Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.5.12

Van Oggend by die Teetafel tot Saans by die Sans

PAUL KRUGER herroep herinneringe uit die laat sestigerjare aan Empireweg-verlenging 8, Aucklandpark, Johannesburg, vierde verdieping.

Om aan die redaksie van ‘n groot koerant soos Die Vaderland verbonde te wees, was nie net ‘n groot voorreg nie, maar ‘n belewenis wat moeilik omskryf kan word. Een aspek wat my bybly, is dat die mense
daar in die nuuskantoor daagliks onderwerp was aan die een enkele kwessie wat die sirkulasiesyfers opwaarts gedruk het – tragedie – dood, moord, ongeluk! Alle ander nuus was slegs terloops en het/moes agtertoe staan vir hierdie wrede indringer.

Hierdie mense, dis nou almal van verslaggewers, fotograwe, redakteurs, subs, moes hierdie fenomeen elke dag verwerk. Toentertyd het die woord in hierdie spesifieke beskrywende verband nog nie bestaan nie, maar vandag se dae praat almal van trauma.

(Sans Souci beteken "Sorgvry")

Die verwerking hiervan was egter nie ‘n eenvoudige saak nie en het die teetafel en die Sans (Sans Souci Hotel) hulle deel gebring om die mense regop te hou. Wat op my ‘n blywende indruk gemaak het, was die verstommende spitsvondigheid wat uitgebruis het wanneer die teeketel en koppies soggens/etenstyd opgedaag en die mense hulle dors gaan les het. Dit was egter nie net die dors van die keel nie, maar dikwels ‘n dieper dors.

Koos du Plessis
Hierdie gladdebekgeit het die binnewese van die mense verskuil en in ‘n oogwink oorgeskakel in die merkwaardigste, spontane, natuurlike, satire wat jy baie duur sou moes voor betaal as jy dit op die verhoog wou sien. Dit was vir my die grootste lekkerte om eenkant te staan en hierdie gesprekke aan te luister. Die skerpte het links en regs gesny met ‘n spoed wat jy kon glo nie, met Koos Doep dikwels aan die voorpunt. En net soms, het ‘n bittere verbittering deurgeslaan, net soms. Alles was daarop gemik om die woelinge van die binneste vir ‘n kort oomblik by te lê.

Daai teetafeloomblikke sal ek nooit vergeet nie, net jammer dat ek of iemand dit nie opgeteken het nie. Len Lindeque was die enigste waarvan ek weet wat dit verhoog toe gevat het. Met groot sukses. Dit was flippen snaaks, maar dit het diep ingekeep tot daar binne-in die hartkamers se gevoelente. (Lg ‘n Christi du Preez-uitdrukking)

Een besondere dag het daar ‘n ding gebeur wat in my geheue vasgesteek het. Tee het opgedaag en almal skuifel soheentoe vir die oggend se hoogtepunt. Staan ons in ‘n ry afwagtend vir ‘n kans by die ketel. Terwyl die eerste ou skink, peul daar ‘n yslike kakkerlak by die tuit uit en val in die koppie, morsdood en ten aanskoue van almal. Daar was eers ‘n afwagtende stilte en ek weet nou dat julle ‘n afkeurdebat oor higiënde verwag. Niks daarvan nie, die ou met die ketel in die hand staan ‘n oomblik doodstil en verklaar toe met ‘n gevoelvolle “bliksem”, en ‘n vraag aan die ander of hulle hulleself kan indink watter verskriklike dood die arme insek moes gesterf het. Warm tee is nie ‘n grap nie! Beaam ons ander dit luidkeels en sê een in aanklag van die kafeteria dat die kokke darem eers die ketel moes beveilig het om hierdie soort van wrede sterfte te voorkom. ‘n Ander vra dat die misdaadredaksie hierdie ernstige aangeleentheid moet ondersoek en die nodige stappe te doen vir vervolging indien nodig. Nog een vra dat die DBV verwittig moet word.

Foto: Wikipedia
Dit was ‘n tipiese teetafeloomblik.

Alle verslaggewers se beats het natuurlik nie dieselfde blootstelling aan die tragedie-trauma gehad nie, maar by die teetafel het die ouens op die skoknuusvoorfronte dikwels die stories agter die stories vertel wat almal se harte en denke aangeraak het.

Soms moes almal egter inspring, soos met groot rampe waar daar vele mense dood is, soos die Windhoekvliegramp, die skoolbusramp suid van Johannesburg waartydens ‘n trein die bus min of meer verpletter het. Wanneer so iets gebeur, is dit, benewens die storie, van groot belang om soveel foto’s as wat moontlik is van die slagoffers te bekom. En dit was ‘n yslike stryd tussen die koerante om die dekking so volledig as wat moontlik is te doen. Dit het beteken dat al wat ‘n verslaggewer en fotograaf uitgestuur is, elk met ‘n handvol adresse van naasbestaandes om die foto’s te gaan kry.

Foto: Henley-on-Klip, Die Movie, You Tube
Sal nooit vergeet nie hoe jy met ‘n bedroefde ma in jou arms en terwyl sy jou skouer nat huil, rondkyk in die vertrek of jy toepaslike foto’s raaksien en dit dan afbedel. Nie altyd ewe lekker nie en ek reken dis waarvan trauma aanmekaar gesit is.

Naas die teetafel was die byeenkomste saans by die Sans ‘n ander uitlaatklep waar die koerantmense hulle seerplekke gaan besweer het. Moet net nie onder die indruk verkeer dat daar by die Sans gesuip, soos in gesuip, is nie. Dit was meerendeels ‘n biertjie of twee, want salarisse het in elk geval nie ‘n uitspattigheid toegelaat nie. Die ouens het maar so met die saamwees bier in die hand op mekaar se skouers geleun.

Een laat middag na nog ‘n traumatiese dag by die kantoor, staan die mense en suie (Christi du Preez se uitdrukking) aan hulle se dop toe een van die manne wat die dag oor een of ander tragedie verslag moes doen, plotseling op ‘n stoel spring en almal se aandag vra. Met ‘n bier in die hand hoog in die lug gedruk, verklaar hy en dit terwyl trane oor sy wange afkruie: Vir almal wat wil weet, ek is ‘n mens met ‘n hart, ‘n regte hart! Drink saam met my ‘n heildronk op alle mense met harte. En die ander beaam met duidelike stemme en opregtheid in ‘n koor: Op alle mense met harte ... !

Wonner wat doen die koerantmense vandag se dae? Is daar nog tyd vir sulke bymekaarkom en is daar nog teetafels in die redaksielkantore?

Met al hierdie trauma in onse lewens, het ek as amateurskrywer dit so probeer uitdruk en na '94 verder aangepas. Altemit maak dit vir iemand daar buite sin.


Gebed in Reverse 

‘n Skewelewe perspektief op ‘n onbeligte negatief 

onse vaders wat op die aarde is
laat julle naam beveilig word
laat julle moordbendes kom
laat hulle wil ons skiet en skiet
soos in vreemde verre lande
so ook hier by ons in suid-afrika
gee ons vandag ons daaglikse dood
en lei ons nie na vrede nie,
verlos ons van die liefde
want aan julle behoort al die volke
en die mag
en die vrees(likheid)
vir nou en vir altyd
Omen