Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Elise van Staden. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Elise van Staden. Wys alle plasings

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

5.11.22

Fotoblad van Peet en Elise van Staden

Enkele weke terug het Peet en Elise van Staden  van hul kleurryke lewe en talente vertel. Van die foto's wat Peet saamgestuur het, het nog nie hul pad na K'rant gevind nie.  Hier is hulle nou.

• Oudkollegas kan gerus deur hul foto-albums blaai en herinneringe aanstuur. 

Peet van Staden (middel) was een van vier gewese voorsitters van die eerstydse Randse Sportskrywersvereniging wat teenwoordig was toe die vereniging se geskiedkundige beker vir die Sportman van die Jaar aan die Goue Leeus-rugby-unie se museum oorhandig is. Links van Peet is Ria Rabie en Willie Roux en heel regs Harry Lombaard. Tweede van regs is Andre Bester, wat die skenking bewerkstellig het. Al vyf is gewese Perskorhane.

22.9.22

Dié Van Stadens leef dubbel en dwars

PEET VAN STADEN skryf: Ons het ons troshuistuinjie in Randburg só beplant dat al nege die groot bome gelyk hoog sou word bo-oor alles. Rankers en struike tussenin vir die geur. Lenteaande verstik ʼn mens amper daarvan. Oral groei boslelies, nou vol eerste blomknoppe. Daar is ʼn paar geeles maar meestal oranjes. Daarvan kom nog uit Dave Viljoen se welige beddings in Fourways. 

 Oral is daar herinnerings aan ons Perskordae. In die gastebadkamer hang twee Lou Henninkies in potlood wat die weemoed van Paul Kruger in ballingskap uitbeeld, die een (met sakkies onder die oë) van voor af, die ander in profiel. Op ʼn glasrak in die sitkamer staan die bloubont keramiekbakkie wat Thijs Nel as toegif aangedra het nadat ons twintig jaar gelede sy granate in houtskool op papier gekoop het.

Tuin en al is die eiendom so groot soos die hoewehuis waarin ons eens gewoon het. 

21.9.22

Elise se ma het die laaste sê

ELISE VAN STADEN skryf: Word ’n onderwyseres, het my ma gesê. Elke ou dorpie het ’n skooltjie. Maak nie saak waar jy woon nie, daar sal ’n onderwyspos wees vir jou. 

Nie dat die beroepskeuses wyd gelê het nie. As ek wou gaan swot, het die beskikbaarheid van ’n lening die rigting bepaal.

Die aansoekvorms is onderteken, die ouers was tevrede en ek was op pad Pretoria toe. 

Maar die hele tyd weet ek: onderwys is nie vir my nie. Ek sal die aaklige opvoedkundeklasse bywoon, ek sal soet gaan eksamen skryf, maar dis waar die storie eindig.  

Met die bemiddeling van Tienie Fourie, destyds my swaer en lid van Dagbreek se sportredaksie, doen ek aansoek om ’n vakante pos in Die Vaderland se vroueredaksie. En ná Kittie Vermaak en Sarie Raadt (later Valentine) in ’n APB-kar by my koshuis in Pretoria uitslaan en ’n onderhoud met my kom voer, het ek ’n werk, maar tot Ma en Pa se ontsteltenis nie in die respektabele onderwys nie.

20.9.22

Van Stadens onderskei hulle aan wye front

Peet van Staden
PEET EN ELISE (TOE BOTHA) VAN STADEN het binne ʼn maand ná mekaar teen Januarie 1970 by Die Vaderland begin, hy in die sportredaksie onder Gerhard Burger, sy in die vroueredaksie onder Kittie Vermaak. 

Sy was om die beurt joernalis (vroueredaksie, subs en verslaggeefster by DV en Hoofstad) en onderwyseres. Ná lang studie tussenin het sy in die akademie geëindig. 

In ʼn tyd sonder kraamverlof moes sy met elke kind se geboorte bedank en daarna ervaar dat koeranture nie kinders in ag neem nie. In die onderwys kon sy as getroude nooit ʼn permanente aanstelling kry nie. Daar was gevolglik skofte in wit onderwys, waarvan sy een verloor het omdat haar man ʼn joernalis was en daar in ʼn ander koerant ʼn berig oor die skool verskyn het, toe in bruin en uiteindelik in swart onderwys. Ná die dol jare en klipgooiery in Soweto is sy terug pers toe, waar sy later vroueredaktrise by Die Vaderland geword het voordat sy in Sarie se Randse kantoor aangestel is.

3.9.12

Onse Kittie was ’n edelvrou van die joernalistiek


KITTIE VERMAAK, voormalige vroue-redaktrise van Die Vaderland, is onlangs oorlede.

Van haar oud-kollegas vertel hier hoe hulle haar onthou.

Catharina Hendrina (Kittie) Vermaak: 6 November 1925 --25 Augustus 2012