beetgekry.
PIET EBERSÖHN skryf: OP die oog af kon ʼn mens jou kwalik twee meer
uiteenlopende persoonlikhede indink: Phillippa vurig, soms selfs
moeilik; David bedaard, een van die min ware here wat ek in die
joernalistiek raakgeloop het.
Daar was egter ook sterk ooreenkomste tussen die
twee: elkeen ʼn meester van sy vak, hul kennis daarvan grondig;
albei met ʼn toewyding en werkvermoë wat ʼn mens selde sien.
As die mees junior sub om die tafel moes ek
aanvanklik die oggendskof onder Vernon Marais se wakende oog
aandurf – en hy kon nie wag om Phillipa se kuns- en
vermaakbladsy aan my oor te dra nie. Die hoofartikelbladsy en die naas-HAB
het mos darem voorkeur op sy ervare hand gehad.
Ek was net lank genoeg by Die Transvaler om goed
lugtig vir Phillippa te wees, maar genadig het ons heel goed
klaargekom en is ek slegs een keer deeglik geskrobbeer – die dag toe ek en
Wouter de Wet ʼn kunstige gesigfoto oor drie kolomme gebruik het en
dusdoende “kosbare plek op die bladsy vermors het”.
Kort voor lank het ek selfs die “byvoordeel” geniet
om kabaretresensies vir Phillippa te doen wat selfs my
musieksmaak help verbreed het, met dié dat ek via ʼn tannie Taubie
Kuschlik-produksie met Jacques Brel se musiek kennis gemaak het en dit
sedertdien steeds waardeer.
David, op sy beurt, het my die eerste geleentheid
gebied om vir ʼn dagblad oor ʼn provinsiale rugbywedstryd te berig.
Hy het nie genoeg mense gehad om ʼn wedstryd te dek nie en my gevra om
te help. As vurige Griekwa-ondersteuner, gebore en getoë, kon
ek nie die geleentheid versmaai om ʼn wedstryd tussen “my” span
en Suidoos-Transvaal op Kimberley by te woon nie.
Ek en Christo Lemmer, vir Die Transvaler, pak toe
die pad na die De Beers-stadion per trein aan. Perskor het ons elkeen
van ʼn retoerkaartjie vir die rit voorsien. Saterdagaand
stel ons vas dat die eersvolgende trein van Kimberley af Johannesburg
eers Sondagaand loop – en ons moet albei al die middag by ons
onderskeie subtafels inval.
Gelukkig was daar destyds nog goeie Samaritane.
Griekwas se spandokter, dr Clyde Keevey, het my en Christo
lughawe toe gevat, die kaartjies betaal en ʼn tjek van my vir die
bedrag aanvaar en ek en Christo was Sondag op ons pos.
Wil jy glo dat ʼn joernalis destyds nog sommer so ʼn
tjek vir twee vliegkaartjies kon uitskryf. R30 draai in my kop
rond, maar ek kan nie onthou of dit vir een of albei was nie.
Ek het ook ná my koerantloopbaan met David te doene
gekry. As skakelman, met hom as redakteur, het hy altyd ʼn
gewillige oor vir my stories gehad en as kunstenaarsagent was sy diens
uiters bekwaam.
Maar David het ook vir een van my min “hoogtepunte”
op die krieketveld gesorg. Die Transvaler het op John Orr
se veld teen Die Vaderland gespeel. DT het ʼn knap span gehad en daar
was nooit plek vir my nie. Ek is darem toegelaat om die telling te
hou.
Dié dag was daar genoeg van die DT-spanlede
onbeskikbaar sodat ek wel plek gekry het, sonder enige getuienis van
talent vir enige ander aspek van die spel. David en sy makkers, maar veral
David, boul DT aan flarde, nie een van ons haal dubbelsyfers nie.
Dalk het David-hulle moeg begin raak, maar die
laaste twee DT-kolwers vaar die beste met nege lopies elk; ek en
Jakkie Groenewald (hy, nie uit nie).
En DT kies my wragtie nooit weer nie ...