Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Hanlie Swanepoel-Vornberg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hanlie Swanepoel-Vornberg. Wys alle plasings

14.11.22

Die dag van die klavier

HANLIE VORNBERG
skryf: EK was van kleins af musikaal. Het met drie al elke deuntjie oor die radio met my vingers op die kombuistafel saamgetokkel. My ouers het vir my ʼn klein swart klaviertjie gekoop wat net een oktaaf breed was. Dit was verbasend wat ek alles op daardie agt klawers kon speel.

Toe ek agt jaar oud was en in standerd een, het my pa my een Saterdag aan die hand geneem en gesê: “Kom, ons gaan nou vir jou 'n klavier koop!”

Ons is na ʼn musiekwinkel in Seepunt en ek moes vir my ʼn klavier uitsoek.

Ek het voor ʼn bruin blinkgepoleerde Fritz Kuhla-klavier gaan sit en op een oktaaf die lied Tiritomba gespeel. Dit het presies op die agt note uitgewerk! Die klavier het 300 pond gekos en het ʼn week later in ons sitkamer gestaan. 

7.10.22

‘Ek hoop dit hou so aan’

HANLIE VORNBERG skryf uit Wenen: K’RANT het die klomp omtrent wakker geskud! Hulle skryf nou weer met groot vreugde! Hoop dit hou so aan. 

PIET EBERSÖHN voeg by: Ongelukkig is die mandjie aan die leeg raak. Daar is twee bydraes wat afronding van die bydraers se kant af kort, dan is dit eers weer leeg. 

Die hoop beskaam darem nie heeltemal nie. Daar is oor die dertig beloftes wat nog nie nagekom is nie. 

3.10.22

Reminissensie voer Hanlie op ver paaie

HANLIE (SWANEPOEL) VORNBERG skryf: DIT is vanjaar ses en veertig jaar gelede dat ek Suid-Afrika verlaat het om my hier in Wenen te kom vestig. My man, gebore en getoë in Oostenryk, het op ʼn dag gesê ons verlaat die land en het dadelik met die kinders begin Duits praat. 

Dit was die tyd van ʼn holderstebolder Suid-Afrika. Daar was angs en onsekerheid, opstande in die hele land, sanksies en boikotte en diegene wat kon uitwyk het begin koerskry in alle rigtings. 

Toe dit by my begin insink dat ek die land en veral die Kaap moes verlaat, het ek meteens bemerk hóé skoon en blouselblou die lug bo my kop is. Ek het geweet dat dit ʼn seer en uitgerekte afskeid gaan wees. 

Elke dag het hartseer ingehou. Die aflê van een of ander bekendheid of bemindheid. 

Banale dinge soos ʼn Kaapse windvlaag, ʼn kwikstertjie wat oor die grasperke wip, die buie van die see of die geur van ʼn pot boerekos wat van elders by die venster inwalm.

31.5.22

Sowjet-troepe was gevrees!

HANLIE VORNBERG skryf:  "Ura! Ura!" het hulle geskreeu toe hulle in 1945 hier in Oostenryk inmarsjeer het. Die Russiese soldate, die rooi vloed, soos een van die koerantopskrifte uit die Tweede Wêreldoorlog, gelui het. 

Die ou Vaderland voorblaaie uit die Tweede Wêreldoorlog, wat Gerhard Burger onlangs aan K'rant gestuur het, het my laat terugdink aan die jare sewentig toe ek hier in Wenen aangekom het. 

Die Tweede Wêreldoorlog was toe maar dertig jaar verby en elkeen het nog sy eie storie gehad om te vertel.  Ura is n vervorming van die Duitse woord "Uhr" wat horlosie beteken. 

2.7.20

Die dierbare omie met die snorretjie

HANLIE VORNBERG skryf: As een van die joernaliste wat destyds in 1970 die Afrikaanse Pers se eerste joernalisteskool bygewoon en die eer gehad het om by Hermie Hendriks opleiding te ontvang, was ek hartseer om te verneem dat hy oorlede is.

Hoewel ek al oor die veertig jaar in die buiteland woon en nooit weer met hom kontak gehad het nie, was hy 'n deel van my jeug en is die herinneringe aan hom net positief. Dit is soos 'n lekker warm jas wat jy een of ander tyd in 'n ysige winter gedra het en nooit sal vergeet nie

27.3.17

Die Franse Konneksie

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ek het al gewonder of die K´rant-redaksie nie wil toelaat dat ons dan en wan ´n storie skryf wat nie spesifiek met die ou dae by Perskor te doen het nie. Ek dink veral aan die skatkis (die room sypel deur die splete) joernaliste wat daar rondsit en oud word en miskien tog die behoefte het om weer die pen op te lig sonder om in die verlede rond te delf.

Soos vanmôre toe my Africana-boeke uit die Kaap aankom en ek lees oor die Franse wat die Kaap in die jare 1781 tot 1783 beset het om die Ou Kasteel teen die Engelse te beskerm. Ek sweer ek het hierdie deel van die geskiedenis verslaap!

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

23.9.16

Bruce het die orrel gedraai

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Die eerste twee of drie maande gedurende ons opleiding in Hermie Hendriks se joenalisteskool het ek en Maureen Swart in die Sance Souci hotel gewoon.

Saans wanneer die son water trek, het die groot koerantbulle op die hotel toegesak om te ontspan en die dag se stories te bespreek.

Ons het hier die gesoute koerantlui bewonder en gerespekteer hoewel sommige van die snoeshane ons met snydende ironie bejeën het.

22.9.16

Johann was een van ons

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ons stap op dié stadium van ons lewe reeds in die sinkende lig en wanneer ´n oud kollega sterf word dit donker vir ´n wyle.

Johann Britz was deel van ons groepie van agt wat in die sewentiger jare in Hermie Hendriks se joernalisteskool was.

Ons was ´n klein groepie met groot planne en ambisie. Ons was jonk en het vir alles kans gesien.

Ons was deels baie verskillend, maar het EEN ding gemeen gehad. Ons wou almal skryf!

1.6.15

In die greep van die nul-uur vasgevang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek moes tien jaar lank
tweeweekliks vir Rose Rose die rubriek "Doodluiters" skryf.

Die eerste helfte van die tyd was ek heeltyds in die redaksie van die tydskrif en was dit maklik om ´n onderwerp te vind. Ek kon my van die redaktrise, Martie Snyman, en van my kollegas laat inspireer.

Die tweede helfte was ek egter reeds in die buiteland. Ek was jonk getroud en die ma van twee klein kinders. Die rubriek moes daardie jare nog vroegtydig per lugpos gestuur word.

10.2.15

Karina fnuik my planne

Skrywer en akademikus André P Brink is Vrydagaand oorlede.  Hanlie Swanepoel-Vornberg het 'n ruk tevore meegaande aan K'rant gestuur.

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: ´n Wedstryd en ´n reeks artikels is ´n goeie sirkulasiebouer in ´n tydskrif.

Só het ons op ´n dag by Rooi Rose oorweeg om ´n reeks oor bekende Suid-Afrikaanse skrywers te doen. Ek was om meer as een rede vuur en vlam.

"Asseblief, mevrou Snyman " het ek by redaktrise Martie Snyman voorbrand gemaak. "Indien ons die reeks aanbied, kan ek tog asseblief met André P Brink ´n onderhoud voer?"

4.2.15

Lekker verrassing van Johann en Anina!

HANLIE VORNBERG-SWANEPOEL skryf: Dit was ´n verrassing om onlangs van Anina Roux en Johann Britz te hoor. Ek en Anina was `n ruk lank vriende en sy het vir my en Richard dikwels in haar woonstel in Linden vir ete genooi. Sy kon lekker kosmaak en het dit baie stylvol opgedis. Dit was lekker om by haar te kuier.

Johann was een van my kollegas by die joernalisteskool en sy ma was so gaaf en het ons almal een Sondag vir ete genooi. Die meeste van ons was ver van die huis af en dit was gesellig om by mevrou Britz lekker boerekos te gaan eet.

26.11.14

Die Hollander met die hoekige van

HANLIE-SWANEPOEL VORNBERG skryf: Omdat ek Jasper Schellingerhout se stories so geniet, het ek in sy "verlede" gaan delf, na ou foto's gekyk en toe besef ons was wraggies ´n paar maande lank bure in Linden.

Ek en Richard, my man, het pas voor die geboorte van ons eerste kind by die Katberg-woonstelle ingetrek en die Schellingerhouts het ´n kort rukkie reg langs ons gewoon.

Daarna is hulle weg en het Pierre Oosthuizen, fotograaf by Die Vaderland, hulle woonstel oorgeneem.

20.11.14

Tokkelossie maak vir Roger bang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Martie Snyman, in die jare sewentig, redaktrise van Rooi Rose, het in die Vrystaat grootgeword en kon Sotho vlot praat.

Sy kon iemand in dié taal vlei, vloek en behoorlik die Leviete voorlees.

Ons het almal groot respek gehad vir Martie. Sy kon jou meesleur met haar bruisende geesdrif, maar ook summier op jou plek sit wanneer iets haar nie gepas het nie.

13.11.14

Stukkies en brokkies uit Hanlie se onderlaai

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Sedert ek meer gereeld in my pers-verlede rondsnuffel, glip daar weer laaitjies in my geheue oop.

Soos die dag toe die hooffotograaf van die Vaderland, Wessel Oosthuizen, ons vertel hy het vakansie geneem om Viëtnam toe te vlieg om oor die oorlog te gaan berig.

"Hete my kind," het sy geskokte ma oor sy planne kommentaar gelewer, "kan jy nie soos ander mense se kinders in Durban gaan vakansie hou nie!"

27.10.14

Metamorfose tref Rooi Rose

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ná aanleiding van Jasper Schellingerhout se uitmuntende berig oor die "Sewentigs en hul nuwe koerant" wil ek graag ´n stuiwer in die armbeurs gooi oor die metamorfose wat die vrouetydskrif Rooi Rose op 10 Maart 1971 ondergaan het.

Soos Jasper skryf van die oorstoot van die sestigs na die sewentiger jare, was hierdie "oorstoot" by Rooi Rose nie so maklik met Martie Snyman aan die stuur nie.

15.10.14

Niki Lauda en Mozart in twee noue ontkomings

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Tydens ons opleiding by die joernalisteskool, moes ons op 'n dag Kayalami toe gaan om oor 'n motorwedren verslag te doen.

Evert van Niekerk, destyds die motorredakteur van Die Vaderland, het hom oor ons ontferm.

Evert moes dikwels met die renjaers onderhoude voer. Onder hulle was daar die gawe ouens en die galpille. Niki Lauda was een van die laasgenoemdes. Evert het geen ooghare vir hom gehad nie.

22.9.14

Die Hugenoot en die Viking

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Dit was vanoggend lekker om oor Hermie te lees. So bly hy is nog met ons en dat dit goed gaan met hom.

Die joernalisteskool was oorkant 'n ry tydelike kantore waar die redaksie van Motorgids gehuisves was.

Motorgids was, soos die naam aandui, 'n motortydskrif en die redakteur was die aantreklike Jan Olivier.

17.9.14

Onder Len Lindeque se vlerke

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Len Lindeque se kantoor was reg langs myne by die Rooi Rose-redaksie. Ons was in die "agterbuurtes" van die gebou.

Ek en Elma van Vuuren, later Elma Meyer, was die kuikens in die redaksie. Len was ons mentor en het ons onder sy vlerke geneem.

In sy oorvol, slordige maar karaktervolle kantoortjie het hy meestal kop onderstebo by sy oorhoofse projektor sit en werk.

3.9.14

Hanlie vertel self

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek het toevallig by ´n familielid van K´rant gehoor en natuurlik dadelik gaan loer. Jou wrintigwaar daar het intussen sommer dadelik 'n hele paar mense oor my geskryf en my ná al die jare in die buiteland onthou!

Ek was een van die agt wat destyds die eer gehad het om Perskor se joernalisteskool by te woon. Ons was vier vroue en vier mans, het almal wonderlik met mekaar oor die weg gekom en was groot bewonderaars van Hermie Hendriks.