Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.6.12

Sipke mik vir 50-tal in hoofstroomjoernalistiek

SIPKE DE VRIES skryf: ALLEREERS moet ek julle gelukwens met die blog wat julle uitstuur -- 'n baie professionele stukkie werk, hoor!

Sover dit jou (Piet Ebersöhn) uitnodiging betref om na die Engelstalige sy van oud Perskor-slawe te kyk, moet ek aanvanklik bietjie terugstaan. Ek is wel bly dat jy my Engels wou laat skryf of miskien sub omdat ek al die afgelope 37 jaar uitsluitlik Engels skryf, maar dit is op die oomblik vir my onmoontlik.

Die redes is dat ek nog voltyds vierkant in die joernalistiek staan – buitelandse redakteur van Sapa. (Ek hoop naamlik om my beoogde doelwit, 50 jaar in hoofstroomjoernalistiek, in Februarie volgende jaar te bereik.) Terloops, my kollega John Simpson van die BBC in London het dieselfde ambisie, maar hy is 8 jaar agter my.


Die tweede rede is dat ek veel in die buiteland is. Ek het belange in Nederland en Engeland en gaan ook soms bietjie na Spanje met vakansie. Ek kry die indruk dat die blog nogal wat aandag sal verg en tans het ek eenvoudig nie die tyd nie. Maar in die volgende jaar wanneer ek regtig beplan om dit bietjie kalmer te vat, hoop ek om meer beskikbaar te wees, as ek nog in die land is.

Oor dié wat weg is. Bert Ferreira, 'n groot vriend van my, is so 'n paar maande gelede rustig weg. Hy het analisties oor die wêreldekonomie in Beeld geskryf. Dawid van Rooyen, ook oud-Perskor-sportskrywer sal jou meer kan vertel.

Oor The Citizen, waarvan ek ’n stigterslid en later nuusredakteur was, sal ek bietjie moet dink. Sommige van die mense is dood en ander het verstandiglik die land verlaat. Daar was egter Poen de Villiers, Marilyn Cohen, David Bamber, Udo Rijpstra, Hendrik Vorster, Nardus Nel, ensovoorts.

Natuurlik het ook heelwat van die kollegas die stryd opgegee in bedrywe waar alkohol verskaf is. Met ys, ja!!!! (4 Junie 2012)