Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.2.15

Dougie streel sy lewer

PAUL KRUGER skryf: Ek het lekker gelees aan Johann Britz se hofstorie en van Dougie Jones se gat, dis nou die een aan die voorkant in sy “onderpens”. Sy woorde.

Toe ek by die redaksie van Die Vaderland ingetree het, het ek onder die vleuels van Jan Hoeksema beland en vir bykans die eerste 12 maande het ek meesal uit Johannesburg se landdroshof verslag gedoen.

Nou die dag vertel ek en ‘n plaaslike prokureur van Hermanus oor en weer stories uit die hof en kom sy met hierdie mooi ene vorendag:

25.2.15

Spioenskrywer Stoffel bly klandestien


GERT BASSON skryf: Ek verwys na die navraag na Stoffel Pienaar, skrywer van die Olaf Bouwer-spioenasiereeks, in K’rant.

Eerstens, dit is die skuilnaam van 'n veteraan-joernalis en hy wil graag anoniem bly.

Hy het my gevra om dié boodskap deur te gee: Hy wil nie met die betrokke persoon, of ander, oor sy boeke onderhandel nie.

19.2.15

Wie weet waar Stoffel Pienaar is?

QUENTEN HATTINGH (uitgewer) skryf: Kan K’rant ons asseblief help om met skrywer STOFFEL PIENAAR in verbinding te tree?

Ons kon vasstel dat hy lank assistent- en verhaleredakteur van sowel Rooi Rose as die Brandwag was, asook redakteur van Fleur. Hy was die skepper/skrywer van die gewilde Spioen Olaf Bouwer-reeks wat in die Brandwag, Dagbreek en Landstem verskyn het, en ook in Perskor se Olaf Bouwer-boekklub.

Sy Olaf Bouwer-strokiesverhaal, geïllustreer deur Len Lindeque, het weekliks in Dagbreek en Landstem verskyn.

17.2.15

Len Lindeque nie op sy bek geval

JAC DE VRIES skryf: Lojaliteit steek sy kop soms in verskeie vorme uit. Soos die dag toe ek, Len Lindeque en baas Dirk Richard by Marius Jooste in die kantoor was. Wat die geleentheid was, onthou ek nie meer so mooi nie, maar die verdere verloop sal saam met my graf toe gaan.

Jooste was nie die maklikste mens om mee klaar te kom nie en het dit skynbaar sy lewensroeping gemaak om dit by almal tuis te bring.

13.2.15

Beswaar, U Edele - uit die persbank!

JOHANN BRITZ skryf: Sal ons hulle ooit vergeet – daardie twee hardebaard-legendes uit die sestigs? Dougie Jones met die letsel van ‘n koeëlwond in sy heup. Koel soos die onderkant van ‘n kopkussing. Tom Smit, uitgeslape veteraan wat ‘n fortuintjie met die Rhodesian Sweep gewen, en dit later verloor het.

Waar dié twee ook al beland het, van die Sans Souci in Aucklandpark en die Residensie in Pretoria tot die Grand in Windhoek, het hul reputasie baard gekry. Hardekwas, sinies, onverskrokke. Manne van die Ou Skool wat vir niks en niemand gestuit het nie; nie eens vir ‘n regter van die Hooggeregshof nie. Dit het ek eerstehands ervaar met my vuurdoop in die Paleis van Justisie.

11.2.15

Ongerieflike nuuswaardigheid lei tot rooi gesig

MARIUS DU PLOOY skryf: Soveel van die toentertydse stories en gebeure skakel mens se nostalgiese reseptore aan, maar ongelukkig ook 'n paar wat dalk afgeskakel moes bly.

Hoewel my heeltydse Perskortyd maar kort was, het dit ‘n stewige grondslag gevorm van my mens-, media- en PR-begrip vir die jare daarna. Een van die lesse was dat mens baie meer moet stilbly en meer luister.

10.2.15

Karina fnuik my planne

Skrywer en akademikus André P Brink is Vrydagaand oorlede.  Hanlie Swanepoel-Vornberg het 'n ruk tevore meegaande aan K'rant gestuur.

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: ´n Wedstryd en ´n reeks artikels is ´n goeie sirkulasiebouer in ´n tydskrif.

Só het ons op ´n dag by Rooi Rose oorweeg om ´n reeks oor bekende Suid-Afrikaanse skrywers te doen. Ek was om meer as een rede vuur en vlam.

"Asseblief, mevrou Snyman " het ek by redaktrise Martie Snyman voorbrand gemaak. "Indien ons die reeks aanbied, kan ek tog asseblief met André P Brink ´n onderhoud voer?"

5.2.15

Ou Harry laat hoor van hom

GERHARD KLEIJN skryf na aanleiding van Hanlie Vornberg-Swanepoel se navraag oor Harry van den Berg:

Ou Harry het my verlede jaar uit die bloute van baie verloopte jare gebel. Hy wou praat oor die moontlikheid van ‘n wynrubriek in ons tydskrif en ‘n gesamentlike wynsmousery.

Harry bly nou in Pretoria se ooste, ná baie jare in die Kaaplandse wynwêreld. Daar het hy hom duidelik bekwaam in die fynere kunsies van wynskryf, -smous, -proe en geniet.

4.2.15

Lekker verrassing van Johann en Anina!

HANLIE VORNBERG-SWANEPOEL skryf: Dit was ´n verrassing om onlangs van Anina Roux en Johann Britz te hoor. Ek en Anina was `n ruk lank vriende en sy het vir my en Richard dikwels in haar woonstel in Linden vir ete genooi. Sy kon lekker kosmaak en het dit baie stylvol opgedis. Dit was lekker om by haar te kuier.

Johann was een van my kollegas by die joernalisteskool en sy ma was so gaaf en het ons almal een Sondag vir ete genooi. Die meeste van ons was ver van die huis af en dit was gesellig om by mevrou Britz lekker boerekos te gaan eet.

2.2.15

K'rant het historiese waarde

PAUL KRUGER skryf: Baie dankie aan al die betrokkenes vir die pragtige aanbieding van die krokstorie. Dit word gewaardeer. Dra my dank aan die redaksie oor.

'n Mens sou kon redeneer dat hierdie waarskynlik (benewens die betrokke eksemplaar van Die Vaderland waarvan daar net een bestaan) die enigste openbare aantekening van hierdie operasie is. Hierdie en die ander stories wat in K'rant verskyn het, en nog verskyn, se historiese waarde is onmeetbaar.

Feit is net, lank nadat ons almal tussen die sterre kamp opgeslaan het, sal K'rant op die Internet bly voortleef. Onse nageslagte sal daarop afkom en baie genot put. Daarvan is ek seker.

Julle doen groot werk met K'rant. Moenie ophou nie.

Daar is nog so 'n paar soortgelyke stories wat ek mettertyd (Afrikaanse onnie het altyd "metterwoon" gesê) sal aanstuur vir oorweging.