Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Karin Pretorius. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Karin Pretorius. Wys alle plasings

12.7.24

Uitweg uit Unisa-doodloopstraat

KARIN PRETORIUS skryf: EK skryf met betrekking tot Andries Burger se navraag op K’rant en die redakteur se opmerking.

Ek het die voorreg gehad om As Burger in 1972 te ontmoet toe hy by ons op die plaas naby Swartruggens kom kuier het. Dit was tydens die Vonsteen-verhoor en my man, Kas van den Bergh, was besig om ʼn boek daaroor te skryf. Hy het adv. Burger oorgenooi om gedagtes met hom oor die verhoor te wissel. 

12.12.23

Toetsrugby op sy beste en regte sneeu in Parys

KARIN PRETORIUS skryf: EEN Sondagmiddag in November 1968 verskyn daar ʼn kennisgewing op die bord in Londen se Oversears Visitors’ Club (OVC) in Earls Court vir kaartjies na Parys vir die Springbokke se tweede rugbytoets teen die Franse. My oë rek wyd en vir ʼn oomblik vergeet ek skoon van Ma se skaapboud en gebakte aartappels tuis in Pretoria. Want ná sewe maande in Londen vir werk by die SA Sitrusraad as ʼn “Outspan Girl’, was dit al waaraan mens kon dink op ʼn nostalgiese Sondagmiddag. Veral as die koue waarvan jy nog net gehoor het, begin hap-hap het aan jou langbroek en stewels.

2.8.23

Perskor bring July-geluk!

KARIN PRETORIUS skryf: MET geen kennis van perdewedrenne of weddenskappe nie, het ek jou so wrintiewaar twee keer in die jare sewentig vanweë my werksituasie by Perskor op wenperde by die July verwed – en gewen. Nou nie so dat ek my trommeltjie eers kon opvul nie, maar dit het tog vir baie opwinding gesorg. 

Eerstens was dit in 1970 by die vroueblad van Die Transvaler en daarna in 1979 as Perskor se verteenwoordiger tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië. Met my aanstelling in 1970 by Die Transvaler se vroueblad, was dit heerlik om oor ʼn eg-vrouesaak te berig – die vooruitskouing van die vrouemodes by die naderende July-perdewedren begin Julie op die Greyville- renbaan in Durban. 

25.6.23

Die drie Venter-skrywers van Republikeinse Pers

KAREN PRETORIUS
skryf: Daar was in die jare sewentig nie een nie, ook nie twee nie maar DRIE befaamde Venter-skrywers by Republikeinse Pers met wie ek die redaksiekantoor in Nedbank City East in Doornfontein gedeel het.
C. J. (Corrie) Venter was die redakteur van Radio en TV Dagboek en ook gewilde en bekende fiksieskrywer van romans, en radio- en tydskrifverhale;
Paul C. Venter, toe redakteur van die tydskrif, Keur, en wat vandag nog besig is as draaiboekskrywer vir televisiereekse en -rolprente; 
Al J. Venter, ʼn redaksielid van Scope wat ʼn legende is as oorlog-joernalis en steeds in die wêreld se konfliksones verslag doen.

Om so nóu saam met hierdie drie skrywers te gewerk en gedagtes te verwissel het, was ʼn groot voorreg en ʼn goeie leerskool vir ʼn joernalistieke loopbaan.

7.5.23

Per viswa en tussen koolkoppe gaan die reis verder

KARIN PRETORIUS skryf verder: SO land ons die volgende dag in Florence en neem afskeid van Francesco. Ons was skielik op ons eie. 

Die Boek se staproete vir vier dae in die stad is oopgevou en die heel eerste besoek is by die Akademie-gallery, neffens die Arnorivier – en ons bevind ons aan die voete van die majestueuse Dawidbeeld van Michelangelo. 

En so het ons ryloopdae vir ses maande deur Europa aangebreek – stap vir stap, dag vir dag, plek na plek, opwinding na opwinding, ondervinding op ondervinding. Belangrikste van alles: duim vir duim!

3.5.23

Ma ryloop toe ‘wonderlik’ saam

KARIN PRETORIUS vertel verder: RYLOOPSUKSES kan grootliks aan ʼn paar dinge toegeskryf word: ʼn goeie verstandhouding tussen twee vriendinne, dieselfde belange, asook goeie organisasie. 

Daar was ook ʼn paar ononderhandelbare reëls, soos om nooit van mekaar te skei nie al was daar moontlike wrywing; om net met ʼn enkel mansbestuurder in ʼn motor te klim en daarom was die Fiat 600 – toe baie gewild in Europa – ideaal, want die een wat agter sit, het ʼn rugsak op die skoot gehad en een op die sitplek langsaan; en daar is ook nooit na sesuur saans geryloop nie. 

1.5.23

15 000 myl deur 15 lande – duim vir duim

KARIN PRETORIUS skryf: HIERDIE ryloopstorie van jare gelede, het my nie net laat sif deur die blaaie van my geheue nie, maar ook deur die blaaie van my stowwerige albums op my boekrak – en daar was baie stof tot nadenke! 

Ryloop in Europa in 1969, was nie ʼn gevaarlike onderneming nie. Versigtigheid was steeds die wagwoord, veral vir twee meisies, maar misdaad was nie in die algemeen ter sprake nie. In so ʼn mate dat iets ter beskerming soos pepersproei nooit ʼn gedagte was nie. 

Daarom het ek en rylopervriendin, Brenda Southon van Durban, besluit dis net wat ons wou waag: om duim te lig en met rugsakke en al ons spaargeld soveel lande as moontlik in die somer van Europa te besoek. 

26.9.22

Karin se sabbatsreis langs Bloubergstrand

KARIN PRETORIUS skryf: Sondag ná Sondag het ek die sowat twee kilometer van my woonstel in Bloubergstrand af na die Remaxkantore afgelê om my skouborde en sware hammer te gaan haal vir skoudag – og! Maar die rit was al langs die see af met Tafelberg dáár en die wit branders híer – h’mm! En sesuur, ná skoudag, weer die terugtog langs die see met die westerse son wat ʼn blink streep op die water trek – aha! Wonderlike vertroosting na ʼn middag se harde werk.

Dit het my skuldig laat voel om as eiendomsagent die Sabbat só te ontheilig, sekerlik sal dit nie ongestraf bly nie? Met my rit al langs die see, het die woord “sabbatsreis” by my opgekom, en die verklarende woordeboek het dit só gestel: ʼn sabbatsreis is ʼn bepaalde afstand, sowat 2 000 treë, wat die Israeliete toegelaat was om op die Sabbat te reis. Aha!

9.8.21

Flip in perspektief

KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het. 

Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld. 

26.1.21

Huldeblyk aan Coenie Slabber

KARIN PRETORIUS bring hulde aan Coenie Slabber (81) wat die afgelope 23 jaar dieselfde woonstelblok as sy in Bloubergstrand gedeel het.  Hy is verlede week oorlede.

Sy skryf:  Hy was ‘n goeie vriend, altyd beleefd teenoor my, vriendelik maar stil en baie privaat. 

22.1.21

Komkommertyd by die koerant

KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.

Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?

19.9.20

Só onthou ek Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler

KARIN PRETORIUS skryf: Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler in die sewentiger jare, was ‘n stil, teruggetrokke en vir ‘n eerstejaartjie by die koerant, nogal ‘n geheimsinnige man. 

Hy’t soggens geruisloos die lang gang van die koerantgebou in Jorissenstraat in Braamfontein van die voordeur afgestap na sy kantoor, aan die linkerkant in die hoek. Omdat sy venster op ‘n binnehof uitgekyk het, kon jy hom altyd van die nagkantoor se venster af sien sit by sy lessenaar – geboë oor die koerant. 

23.7.20

Die redaksie sien dubbel

KARIN
PRETORIUS skryf: In Maart 1971 skryf redakteur dr Carl Nöffke, alias Sarel Sekondant, in sy rubriek Op ‘n Punt van (Wan)orde op die hoofblad van Die Transvaler, van twee van sy vroulike redaksielede wat albei in die huwelik met regspersone gaan tree.

Dr Nöffke verwys eerstens na die ‘blonde blou-oog hooggeregshof verslaggeefster, die vyfvoet-en-‘n-kwart-duim’ Marita Coetzee wat met asistent-landdros Karel Landsberg van Koster gaan trou. Hy skryf dat hulle mekaar ‘n paar jaar vantevore op die Puk ontmoet het en dat Marita in Julie mev Landsberg word.

5.3.20

Happie plaas, happie stad

KARIN PRETORIUS skryf: Ek blaai deur ‘n ou foto-album vol stof opsoek na familiefoto’s. Is dit nie snaaks om nog foto-albums te besit nie? Met foto’s wat in goue of swart driehoekies vasgeplak is? Maar hoe gooi mens dit sommer weg met soveel herinneringe?

My oog val op ‘n artikel wat ek op 30 Desember 1975 op versoek van nou wyle Kitty Vermaak, vroueredaktrise van Die Vaderland, geskryf het: Happie plaas, happie stad … dit smaak beter saam.

6.5.19

Hillbrow aan ons voete – dekades gelede!

KARIN PRETORIUS skryf: My kollegas Maureen Swart -- met haar puik navorsing oor Hillbrow -- en Gert Van Rooyen se herinneringe aan "die plek van die duiwel", het my met nostalgie vervul en my geheue het teruggebons vanaf Kaapstad oor die Karoovlaktes, tot binne my piepklein woonstelletjie in Smitstraat 32 in Hillbrow.

Dit was my blyplek toe ek in Januarie 1970 by Die Transvaler aangesluit het, met ‘n fris opdraande stappie na die koerant in Braamfontein, huurgeld van R29 en salaris R180 per maand!

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

7.11.16

Amper klap Notorius Pretorius se doppie

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!

My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!

Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

4.10.16

Nostalgiese verlange na die tegnologie

KARIN PRETORIUS skryf: K’rant se joernaalmeester, Japie Bosch, het onlangs na my Rhodesiese artikel verwys waarin ek skryf oor die moderne elektronika wat ons oudjoenaliste nie beskore was nie.

Dit het my herinner aan die troue van min PK van der Byl – minister van vervoer, krag en poswese in Zimbabwe-Rhodesië – met prinses Charlotte von Liechtenstein, op Vrydag 31 Augustus 1979 in Waldstein in Oostenryk.

Dit was een van die mees intensiewe en uitputtende artikels – geestelik en fisiek –wat ek nóg vir Rooi Rose moes skryf, hoofsaaklik vanweë die gebrek aan ‘n iPad, selfoon en die internet waarna Maureen Swart in haar interessante artikel ook verwys.

26.11.15

Chris Vermaak mis sperdatum én die oorlog

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het geweet as K'rant bietjie karring aan ons geheue gaan dit my aan een of twee stories laat dink wat ek nie andersins sou onthou het nie:
i) die beste -- maar werklike -- verskoning vir ‘n sperdatum wat nie gehaal is nie en
ii) ‘n scoop vir jou koerant omdat die opposisie nie na jou wyse raad wou luister nie!

Op 10 Februarie 1981 -- bykans ‘n jaar ná onafhanklikheid in Zimbabwe -- is die Entumbane militêre kamp naby Bulawayo in ‘n slagveld omskep toe Zipra- en Zanla-magte van onderskeidelik mnr Joshua Nkomo en eerste minister Robert Mugabe slaags geraak het.