Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.6.12

Tussen klippe en traanrook was koeldrank nie die antwoord

JOE VAN BUUREN herleef die koue en gevare van nuusinsameling tydens die Soweto-onluste van die jare sewentig.

IN die vroeë jare sewentig is ’n hele nuwe geslag joernaliste by Die Transvaler aangestel ter voorbereiding van die koms van Beeld.

Onder die jongklomp wat destyds saam met my in Aucklandpark ingeval het, was Johann van Loggerenberg, André de Kock, Phillip Deetlefs, Gert van Rooyen, Piet Ebersöhn, André Pienaar, Frans Scheepers, Alwyn Strydom, Stella Fouché, Danie Malan, André le Roux en Lala Wahl.

Stella was heel gevat met byname. Dis juis sy wat die Doornfontein Hotel die naam Vegkop gegee het. Sy het ook baie van haar kollegas herdoop.

Ons was destyds rof en onbeskof, met nòg kind nòg kraai, en koerantwerk was ’n groot avontuur.

Soms was ’n algemene verslaggewer se werk ook maar onaangenaam en selfs gevaarlik.Dit het ek besef toe ek gedurende die onluste van die jare sewentig gereeld Soweto ingevaar het.

Die onrus het die eerste keer in 1976 opgevlam. Dis juis toe dat André de Kock in die hospitaal beland het nadat hy in ’n persmotor in Soweto met 'n stuk beton bygekom is.

Ek het die volgende jaar by die spul betrokke geraak.

Die onluste het elke jaar in Junie plaasgevind en dit was altyd ysig koud.

Die joernaliste en fotograwe van Die Transvaler, Die Vaderland en The Citizen het soggens so teen vyfuur by Perskor in Doornfontein bymekaar gekom.

Daar is eers ’n draai gemaak by Fontana in die High Point-gebou in Hillbrow, waar ons gebraaide hoenders gekoop het.  Met die hoender, vodka en twee liter Sparkling Lemon was ons gereed vir die dag se werk.

Ons is in die yskoue donkerte met die ou Potch-pad na die Protea-polisiekantoor in Soweto. Daar het ons op die sonsopkoms gewag.

Ons taak was hoofsaaklik om onderskrifte vir die foto’s te skryf, aangesien ons natuurlik net dit kon sien wat in ons onmiddellike omgewing gebeur ... Dave Raath het op kantoor gesit en die oorhoofse storie van die polisie gekry.

Sodra dit lig was, het ons die strate van Soweto ingevaar.

Die ruite van ons Peugeot 404's is bykans elke dag met klippe stukkend gegooi. Die ruite was van veiligheidsglas, maar wanneer ’n mens die hele dag in daai stukkies glas moet sit, raak jou agterstewe gou seer.

Die Transvaler se fotograaf, Mac van der Walt, het vuurwapens versamel en hy het soggens daar aangekom met ’n arsenaal waarmee ’n mens ‘n jong oorloggie kon voer.

Soms het ’n ou wat die eerste keer in Soweto verslag doen, met ‘n valhelm opgedaag, maar sy kollegas se op- en aanmerkings het gewoonlik veroorsaak dat hy gou daarvan ontslae geraak het. So tussen die klippe en traanrook deur het ons aan die hoenders gepeusel en natuurlik gereeld ook onder die prop gegaan.

Op ’n dag het die manne van The Rand Daily Mail met ’n supermotor daar aangekom. Die ruite is met metaalroosters bedek en die slotte is so aangepas dat die deure nie van buite oopgeruk kon word nie.Daar is ook stroke van daardie skerp hakke wat ’n mense dikwels bo-op voorstedelike mure sien, aan die onderkante van die motor aangebring sodat dit betogers duur te staan sou kom indien hulle die voertuig sou probeer omkeer.

Die res van ons was natuurlik erg beindruk deur die motor en ons het daar en dan besluit om Perskor om ’n soortgelyke voertuig te vra.Nadat die mense by die vervoerafdeling gelag het dat die trane by hul wange afrol, is ons meegedeel dat dit nie gaan gebeur nie.

Dis was ook maar goed so, want die supermotor was ’n volslae, algehele en totale mislukking.

Die Mail-manne het sommer dadelik agter gekom hulle kon nie foto’s deur die metaalroosters neem nie.Wanneer die fotograwe hulle werk wou doen, moes hulle dit dus buite die motor waag.Dit was ’n groot probleem en die supermotor is ’n paar dae lank nie gesien nie.

Toe hy weer sy opwagting maak, was daar verskeie veranderings.’n Stuk van die rooster voor elke ruit is uitgesny en met skarniere vasgeheg sodat dit oopgemaak kon word.Dit het egter ook nie gewerk nie.Die ouens het besef hulle kon net tonele reg voor hulle afneem en die supermotor het stil-stil verdwyn.

Foto gemanipuleer.
Destyds het die betogers hulle streng by kantoorure gehou en vyfuur smiddae is hulle huis toe.

Teen daardie tyd was die hoender, die vodka en die Sparkling Lemon lank reeds op en ons het teruggekeer na Doornfontein om ons werk af te handel …Daarna het ons na Vegkop verdaag.

Ek het Jasper Schelleringhout se onlangse bydrae met groot belangstelling gelees, en ek sou graag wou skryf dat ons oor ’n paar koeldrankies oor die dag se gebeure besin het, maar dit sou nie waar wees nie.