Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.6.12

Vertel die stories solank jy kan onthou!

Suzelle Fourie skryf: In die lang lys van mense wat op K’rant se jongste uitgawe gesoek word, sien ek Paul Kruger wonder wat van Joan (Crafford) Kruger geword het. Dié woelgees, wat in die jare sedert haar groentjiedae by Die Vaderland al ‘n doktorsgraad in die letterkunde verwerf het, is in die Kaap. Sy is ‘n mede-stigter en direkteur van TiP Publishing, wat ‘n verskeidenheid sogenaamde nis-tydskrifte publiseer. Hul kantore is in Woodstock, telefoonnommer is (021)447-6094. Joan se e-pos-adres is joan@tipafrica.co.za

Self sal ek ook nogal graag wil weet wat van oorle’ Gerrie se mede-fotograwe geword het. Uit die aard van die saak het ek hulle destyds nogal goed leer ken, veral Philip Herselman. En waar bevind Marie Lindeque haarself deesdae?

Ek het Johan Liebenberg se stukkie oor Viëtnam geniet, maar reken die ou kon heelwat meer liries daaroor geraak het. Ek het Viëtnam en Kambodja reeds in 1998 besoek en dit was sonder twyfel my heel beste toerisme-ervaring ooit. Maar dis nou al lank terug.

Intussen het ek ‘n jaar in die enigmatiese Xinjiang deurgebring en dit bied nogal héélwat vertelstof!

Omdat my bakkies nou onlangs op die blog was, wil ek nie alte ek-is-ook-hier, of is dit nou ek-was-ook-daar, voorkom nie. Maar ‘n mens moet seker jou stories vertel terwyl jy hulle nog kan onthou en julle sal dus wel ‘n skryfseltjie, of dalk selfs twee, oor my China-ervaring te wagte kan wees. (‘n Webjoermnaal is mos maar soos ’n koerant, die dêm ding moet konstant gevoer word, né?)