Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.6.12

Wie's jou mak-aap?

Twee oud-kollegas van Die Transvaler, Willie Buys (links) en Joe van Buuren (regs), het, onafhanklik van mekaar, dieselfde storie aan K'rant gestuur, elkeen soos hy dit onthou en in sy eie styl neergepen

Die twee vertellings saam weergee die atmosfeer van daardie dag.



Willie Buys se vertelling:

Johann van Loggerenberg was ‘n ware heer – altyd bedagsaam en versigtig om nie onnodig aanstoot te gee nie. Maar hy was ook ‘n man wat nie geskroom het om sy spiere te bult as die geleentheid of situasie dit vereis het nie. Hy het ook ‘n uitstekende humorsin gehad.

Dus is ek nie tè bekommerd dat hy dalk (weer) van sy motorfiets daar bo-op die wolke met ‘n donderslag gaan afblikses nie as hy perdalks kennis neem van hierdie vertelling. Om die waarheid te sê, ek het dit al in sy teenwoordigheid opgedis – nie om hom in die verleentheid te stel of te verneder nie, maar om te illustreer hoe hy botsende gevoelens onder beheer gekry het sonder om aansien in te boet.

Al nuuskierig? Hier gaat ons…Almal wat in ‘n sekere era by Perkor was, spesifiek Die Transvaler, het oom John du Toit, rugbyskrywer par exellance en ook Sportredakteur, geken. Hy is en was self oënskynlik ‘n knorrige, maar kleurryke karakter.

Met oom John het jy nie jakkalsdraaie gegooi nie, want hy sou jou sommer gou-gou in geen onduidelike taal kortgevat het. Hiervan kan die skrywer self getuig, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Op die betrokke Sondag werk ek en my naweekspannetjie en, soos dit maar oor ‘n naweek gaan is die nuus, soos gewoonlik aan die einde van die week ,skaars. Die gewone roetine het gegeld – opvolg en nogmaals opvolg oor wat in die Sondagkoerante staan.

Genadiglik was dit rugbyseisoen om die komkommers se geile groei te inhibeer. Die betrokke naweek was daar en een of ander rugby-insident. Omdat Johann een van die knapper mense was wat die naweek gewerk het, het die eer hom te beurt geval om ‘n taaierige storie te probeer losknoop

Ek het met oom John daaroor gepraat en hy het bietjie nadinktyd gevra om leiding te kan gee. Soos die duiwel dit wou hê, het ek Johann net klaar in my kantoor “gebrief” oor die storie toe oom John daar instap.

Dit was die beginpunt van een van die koddigste, bisaarste gesprekke in my veelbewoë loopbaan. Oom John was salig onbewus oor wie die opvolg sou doen en hy het losgetrek met: “Sê vir daai mak aap van jou…..” Waarop Johann, bekend daarom dat sy humeur impulsief en blitsig die oorhand oor sy ordentlikheid kon kry, laat waai het met : “wie is jou aap…!”

Oom John, ook nie links met die humeur nie, reageer “jy is my aap…en wat gaan jy daaraan doen?”

Johann se respons? “Niks, maar ek is nie jou aap nie…”

Joe van Buuren se vertelling:

Peet Simonis se bydrae oor John du Toit herinner my aan ‘n storie waarin Oom John en my goeie vriend, Johann van Loggenberg, die hoofrolle vetolk het.

Wyle Johann was bekend vir sy droeë humorsin en hy het die storie graag self vertel.

Op ‘n dag sit Oom John in die nuusredakteur van Die Transvaler, Willie Buys, se kantoor en vertel hom van ‘n algemene nuusstorie waarvan hy te hore gekom het. Net toe stap Johann by die kantoor in en Oom John se vir Willie: “Vra sommer die mak aap van jou om die storie op te volg.”

John du Toit
Johann het hom net daar vervies en vererg. Hy was boos, die joos in, woedend, briesend, omgekrap, beswaard en gebelg, om nie eens van onthuts, onsteld, ontstoke en toornig te praat nie. Hy was skoon beneuk, befoeterd en nukkerig.

Ek oordryf nie wanneer ek sê sy moer het gepluk en gestrip nie. As daar slange in Willie se kantoor was, het Johann hulle gevang

Daarbenewens was hy nogal kwaad ook. Hy ruk hy homself op, gluur Oom John aan en vra kil: "En wie is miskien jou mak aap?".

“Jy, man” antwoord Oom John heel rustig.

‘n Kort stilte. “O ... dan is dit reg so, Oom” se Johann toe.

Johann se bruistee

Op 'n ander dag besluit Johann hy gaan die daaglikse ritueel om die teetafel opkikker. Hy gooi toe die inhoud van ‘n bottle Eno’s in die suikerpot.


Johan van Loggenberg
Ons wag om die tafel op die eerste slagoffer, toevallig toe ‘n vroue-kollega. So in die geklets versteen sy skielik terwyl sy haar bruisende tee verwonderd gadeslaan. 

Sonder om ‘n word te uiter, vlieg sy om en kies op ‘n drafstappie koers na Willem de Klerk se kantoor. Hoekom sy van mening was dat die saak die aandag van die hoofredakteur verg, verstaan ek tot vandag toe nie.

Dr. De Klerk het haar seker maar gepaai, want ons het nooit weer van die voorval gehoor nie.