Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.6.12

Dinamiese Hans Lombard laat op 84 steeds dinge gebeur

PIET EBERSÖHN skryf: Om op 84 nog heeltyds te werk en die lewe so voluit te leef en sulke diep spore te trap waar hy ook al gaan soos wat die onblusbare Hans Lombard doen, sit nie in elke man se broek nie.  

Dié gewese joernalis van Die Transvaler (waar hy in 1952 ingeval het), Die Vaderland en die SA Financial Gazette
bedryf al 40 jaar lank sy eie skakelpraktyk, lewer gereeld vryskutbydraes aan voorste publikasies, is die spil waarom die jaarlikse Perskor-reünie wentel, en sy hulp is onlangs ingeroep om die sukkelende Johannesburgse Persklub van ondergang te help red. Hans het die klub in 1956 help stig en was 15 jaar lank voorsitter daarvan.

Na sy dienstyd by Voortrekkerpers en die Afrikaanse Pers (APB) het hy ’n ruk lank in Fleetstraat, die mekka van die Britse koerantwese, gewerk en was grootliks beïndruk deur die mate van spesialiteit wat daar geheers het – en dat tot drie mense aan ’n storie gewerk het.

Hans was nie net die eerste Suid-Afrikaanse joernalis wat Moskou ná die Tweede Wêreldoorlog besoek het nie, maar ook die eerste in Japan en China.

Dit was juis met sy besoek aan Japan – en Hirosjima – in die laat jare vyftig dat hy een van sy grootste „scoops” raakgeloop het, toe hy vasgestel het dat die Suid-Afrikaanse plastiese sjirurg, dr. Jack Penn, stigter van die Brenthurst-kliniek in Johannesburg, die Amerikaners gehelp het om mense wat in die atoomontploffing geskend is se gesigte en liggame te herstel. Hy het sy narkotiseur en teatersuster uit Johannesburg saamgeneem en die werk kosteloos verrig.

’n Boek wat Hans oor dié besoek geskryf het, Straalvlug na die Ooste, het in 1961 by Nasionale Pers verskyn.

Tsjiang Kai-sjek
Nog ’n „scoop” was in 1959 toe hy die enigste uit ’n veertigtal buitelandse joernaliste was wat ’n onderhoud met die nasionalistiese Chinese leier, Tsjiang Kai-sjek, kon kry toe dié op die punt gestaan het om die Kommunis, Mao- Tse-toeng, se vastelandse China van die eiland Taiwan af in te val. Hans was van plan om oorlogskorrespondent te word, maar die Amerikaners het ‘n stokkie voor Tsjiang se planne gesteek.

Albei stories was internasionale „scoops”.

In sy Fleetstraatse dae het Hans die meeste van sy tyd in Afrika deurgebring. Hy het leiers soos Kwame Nkrumah (Goudkus/Ghana), Sylvanus Olimpio (Frans-Togoland/Togo), Julius Nyerere (Tanganjika/Tanzanië) en Jomo Kenyatta (Kenia) voor en ná onafhanklikheid leer ken. Ook laasgenoemde se minister van landbou, Bruce McKenzie, wat van Pietermaritzburg af gekom het en later vermoor is.

Nog ’n veer in sy hoed is die deurslaggewende rol wat hy gespeel het om vir Hendrik Schoeman, destyds minister van landbou, in die boikotjare ‘n afspraak met sy Amerikaanse eweknie, Earl Butz te reël. Butz het in die administrasies van Richard Nixon en Gerald Ford as sodanig gedien (1971 – 1976).

Sekerlik deeglik bewus van Hans se ondernemingsgees, het Schoeman hom op ’n Nasionale Party-kongres voorgekeer met bogenoemde versoek.

Omdat die eerste minister so ’n besoek moes goedkeur, het Hans eers gesorg dat Schoeman ’n uitnodiging van die Universiteit van Des Moines kry om ’n toespraak daar te lewer. John Vorster het ingestem.

Earl Butz
Butz was egter huiwerig om ’n onderhoud toe te staan en Hans moes een van sy ander Amerikaanse kontakte inspan om sy (Butz se) arm te draai. Die onderhandeling het geslaag en Schoeman het sy afspraak gekry.

Hans in Londen was, het Marius Jooste hom gewerf om politieke redakteur van die te stigte S.A. Financial Gazette te word. Die blad had ten doel om die regering se finansiële en ekonomiese beleid in ’n positiewer lig te stel as wat die plaaslike Engelse media dit destyds gedoen het. Die blad het ’n taamlike groot inslag in die jare sestig gehad, maar het in die naloop van Perskor se sirkulasiesyfer-probleme al hoe minder advertensies gelok en later ondergegaan.

In 1970 het die skakelonderneming, Lindsay Smithers, Hans omgepraat om as direkteur by die saak aan te sluit en hy was vir Perskor verlore. ’n Paar jaar later was hy een van die baanbrekers in die Afrikaanse skakelwese toe hy sy eie konsultantskap op die been gebring het.

Die sukses van die persklub het die gedagte aan ’n vereniging vir landboujoernaliste by Hans laat ontstaan. Tydens ’n Nampo-oesdag (eintlik toe nog Sampi) in die vroeë jare tagtig het hy ‘n draai in ’n mielieland gaan loop. Daar tref hy toe vir Jorrie Jordaan van Landbouweekblad op ’n eenderse sending aan. Hy het sy gedagte aan Jorrie genoem.  Kort voor lank het hulle en nog drie landboujoernaliste in ’n Pretoriase hotel vergader om ‘n Transvaalse tak van die Landbouskrywersvereniging te stig.

Mettertyd is die vereniging landwyd uitgebrei en vandag is dit ’n gerespekteerde lid van die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste.

Geseën met ’n buitengewoon gesonde ondernemingsgees en ’n sterk vermoë om borge die meriete van ’n saak te laat insien, is Hans die vader van toekennings soos die landboujoernalis van die jaar, met ’n oorsese studietoer as prys, die mielieman van die jaar – deesdae die graanboer van die jaar – en ’n prestigeprys in die wolbedryf. Hy het ook daarvoor gesorg dat die Landbouskrywersvereniging se boer van die jaar met ’n oorsese studiebeurs beloon is.

Hans is al 34 jaar lank met Margaret, ook ’n gewese joernalis, getroud. Sy het as sekretaresse by sy skakelmaatskappy gewerk voordat sy bedank het om joernalis by die Klerksdorp Rekord te word. Toe loop hy haar op ’n geleentheid op Klerksdorp raak, hulle gaan eet uit, sien mekaar gereeld en kort voor lank was sy mev. Lombard.