FRANS ESTERHUYSE wyk ietwat af van die gewone aard van die bydraes wat K’rant ontvang en vertel die storie wat ʼn arm kind beleef het – en hy span sy talente in om dit in woord en beeld aan te bied.
Behalwe die skilderye en sketse waarmee hy sy storie ophelder, stuur hy ook bladsye uit sy sketsboek waarin hy sy kleintydse storie vertel.
Frans skryf: Ek is in 1941 in Johannesburg gebore. Ons het in Ophirton gebly wat aangrensend aan Booysens was. Jy het nie sommer aan iemand vertel dat jy in Ophirton bly nie. Net arm mense het daar gebly! Ons was arm.
Van kleins af het ek geteken, was nie baie goed nie maar ek
het as skoolkind geld verdien deur medeleerlinge se bloemlesings te illustreer vir twee sjielings. In standerd twee was daar ʼn meisie wat my aandag heeltemal in beslag geneem het. Sy was Agnes Olivier. Haar nefie was ook saam in ons klas en hy was Gert van der Westhuizen. Natuurlik het ek goeie vriende met hom geraak. Ek het vir hom gesê ek sal haar bloemlesing illustreer, verniet! Sy het ingestem en ʼn toffie vir my gegee om te eet!

