Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.6.12

André was ’n man se man

PHILIP DEETLEFS skryf uit Windhoek:André de Bruyn was altyd ’n man se man. Hy het gehou van mansdinge soos motors en motorfietse en hoe om resies te jaag met hulle en veral militere aangeleenthede soos oorlog maak. André het by Die Vaderland presteer as militere korrespondent en het ook waar hy kon, hand gegee met die toets van motors, motorfietse en die bekendstelling van nuwe modelle. Sulke regte mansgoed was vir hom lekker!
Rynier Abrahamse (DV se Oos-Randse korrespondent in die jare sewentig) en ek het destyds saam in Windhoek begin werk in die jare van die DTA en die Turnhalle. Jakkie Groenewald (Die Vaderland Kuns) het toe by Swaruk (SWA se Raad vir uitvoerende Kunste) in Windhoek gewerk. André het nie lank gevat voor hy hom by ons aangesluit het nie. Ons het mos ‘n oorlog aan die gang!

Regs: André en Estelle de Bruyn (voorheen Oosthuizen) op hul troudag, 1 Mei 1984. 

Dit was die dae toe Namibia se huidige leiers terroriste genoem is en die grensoorlog in volle swang was. In die strate van Windhoek het ’n mens Samils (militere vragmotors), Kaspirs en manne in bruin uniforms met R1-gewere gesien. Baie van hulle. André de Bruyn se soort mens!
André het gou vriende gemaak met die ouens van die destydse 32 Bataljon en Koevoet – die rowwe manne wat graag ‘n fosforgranaat se pennetjie met sy tande uittrek. Hoe bloediger en meer Rambo, hoe beter.

In die destydse SWA/Namibië was André ’n gerespekteerde militere korrespondent en is dikwels deur die Gebiedsmag genooi om in die slagveld in Wamboland en in die suide van Angola te gaan verslag doen oor die dinge daar. Hy het ook een van die mees grusame versamelings oorlogfoto’s gehad. Fotos wat vir Bakkies Botha skrik op die lyf sou jaag.

Links: André saam met lede van die destydse S.W.A.-gebiedsmag. 

Hoe graag André ookal konflik en geweld wou sien, het hy ’n klein hartjie gehad. Ek onthou hoe hy een nag ’n klein katjie bo uit ’n boom gered het, wat nie kans gesien het om weer uit die boom te klim nie. Nie oor die gemiaau nie. Omdat hy wil help. André was nie ‘n bakleigat nie. Hy het net graag oor die bakleigatte verslag doen.

André is op 28 Oktober 1989 in die tuig in Wamboland dood na ’n skoot per ongeluk in die hotelkamer afgegaan het waar hy en ’n kollega tuis was. Sy vrou van daardie tyd, Estelle (voorheen Oosthuizen en verbonde aan die SAUK) en hulle seun Renier woon en werk steeds in Windhoek. Estelle is nou die redakteur van Die Republikein.