PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek.
Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef.
Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!”
Dirk se politiek is nog iets waarvan ek niks weet nie, maar hy was ʼn dêm goeie kollega. Weens Die Transvaler se troebel gesagstruktuur was hy as perdewedrenredakteur nie aan my as sportredakteur onderhorig nie, maar aan Jaap Swanepoel. Ons het sy bladsye opgemaak, en ʼn kantoor en grappies met hom gedeel so tussen sy kom en gaan renbyeenkomste toe.
Dirk Benade |
Sosiaal was hy in die jonger span. Ek, eienaardig genoeg effens jonger as hy, was maar sedig, toe al. Gevolglik het ek meer kere Vegkop toe gegaan om jonges kantoor toe te gaan haal as om saam te kuier. Maar na my wete was dit nooit nodig om Dirk te gaan haal nie.
Hy het selde ʼn kuierkans misgeloop, en kuier kón hy. Dikwels het ons die volgende dag sonder ʼn snars se spogstories van sulke geleenthede gehoor wat selfs Dirk met effense verwondering vertel het. Maar een dag was selfs sy glimlag bra bedees toe hy moes bieg oor die ene wat hy misgevat het.
Hy het die vorige aand ʼn pragtige Britse tienermeisie raakgedrink wat hier in die Suid-Afrikaanse Ope-tennistoernooi gespeel het. Sy het terloops ʼn jaar of wat later op Wimbledon opspraakwekkend uit haar bostuk uit geraak. Nietemin, Dirk en ʼn paar ander aspirerendes het ʼn aflosspan teen haar gevorm. Helaas, sy het elke een onder die tafel in gedrink.
Ek het wel een volledige kuier saam met Dirk beleef. In die winter van 1976 sit ʼn paar van ons af Durban toe vir die eerste rugbytoets tussen die Springbokke en die All Blacks: ek, Dirk, Gert Swiegers en (meen ek) Johan van Wyk en Johan Esterhuizen. Ons het die koerant vroeg afgegooi, in André Pienaar se sorg gelaat en die pad gevat.Gert se rol onthou ek die duidelikste. Dalk verwar ek die uitrusting ʼn bietjie met die een wat oorle’ Abe Segal aangehad het by die Suid-Afrikaanse ambassadeursonthaal vir die Springbok-Davisbekerspan in Rome. Maar na my onthou het Gert ʼn paar tekkies, ʼn aandpak se broek en ʼn groen T-hemp aangehad. Hy het ʼn bottel Southern Comfort vir geselskap saamgevat.
Vera Johns |
Dirk het soontoe, daar en die hele pad terug net geglimlag en kort-kort iets gesê soos “Dis hy, Pappie.”
Ons het ook ‘n keer of wat saam sosiale krieket gespeel, en ook dáái kuns het hy geken. Die verskil tussen ʼn ses en ʼn vier kon jy net aan die breedte van sy glimlag sien.
Later jare se weersiense by die Perskorreünie het weinig anders verloop: Pappie en Pappie-Dirkie, altyd met ʼn glimlag. Hy het die kuns verstaan om sonder veel inspanning van die wêreld ʼn leefbaarder plek te maak. Net met ‘n glimlag, Pappie.