Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Wys tans plasings met die etiket Philip Deetlefs. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Philip Deetlefs. Wys alle plasings

27.5.21

K’rant en sy dinge

PHILIP DEETLEFS skryf: Kom ons praat bietjie oor K’rant en sy dinge. Ek woon in Swakopmund, Namibia en Japie Bosch die meester wat die joernaal aan die gang hou, in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. 

Ons kommunikeer hoofsaaklik per epos of Whatsapp, maar so dan en wan verlang ons na mekaar en dan gesels ons oor die telefoon. Dit is wat nou pas gebeur het en vir byna ‘n uur aaneen. 

26.11.20

2020 op sy rug

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: 2020 was ‘n jaar wat lank onthou sal word vir meestal die verkeerde redes. Die pandemie het ons ganse wêreld verander. Ons sal waarskynlik nooit weer die prepandemiese leefstyl en doene beleef nie. 

Hier by K’rant was die nuus hoofsaaklik die aankondiging van ‘n oud-kollega wat heengegaan het. Nietemin, die lewe gaan aan, al is dit nie op dieselfde trant meer nie. K’rant se redaksie wens al sy lesers ‘n vreugdevolle feestyd toe en hoop reise sal voorspoedig wees en dat die nuwe jaar aangename verrassings vir almal sal bring.

8.11.19

Gogga maak vir baba bang

PHILIP DEETLEFS skryf: In die vroeë jare sewentig was ons ‘n jongklomp by Die Transvaler wat min of meer saam begin werk het en ook groot vriende geword het. Willie Buys was nuusredakteur, Carel Noffke die hoofredakteur.

Ek dink dis omdat ons eintlik so min geld verdien het dat ons as ‘n groep vriende en kollegas naweke saam “goedkoop” pret gemaak het. Een van ons prettige dinge was om te gaan piekniek hou by plekke soos Gillooly's Farm en ‘n plek iewers in die Wesrand waarvan ek die naam nie meer kan onthou nie. Daar was ‘n lekker diep poel in die rivier onder ‘n krans. Dit was ‘n gewilde piekniekplek met die eerste piekniekgangers wat natuurlik die uitsoekplek gekies het.

11.12.18

Om 'n komkommer te skil

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf:  Dis reeds weer daardie tyd van die jaar wat die komkommers volop is en die nuus skraps.

By K’rant is dit na al die jare se ywerige bydraes nou eintlik heeltyds komkommertyd. Die stories wat ons kon onthou is geskryf en die wat nog nie geskryf is nie, kan ons nie meer onthou nie?

K’rant se redaksie sal vroeg in die nuwe jaar weer gereed staan om enige storie wat by ons aanland die nodige aandag te gee. Voor dan kan ons lesers steeds stories instuur en wie weet, dalk beland die storie op die voorblad voor 2019 sy kop uitsteek!

Ons wens al ons lesers ‘n vreugdevolle Kerstyd toe en hoop almal kom veilig by hul vakansiebestemmings aan en weer tuis. Voorspoed en goeie gesondheid vir 2019 wens ons almal toe.

23.11.17

Komkommers bring die bobbejaan uit die berg

PHILIP DEETLEFS, K'rant se redakteur, skryf: Soos elke jaar is dit omtrent nou dat komkommertyd behoorlik aanbreek. Komkommertyd wanneer koerante en ander media dikwels stories dra wat deur “kenners” bevestig is, maar so ver soos Paasnaweek van die waarheid af is.

Gerugte versprei met ons selfone deesdae soos ‘n veldbrand en ons het hier in Namibië verlede week al besef dis komkommertyd toe die stories oor die radio, TV en in die koerante dik geloop het van Grace Mugabe wat dalk in haar geboortedorp, Benoni wegkruip of dat sy politieke asiel in Namibië gevind het en reeds in Windhoek is.

16.6.17

K’rant scoop Rapport en homself

PHILIP DEETLEFS skryf: Vier en ‘n half jaar gelede toe K’rant ses maande oud was, het Jean Oosthuizen vir ons ‘n heerlike storie oor PG du Plessis (nou wyle) geskryf. Ná PG se dood nou die dag soek ons hier by K’rant naarstiglik na iemand wat vir ons iets uit ‘n Perskor-hoek oor PG kan skryf.

Op Facebook sien ons toevallig Jean Oosthuizen se treffende storie oor PG wat 100% in die Perskor-ruimte pas. Rapport het dit oor die naweek gepuliseer, maar K’rant wil dit vir die rekord en toekomstige verwysing plaas.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

23.6.16

Dave Viljoen se kollegas onthou

FRANS SCHEEPERS skryf: My loopbaan in die joernalistiek het eintlik maar by Dave begin. Hy was hardegat, maar ook mens. Ek sal nooit vergeet die nagte dat ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs by sy woonstel in Alberton deurgebring het met 'n pak kaarte, 'n mandjie vol biltong, liters whisky en handevol munte rondom die pokertafel nie. Kosbare tye wat ek altyd sal koester.

Hy was maar moeilik, en ons het hom dikwels verwens. Maar ons onthou ook sy seerkry-tye, toe hy gevoel het sy persoonlike lewe stort in duie. Wie onthou nog toe wyle Grobbie sy bruid Adele letterlik onder die bruidstafel ingedans het. Dave was van die ou skool. En min van vandag se joernaliste sal weet wat dit beteken. Dankie Dave, dat ons jou kon ken. Ek drink vir oulaas 'n dubbel whiskey op jou lewe.

15.4.16

Blaas nuwe lewe in K'rant!

PHILIP DEETLEFS skryf: Hier by K'rant huldig ons die mening dat hierdie publikasie nie net lekker onthou-stories van oud-werknemers van Perskor en aanverwante publikasies bevat nie, maar dat dit ook 'n nuttige naslaanbron oor die geskiedenis van die joernalistiek en die drukkersbedryf in die era voor die heengaan van Perskor is.

10.12.15

Al weer komkommertyd


Die afgelope jaar het toe vervlaks vinnig afgeloop.

Op K'rant se terrein is die jaar gekenmerk deur uitgawes wat nie meer so volop was soos vorige jare nie, maar as 'n mens die gemiddelde ouderdom van gewese Perskor-werknemers in ag neem, is dit seker te verstane.

Hierdie is die laaste bydrae vir 2015 want daar is al 'n vrag komkommers wat al weer hard roep om geskil te word en dis immers die redaksie se taak. Indien die rusdae enige herinneringe uit die Perskor-dae wakker skud, pen dit asb neer en stuur aan vir die nuwe jaar.

Ons wens al ons lesers alles wat goed en mooi, vredevol en vreugdevol is, toe vir die feesdae. Ry voorspoedig en kom ongedeerd tuis.

20.10.15

Aas vir storie-vangs

PHILIP DEETLEFS skryf: Ná Piet Ebersöhn se reeks skitter-onderhoude met oom Hermie Hendriks en ander bydraes van die jongste tyd het ons heelwat terugvoering gehad van gereelde lesers wat vir ons vertel het hoe lekker dit is om weer iets nuuts op K'rant se voorblad te sien, en die redaksie stem saam!

Martie Retief Meiring se boodskap is sprekend van die terugvoering wat ons gekry het:

2.4.15

Totsiens Sapa

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Sapa-berig hieronder is die laaste een ooit. K'rant se redaksie het dit goedgedink om die berig verbatim te plaas nadat Sapa sy ligte Dinsdag om middernag vir oulaas afgeskakel het. Saam met Gerhard Burger (e-pos onder) sê ons namens al die oud-Perskormense dankie aan Sapa vir die getroue diens wat oor al die jare so mildelik aan intekenare gebied is.

In hierdie Sapa-berig word twee van ons Perskor-kollegas genoem. Die eerste is Hannes de Wet. Hannes was in sy dae hoofverslaggewer van Die Vaderland en later parlementêre verslaggewer en toe Perskorburo se verteenwoordiger in Washington.

27.3.15

Sapa kry die doodskoot

PHILIP DEETLEFS skryf: Een van die eerste dinge wat 'n mens as leerlingverslaggewer moes leer doen, was om te tik. Nie sommer net uit jou kop uit nie. Nee, jy moes van die Sapa-berigte wat onophoudelik uit die teleksmasjien gekom het, vertaal.

Van die eerste "stories" was om Sapa se weervoorspelling vir die volgende dag vir die hele verspreidingsgebied van die koerant te vertaal. Jy moes ook die stories afskeur en vir die nuusredakteur gee sodat hy dit vir verdere aandag kon uitdeel. Stories moes dalk opgevolg word of net vertaal word.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.

17.6.14

Ope Vraag 10: Is die media eerliker vandag of net nie skaam nie?

PHILIP DEETLEFS skryf: Piet Ebersöhn noem nou die dag dat die taalgebruik (en die gebruik van ons taal?) in die hedendaagse media veel te wense laat.

Die jong mense van vandag gebruik allerhande snaakse afkortings om vinnig iets vir 'n maat met sy foon te vertel. Koerante en tydskrifte gebruik nie meer regtig slangetjie- en krulletjie-karakters en die destydse Scope-sterretjies om growwe taal en kaalfoto's te verbloem nie.

30.5.14

Leeu brul ons by die paal op

PHILIP DEETLEFS skryf: In die jare 70 toe André de Bruyn by Die Vaderland was en ek by Die Transvaler, het ons in 'n stadium albei veldmotorfietse gehad en Sondagoggende graag vir die pret in die veldpaadjies rondom Johannesburg gaan rondry.

Een Sondag het ons saam met Digby Wesson, skakelman van Honda, in 'n westelike rigting in die voetpaadjies gery toe André se agterwiel skielik pap geword het. Ons blitsige oppomp-goed werk nie op die skeur in sy band nie en rondom ons kan ons net veld sien – niks huise nie.

22.5.14

Ope Vraag 9 - Laat die verbeelding loop!

Elkeen van ons kan seker dink wat die heel grootste, lekkerste en mees
opspraakwekkende storie is wat jy graag sou wou/sal wil skryf? Vertel ons daarvan.

PHILIP DEETLEFS druk voor in: As ek my verbeelding die loop laat vat, dink ek die storie wat ek die graagste sou wou skryf is as daar lewende wesens van die buitenste ruim toevallig voor my iewers in die Namib vir die eerste keer op planeet aarde sou kom land.

14.5.14

Wees asseblief opdringerig!

Redakteur Philip Deetlefs skryf: Soos ons spook om K'rant elke weeksdag met 'n vars storie die lig te laat sien, het ons ontdek dat die Perskor-mense eintlik woes skugter is.

Hierdie week het ons van die tweede oudkollega die vraag gekry of hulle nie opdringerig raak as hulle te gereeld of meer as een storie op 'n slag instuur vir publikasie nie. Kan jy glo?



Daar is net een ding wat K'rant se voortbestaan sal verseker en dit is om julle bydraes te kry. Vertel vir ons van interessante, snaakse, nare, skrikwekkende en lekker voorvalle wat julle as werknemers van Perskor beleef het – by die werk en buite die werk.

Moet ook nie vergeet om julle stories met foto's uit julle ou fotoalbums te illustreer nie.



Kom ons kyk hoe lank ons K'rant vir almal lekker leesstof kan maak en hou. Ons is mos een groot familie – daar's nie plek vir skugter wees nie! 

8.5.14

Ope Vraag 6: Seëning of skade?

PHILIP DEETLEFS skryf: Ek lees nou die dag ´n stuk oor verslaggewers wat indiens-opleiding kry. Hulle word gevra wat die belangrikste vraag is wat hulle iemand kan vra met wie hulle 'n onderhoud voer.

Die beste antwoord? Vra die persoon aan die einde van jou onderhoud watter vrae jy nagelaat het om hom of haar te vra.