Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.6.12

Godslastersaak troef Zuma se „Spies”

ANDRIES BOTHA was kwalik drie dae by Die Transvaler na sy drie jaar op universiteit toe die opspraakwekkende godslasteringsaak van Harold Rubin in sy skoot gewerp is. Dit het meer as ’n maand geduur en het ten nouste om die vryheid van kuns en spraak gegaan.Dit het ’n baie diep indruk op sy jong gemoed gemaak en hom anders laat kyk na kerk- en politieke leiers en hul dogma.

Kan julle glo dat ’n junior verslaggewer binne die eerste week van sy beroepslewe gekonfronteer word met ’n hofsaak oor ’n naakte skildery van Jesus met die woorde "I forgive you, O Lord, for you know not what you do" as onderskrif?

Dit het met my gebeur en ’n onuitwisbare indruk op my jong lewe – en daarna – gemaak.

Die skilder was Harold Rubin en hy is van godslastering aangekla. Aan die voorpunt was ds. G.A. Cruywagen van die NG gemeente Malvern. En ds. D.F. de Beer, voorsitter van die NGK se Kommissie vir Openbare Sedelikheid, wat die skildery sommer holus bolus as godslasterlik verwerp het, hoewel hy dit nog nie gesien het nie.

Die skilder was ene Harold Rubin, ’n Jood van 30, wat argitektuur aan Wits geswôt het.

Die „daaise” was gelaai teen hom toe hy op 7 Januarie in die Johannesburgse streekhof verskyn het. En wie sou nou nie glo dat enige mens met ’n Calvinistiese agtergrond die skilder absoluut skuldig sou bevind nie?

Hy was ’n gevestigde kunstenaar wat tussen 1956 en 1962 vyf eenmanuitstallings gehou het, meestal oor sosio-politieke kwessies, insluitende ’n reeks oor Sharpeville, wat in 1960 wêreldnuus was.

Oor die hofsaak self: Die Staat kon nie ’n enkele ware kunskenner kry om vir hom te getuig nie.

Daarteenoor het die Verdediging kunskenners soos Uys Krige, Richard Daneel, Cecil Skotnes en prof. Heather Martienssen, hoof van die departement skone kunste aan Wits, gekry om vir Rubin te getuig.

Rubin se skildery
Die verdediging het ook aanhalings van digters soos N.P. van Wyk Louw, Eugene Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Toon van den Heever en W.E.G. Louw aangehaal om te bewys dat die oppermag van God altoos bevraagteken word en dat Eugene Marais in die gedig "Is Daar Nog Trane" in opstand kom teen God, net soos wat Rubin dit in sy skildery doen.

Daarteenoor het prof. A.B. Du Preez, Hoogleraar in Teologie aan die Universiteit van Pretoria, vir die Staat getuig dat Michelangelo sonde gedoen het toe hy Jesus naak geskilder het, aangesien die Bybel dit verbied. Prof. Du Preez was „geskok” om te verneem dat naakte afbeeldings van Christus voorkom in Bybelboeke wat aan NG Kerk-kinders gegee word. Hy het vir die Staat getuig sonder dat hy Rubin se skildery gesien het.

Die storie agter die storie is egter dat die blote vertoon van ’n skildery nie tot ’n klag van godslastering kan lei nie. Daar moet bewys word dat dit ’n oproer in die gemeenskap veroorsaak het. Die man wat die „oproer” veroorsaak het, was ene mnr. Jeff O’Connel, wat die dag van die oproer "toevallig" twee staatsgetuies, ds. Cruywagen en mev. Bes Spruyt-Lambrechts, ’n Afrikaanse skrywer, by die kunsgalery in die middestad, Gallery 101, ontmoet het.

Ds. Cruywagen het toe kliphard gesê hy gaan die saak na mnr John Vorster, toe minister van justisie, neem om verder te voer. Ds. Cruywagen het ook gesorg dat Die Vaderland daar was om die „oproer” te verbeeld.

Picaso-skildery
En die verdediging het ’n foto op die voorblad van The Star voorgelê, asook ’n rolprent, waarin gewys word hoe mnr. O’Connel lede van die Black Sash en die Progressiewe Party voor die Johannesburgse stadsaal met eiers, tamaties en sigaretstompies bestook. Daar is aangevoer dat hy ’n beroepsbetoger is. (Waarskynlik deur die Staat vergoed daarvoor, was die implikasie.)

Belaglik was die Staat se klagstaat wat gelui het dat Jesus met die gesig van ’n monster voorgestel word in Rubin se skildery. Dr. George Lowen, vir Rubin, het daarop geëis dat ’n monster as bewysstuk ingedien moet word!

Sers. P.O. Pirie, wat die skildery gekonfiskeer het na die „oproer”, het nie van ’n Picasso-skildery gehou wat aan hom getoon is nie, maar ’n afbeelding op ’n sjokoladedoos as "meer in my smaak" genoem. Dr. Lowen het gesê dat hy seker is daarvan dat as sers. Pirie na ’n kunsgalery gestuur word om ’n Leonardo da Vinci te gaan haal, hy sal dink dis ’n onwettige Italiaanse immigrant.

Sjokoladedoos-afbeelding
Ds. Cruywagen het lelik kleigetrap toe dr. Lowen hom in kruisverhoor geneem het.

Dr. Lowen: Ek stel dit aan u dat u graag in Julie verlede jaar ’n oproer wou gehad het in die kunsgalery waar Harold Rubin se "My Jesus" uitgestal was. Daarom het u ’n sekere mnr. O’Connel daar ontmoet en gesorg dat daar persfotograwe teenwoordig was.

Ds Cruywagen: Ek ken mnr O’Connel swak en het hom slegs by een of twee geleenthede gesien.
Tog het hy mnr. O’Connel op die foto van die betogers voor die stadsaal herken toe dit aan hom getoon is.

Hy het gesê dis „absoluut kinderagtig” dat hy ‘n oproer by die kunsgalery wou hê, maar tog erken dat hy sy kamera saamgeneem het. "U stelling kan my in die verleentheid bring by my kerk en ek beskou dit as ‘n groot belediging," het ds. Cruywagen verontwaardig gesê.

Kunskenners en letterkundiges, wat vir die verdediging getuig het, was dit eens dat Rubin se woorde onderaan die skildery nie ’n klag teen God is nie, maar teen die mensdom. As Jesus vandag, 2 000 jaar nadat hy vir ons sondes gesterf het, moet toesien hoe mense atoombomme maak om miljoene mee dood te maak en al die ander sondes wat toenemend gepleeg word, kan hy wel meen dat sy Vader hom verniet laat sterf het.
  • Landdros P.J.T. Nel het Rubin onskuldig bevind en in sy uitspraak gesê die almag en onfeilbaarheid van God is deur die eeue deur kunstenaars bevraagteken sonder dat hulle vir godslastering vervolg is. Hy het gesê hy het sy oordeel nie gegrond op dié van kunskenners of teoloë nie, maar op grond van die gewone, gemiddelde, redelike mens. 
  • Die skildery is vir R150 verkoop. Rubin het die land onmiddellik ná die uitspraak verlaat en gesê mense moet veg vir die vryheid van die kunste, maar hy het nie die moed daarvoor nie. Hy het hom in Tel Aviv gevestig waar ek hom opgespoor en met hom gesprek gevoer het. Hy het op 13 Mei vanjaar 80 geword. Rubin het wêreldwyd uitstallings gehou – onder meer ook twee keer sedert sy vertrek in die Goodman-galery – en hy het sy eie jazz-orkes in Tel Aviv gestig waarin hy die klarinet speel. Hy het verskeie geboue daar opgerig en lesings gegee.