Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.6.12

Ontmoet Die Transvaler se mense: 1971

Kort ná die eenwording van Voortekkerpers en die Afrikaanse Pers Bpk. het Hanekraai, Personeelblad van die Afrikaanse Pers (1962) Beperk, in sy April 1971-uitgawe soos volg berig . Laat weet gerus wat van die mense geword het.  



  
Die Transvaler se redaksie in Johannesburg (plus/minus): 
Inlas (links) mnr. Carl Nöffke, hoofredakteur, inlas (regs) mnr. Andries Botha, nuusredakteur. 

Agterste ry: W. Brase, S. van der Westhuizen, J. Herbst, W. Groenewald, J. Gieselbach, P. Bouwer, L. Coetzee, R. van der Kooy, L. de Lange, D. H. Dircksen, A. Lipschitz.

Tweede van agter: J. Bosch, mej. A. Ernst, mev. B. du Plessis, mej. O. Lombard, F. van der Merwe, H. Lombaard, mej. M. Pelser (vakansie-joernaliste), P. van Coller, H. Venter, C.D. Buitendag, mej. M. Kemp, mej. B. Moolman.

Derde ry: A. Jones, J. Deale, J. Venter, C. Steyn, A. Juyn, H.Kotzé, E. Thamm, D. MacDonald, D. Viljoen, J. Volschenk.

Voor: T. Kunneke, M. Engelbrecht, P. Roodt, K. Roelofse.


Die samewerking tussen Die Transvaler en die Afrikaanse Pers is nou al ou nuus. Hanekraai maak nou van hierdie geleentheid gebruik om die manne van Jorissenstraat bekend te stel. Op twee bladsye wys ons hoe die manne (en die dames) lyk en gesels mnr. Hennie Kotzé, assistant-redakteur van Die Transvaler, ’n bietjie oor sy kollegas. Etam, die spotprenttekenaar, beeld ook sy sienswyse van die samewerking uit.


WAT laat vinniger gerugte in ’n koerantkantoor ontstaan as sprake van oorname of van samewerking of ondersoeke na moontlikhede van samewerking? Hanekraai het die atwoord op hierdie joernalistieke raaisel gegee deur ’n foto van die redaksie van Die Transvaler aan te vra.

Die redaksielede het natuurlik nie geweet dat die artikel deur Hanekraai aangevra is nie. En toe was daar gissings!

Is dit om te bepaal wat inflasie veroorsaak? het bekommerdes gevra toe die volle omvang of amperes volle omvang van die redaksie gesien is by die samekoms vir die foto. Is die gedagte om te wys hoe baie so min produseer?

Of gaan daar … of … ? ’n Mens herhaal liewer nie alles nie. Base het ore. Om ’n hele redaksie bymekaar te kry, is om te probeer om water met ’n sif te vang. Soos nuus, is koerantmense gedurig aan die loop, oorloop of wegloop. By voorbaat dan verskoning dié wat met hierdie voorstelling van Die Transvaler se redaksie altemit oorgeslaan word.


Die hoofredaksie bestaan uit mnr. Carl Nöffke, hoofredakteur, mnr. Hennie Kotzé, assistant-hoofredakteur, mnr. Andries Botha, nuusredakteur en mnr. Sakkie van der Merwe, hoof van die Pretoriase kantoor.

Aan die spits in die nag is mnr. Adri Juyn, nagnuusredakteur. Pas het weer by ons aangesluit na ’n draai by De Telegraaf in Nederland, mnr Carl Steyn, assistant-nuusredakteur.

By sport aan die hoof is ook ’n ou bekende by Die Vaderland, mnr. John du Toit, wat weens ’n rugoperasie drie maande buite aksie sal wees. Hy word bygestaan deur mnre. Johan Volschenk, Joe Venter (hy is voorlopig net aan sport geleen), Sarel van der Westhuyzen, Neil Steyn (Pretoria) en Flip Otto.

Aan die roer van die finansiële afdeling is mnr. Robert van der Kooy, wat die hulp het van mnre. Louis Coetzee, en Pierre Bouwer. Saans sit mnr. Lucas de Lange hand by met die sub- en afrondingswerk.
Die nagmanne het mnr. Dawid Viljoen as hoofsub aan die spits. Sy span is mnre. Peet Smit, Koos Roelofse, Jan Celliers, Tienie Kunneke en Mike Engelbrecht, bygestaan deur mnr. Piet Roodt as polisieverslaggewer. Van tyd tot tyd is daar ook ander bekende gesigte van oud-kollegas wat op ’n deeltydse grondslag kom hand bysit.

Nouer samewerking het ingetree by die kuns- en vroueredaksie.Hierdie redaksie het „saamgesmelt” onder leiding van mej. Phillippa Breytenbach. Sy word bygestaan deur mej. Ona Lombard.
In die dagspan is mnre. Johan Deale, Mike Heine, Wessel Groenewald (landdroshof) en mejj. Marieta Coetzee (Hooggeregshof), Marietjie Kemp, Louis Basson en Karen Pretorius.

Mnr Piet Coetzer het pas oorgeneem as promosieredakteur.

Die hooffotograaf is mnr. Gert Hattingh, veteraan van menige jare, mnr. Abel Jones, mnr. Jacques Bosch, mnr. Alan Lipschitz en mnr. Jannie Herbst. In Pretoria het hulle nog twee kollegas – mnre. Gerrie Roux (was dit dalk Corrie?) en Hennie van der Walt. As redakteur platteland het ons nou wel nie Mej. Mielie nie, maar darem ons eie mej. Rika van Graan.

Noue samewerking op "sports"-gebied.
Eric Thamm, Etam, ons spotprenttekenaar, het natuurlik amper geen voorstelling nodig nie.
Die Pretoriase redaksie het as hoof mnr. Sakkie van der Merwe. Die res van die redaksie is mnre. Gus Cluver, André du Plessis, Herman Engelbrecht, Tienie Prinsloo, Johan Strydom, mev. Cecilia van Reenen, mej, Jeanette Wolhuter, mej. Elna Viljoen en mej. Annette Human met mev. Lynette Steenkamp as sekretaresse. Aan die politieke front is mnr. At Nel, waarnemende politieke beriggewer, en Jac de Vries, parlementêre verteenwoordiger.

In die buitekantore is mnr. Willy Brasé, Jan Smuts-lughawe, Willie Bester, Oos-Rand, Johan Stoltz, Wes-Rand, en mej. Sylvia Rodel, Vereeniging.

Die biblioteek staan onder beheer van ’n ou en bekende veteraan, mnr. Donald MacDonald (oom Mac), bygestaan deur mej. Buitendag en mev. C. Steyn.