Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.4.15

Wie onthou die Excelsior-skandaal?

IRENE GROBBELAAR skryf: Ek is tans besig met my meestergraad in visuele studies aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek doen nou navorsing oor die Excelsior-skandaal gedurende die 1970's en het op julle blog afgekom.

Ek vra groot asseblief dat enige joernaliste en fotograwe wat inligting of foto´s van die gebeurtenis het my per epos nader by lenoblephotography@gmail.com. Ek sal julle ewig dankbaar wees! Ek het gesien dat Willie Buys en Gerrie Fourie spesifiek betrokke was by die onderwerp.

(Gerrie Fourie is oorlede. Willie Buys se storie oor die Excelsior-seksskandaal is HIER -- Red.)

16.4.15

Ode aan die "steroïde-joernalis"

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Waar het jy nou ‘n getrouer en veelsydiger en meer ywerige redaksielid kon kry? Nooit het die hoofredaksie gewonder oor sy produktiwiteit nie, of gevrees dat daar géén nuus vir die volgende uitgawe sou wees nie.

Nou dat ons die getroue Sapa moes groet, reflekteer ‘n mens byna vanselfsprekend op ‘n ander groet van ‘n klompie jare terug -- die teleksmasjien wat stil geraak het.

Nes ‘n duisend vinke in ‘n vlei het ‘n goeie halfdosyn of meer van hulle se gekletter ‘n spesiale adrenalienelement en polsslag in ‘n koerantkantoor ingebring.

14.4.15

Elvis is dood

GERHARD KLEIJN skryf ja, díé oorlede Sapa darem: Dit was in die nanag van 17 Augustus 1977. Die koerant (Oggendblad) het lank reeds gesak en die grondvlak-rolpers het knap begin om die hele ou Mitchelstraatgebou aan die bewe te sit. In die nagkantoor was die manne besig om die laaste leksels uit ‘n breëskouer-fles te ledig.

Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.

8.4.15

Sapa se rangskikking om hulp

JOHANN BRITZ skryf: Sapa se heengaan het my herinner aan 'n voorval jare gelede.

My goeie vriend, wyle Con Crous, was hoof van die Sapa-kantoor in Windhoek en was meestal die enigste personeellid wat die hele gebied moes dek. Soms het hy darem tydelike hulp gekry in die gedaante van afgestudeerde kommunikasiestudente van die Rhodes Universiteit.

Ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms het ons afskrifte van kopie aan Sapa beskikbaar gestel en het ons van tyd tot tyd spesiale versoeke vir bystand gekry waar Con en sy mense nie kon bykom nie.

2.4.15

Totsiens Sapa

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Sapa-berig hieronder is die laaste een ooit. K'rant se redaksie het dit goedgedink om die berig verbatim te plaas nadat Sapa sy ligte Dinsdag om middernag vir oulaas afgeskakel het. Saam met Gerhard Burger (e-pos onder) sê ons namens al die oud-Perskormense dankie aan Sapa vir die getroue diens wat oor al die jare so mildelik aan intekenare gebied is.

In hierdie Sapa-berig word twee van ons Perskor-kollegas genoem. Die eerste is Hannes de Wet. Hannes was in sy dae hoofverslaggewer van Die Vaderland en later parlementêre verslaggewer en toe Perskorburo se verteenwoordiger in Washington.

1.4.15

Foto's: reünie, 2015

PEET SIMONIS het foto's by die Perskor-reünie, 2015 geneem, maar ongelukkig die meeste daarvan verloor. Hier is 'n klompie wat oorgebly het.

PIET ROOS het die volgende laat weet: Dankie vir die reünie! Baie dankie vir almal wat betrokke was by die reëlings. Die gesels was lekker, die kos lekkerder en die wyn die lekkerste.

Lees gister se berig oor die reünie HIER.