Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.6.12

Jakkie in André Verster se spore as akteur

JAKKIE GROENEWALD, vroeër van Die Vaderland en Transvaler se kunsredaksies, vertel van sy bedrywighede as akteur.

JOERNALISTE in die kunste het nog altyd die voorreg gehad om internasionale sterre te ontmoet wanneer hulle Suid-Afrika besoek het.

In die loop van die jare by Die Vaderland en later Transvaler, het ek
onderhoude kon voer met kunstenaars soos Cliff Richard, Richard Harris, Rolf Harris, Demis Roussos, Juliet Prowse, Chris de Burgh, Tom Jones, om maar ’n paar te noem.
Min het ek geweet Benewens joernalis wees, het ek ook terselfdertyd die rol van akteur vervul (soos André Verster ook gedoen het). Hoewel ek drama op Stellenbosch geswot het, het ek in 1975 by Beeld as hofverslaggewer ingeval voordat ek ná ses maande by Die Vaderland se kunsblad beland het en dit het daartoe gelei dat ek heel per ongeluk sommer akteur geword het.

Ek is deur die regisseur Jan Scholtz genooi om die stel van Eensame vlug vir Die Vaderland te besoek en die betrokke dag het ’n akteur nie opgedaag om ’n rol te speel nie. Jan het geweet dat ek drama geswot het en my gevra om daar en dan die rol te speel.

Dít het daartoe gelei dat ek met die jare in sowat 170 produksies (TV, rolprente en verhoog) gespeel het.

Benewens dat ek saam met die groot geeste in Suid-Afrika soos Cobus Rossouw, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Carel Trichardt, Louis van Niekerk en Wilna Snyman kon speel, het ek ook die voorreg gehad om saam met Clint Eastwood te werk, asook met die Oscar-wenner, Sophie Okonedo.

Clint Eastwood het my vir ’n klein rolletjie in Invictus gekies wat hy in Suid-Afrika kom skiet het. Dit was die rol van ’n polisieman wat buite Ellispark tydens die Wêreldbeker-eindstryd tussen die Bokke en die All Blacks diens gedoen het. Die rol was baie klein, maar volgens Clint baie belangrik aangesien dit die kulminasiepunt in die film vergestalt het waarin gewys is hoe Suid-Afrikaners van alle kleure verenig is.

Ek het hom gevra of hy enigsins iets van rugby af geweet het voor hy die film kom maak het. Sy antwoord was, "I watched a friend's son play rugby in the US, but I mostly watched soccer. However, I don’t know why, because soccer is a shit sport. I also prefer rugby to American football. The footballers wouldn’t last one minute in a rugby game. They'll be killed."

Clint is ook ’n man plat op die aarde. In teenstelling met sommige Amerikaanse kunstenaars wat as "Mister ..." aangespreek word, wil hy net Clint wees. Ander regisseurs wil ook hê dat die akteurs rigied by hulle voorskrifte en idees moet hou. Nie Clint nie. Tydens ons verfilming het ek vir hom gevra of ek iets kan voorstel. Hy het geluister en die hele filmspan nader geroep en gesê, "Jokkie (sic) has an idea. Listen to him and do it." Die buitelanders saam met wie ek gewerk het, het nog altyd ’n probleem gehad om my naam uit te spreek.

Wat my ook beïndruk het, is die wyse waarop die Amerikaners werk. As jy in Suid-Afrika skiet, moet jy reeds om 06:00 op die stel wees. Dan word ontbyt geëet, om 11:00 tee gedrink, 13:00 middagete, 15:00 weer tee en dan maak jy klaar as die son ondergaan. Clint begin om 09:00 te skiet en daar is geen onderbrekings nie. Diegene wie se tonele klaar verfilm is, kan eers teen 17:00 iets eet. Boonop is hulle tegnologie (kameras en beligting) ons ver vooruit.

Links en regs:  Jakkie Groenewald saam met die Britse akteur David Harewood en met Oscar-wenner Sophie Okonedo op die stel van die rolprent Mrs. Mandela. Jakkie het die rol van Mandela se persoonlike bewaarder, Gregory, vertolk.

 Sophie Okonedo is ’n Nigeriese aktrise wat in Londen woon. Ek het saam met haar in ’n film vir die BBC, Mrs. Mandela, gespeel. Sy het ’n Oscar ontvang vir haar spel in Hotel Rwanda waarin sy die rol van die hotelbestuurder se vrou gespeel het. Nog ’n kunstenaar met haar voete plat op die grond. Ek het net ’n paar tonele saam met haar gehad en die meeste saam met David Harewood, ’n Britse akteur wat die rol van Mandela vertolk het. My rol was dié van Gregory, Mandela se persoonlike bewaarder. My hare moes elke dag op stel grys gekleur word. David was onder meer te sien in ’n groot rol in Blood Diamond. Hy was die eenoog-terroristeleier.
  
 Ek het egter twee keer saam met Sophie speel. Die eerste keer was ook vir die BBC in Skin. ’n Toonbeeld van hierdie mense se professionaliteit het met ons eerste rollesing na vore gekom. Ek en Rika Sennett en ’n paar ander SA-akteurs (Rika het die rol van Helen Joseph in Mrs. Mandela vertolk) het met ons tekste by die rollesing (’n week voor ons met die verfilming begin het) opgedaag en ons dialoog gelees. David en Sophie het in teenstelling reeds hulle dialoog geken en glad nie van hul tekste gebruik gemaak nie!

Deur my ervarings met die internasionale sterre, het ek besef dat ons plaaslik skitterende werk doen, maar dat ons nog baie kan leer en ook kan verbeter as ons net die nodige begrotings kan hê. En dan ook – baie van ons plaaslike kunstenaars kan ook leer om nie prima donnas te wees nie.