Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.5.12

Koerantmense se werk by Unisa bewaar

Koerantmense wonder seker dikwels of hul werk darem vir die nageslag behoue sal bly en of hulle van ou berigte/artikels kan opspoor. Die antwoord vir die mense van Perskor se vier gestorwe dagblaaie is:

 JA!

Op mikrofilm by Unisa
Op mikrofilm by Unisa
Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se oudio-visuele biblioteek (mikro-teks) in Pretoria het duisende Perskor-koerante op mikrofilm. Daar sal ’n mens ook ander koerante vind wat tot sover terug as 1800 dateer.

Vir ons is dit belangrik om te weet dat die volgende daar is:

Die Transvaler: 1937 – 1991;
Die Vaderland: 1965 – 1988;
Hoofstad: 1968 – 1983 en
Oggendblad: 1972 – 1982.

Dié koerante is volledig gefotografeer. Mev. Louise Gerber van die biblioteek stel dit só: „As ’n koerant ’n Pick ’n Pay-invoegsel gehad het, sal selfs dit ook daar wees".

Om dié biblioteek te gebruik, kos R50 per dag. Lidmaatskap vir ses maande beloop R200.

Dit is belangrik om vooraf ’n plek te bespreek, vanweë beperkte geriewe. Besoekure is tussen 08:00 en 16:00 op weekdae.

Van die geriewe sluit in moderne kopiëermasjiene en internetverbinding waarmee gebruikers die berigte of bladsye regstreeks van mikrofilm na ’n e-pos kan stuur.

Mev. Gerber sê dat sy en ander personeel met graagte help, maar gebruikers sal hulself baie moeite en soektogte spaar as hulle naastenby weet wanneer dit waarna hulle soek, gepubliseer is. Die biblioteek is bereid om mense met enkele navrae per telefoon te help, maar weer eens moet hulle ’n koerantnaam en datum gereed hê, verkieslik ’n presiese datum.

Mev. Gerber is bereikbaar by 012/429-3209. Die biblioteek is in die Samuel Pauw-gebou op die hoofkampus van Unisa in Pretoria. Mense wat die biblioteek wil besoek, kan haar vir aanwysings daarheen skakel. Haar epos-adres is: gerbeml@unisa.ac.za.
  • Die Staatsbiblioteek het ook ou koerante. Het iemand inligting hieroor?