Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.6.12

G’n koerantmens kan só lank luister of kyk nie


Charl Thom skryf: Lekker staaltjie uit die tagtigs was ‘n byeenkoms van die Johannebsurgse Persklub, destyds nog onder voorsitterskap van Hans Lombard. ‘n Maandelikse ete is gereёl gewoonlik met nuuswaardige spreker.

Die betrokke maand egter, het Hans effens afgewyk van die gebruik en toe die een of ander wynkelder genader om vir ons ‘n wynproe te hou.
Dit was gratis en dus was daar natuurlik ‘n beter opkoms as gewoonlik!

‘n Pragtige meisie het die aanbieding behartig. Aanvanlik kon jy maar na haar aanhou kyk as jy nou nie soos die wynsnobs veel geweet het van ‘neus’, ‘hout’ en sulke terme nie. Maar sy het áángehou en áángehou met haar storie totdat die manne (en dames!) in die gehoor begin rondskuif.

Sy moes dit seker agte gekom het, want sy het toe nie veel langer aangehou nie, maar gevra: “Het enigiemand vir my ‘n vraag’?

Doodste stilte terwyl ‘n paar ouens vuil kyke uitdeel na diegene wat net lyk of hulle dalk sake met ‘n vraag verder gaan vertraag.

Toe steek een ou werklikwaar sy hand op. Die vuil kyke ten spyt. En die mooi meisie straal, want sy wil klaarblyklik só graag nog verder praat.

“Ja,” sê die ou. “My vraag is: kan ons jou asseblief help om al daai bottels oop te maak?”

Sy het net gesug en haar mooi koppie geknik. Toe PROE ons nie net die wyn nie.

Dis my mense daai!