Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.8.24

GPS kelder langpad-sending

KARIN PRETORIUS skryf: DIS nou ‘n verrassing om te hoor dat my bywoning uit die Kaap van die Perskor-reünie op 19 Mei 2024 in Johannesburg die verste is wat nog vir die byeenkoms gereis is, behalwe vir Joe Venter van Bloemfontein af.

Met my vlug na Johannesburg was ek op ‘n ernstige sending, want daar was twee dinge wat ek graag aan redakteur Harald Pakendorf wou sê: ons het mekaar in 1981 – 43 jaar gelede – laas gesien en dit was met die ‘wêreldscoop’wat ek aan Die Vaderland besorg het met ‘n groot storie uit die Rhodesiese bosoorlog van daardie jare.

Vlieg is altyd vir my ‘n groot lekkerte. Ek dink dit het te doen met die feit dat 'n mens met ‘n drankie op die vlug kan ontspan, maak nie saak watter tyd van die dag dit is nie. Dit laat my altyd dink aan Higgins in die ou Magnum PI van die jare 80 toe hy helder oordag by sy pragtige huis in Hawaii deur sy aantreklike agent met ‘n glas whisky in die hand betrap is, en gesê het: “My dear Magnum, somewhere in the world the sun must be setting.”

So, toe die lugwaardin met die trollie om 10.30 by my aankom, was ‘n G&T net die regte ding vir ‘n goeie gemoedstemming. Ook net een, anders was daar dalk probleme by die toonbank waar ek vorms moes invul vir die huur van ‘n motor.

My laaste ontmoeting met Harald in 1981 was toe ek nog volstoom by die Rhodesiese bosoorlog betrokke was en vir Perskor verslag gedoen het. Robert Mugabe het net die premierskap oorgeneem, ek het in ‘n kamp met 4 000 gewese terroriste naby Hwange (Wankie) ingesluip en ‘n storie oor Nkomo se Zapu-volgelinge geskryf wat deur Mugabe se regering sleg behandel word. Dit was lewensgevaarlik maar ‘n wereldscoop vir Die Vaderland en ek het met my sak vol films op die eerste vliegtuig gespring reguit Johannesburg toe waar Harald en Hannes de Wet my by die koerant ingewag het. 

Ek het vir drie dae by Die Vaderland sit en skryf en die storie is in drie aflewerings gepubliseer. 

Mugabe was briesend, wou my deporteer en het in Salisbury se Sunday Mail geskryf van “this Afrikaans journalist Karin Pretorius who wrote a distorted story about Nkomo’s Zapu followers being badly treated” ens. Dit het mooipraat gekos van ‘n kontak van my in die intelligensiediens om Mugabe tot ander insigte te bring. (Die storie het op 21.5.14 in K’rant verskyn.)

By my broer en skoonsus in Pretoria aan huis, het broer die Sondag van die reunie my gehelp om my GPS in te stel, want wat weet ek van tegnologie af. 

Maar die dekselse GPS kon net op die langpad om en nie die kortpad nie instel soos in K’rant se omsendbrief aangedui was. Die nuwe tegnologie is vir my ‘n verpesting so op my oudag. Dis netsoos Blouwillem in sy rubriek skryf wat sê as hy sy TV-afstandbeheer se knoppie druk, gaan sy motorhuisdeur oop!

Dit maak my toe 20 minute “laat”, ek arriveer 11.50, maar ek glo toe dat daar darem genoeg tyd sal wees om, soos die brief sê, tot 12.30 te kan kuier wanneer die ete begin. Verkeerd. Met die instrapslag by die glasdeur, toe begroet ‘n geselligheid my soos net joernaliste kan aanbied. Al die tafels was reeds beset en veertig siele se vrolike geklets het bo die agtergrondmusiek uitgestyg. 

Ek was maar effe verbaas en verlore, maar jou wrintiewaar sien ek Harald by ‘n tafel staan en dag toe dis ‘n gulde geleentheid om gou hand te skud, myself voor te stel – want wie sal nou glo hierdie ou tannie met die grys hare is 1981 se jeugdige en skraal joernalis met langerige donker hare en pistool op die heup – en aan Harald te sê wat ek wil sê. Want dit was mos my missie.

Maar net toe ek handskud, draai Aletta reg hier voor my om vir wie ek toe eerste groet. Ons het mekaar ook baie lank gelede gesien. Toe ek regop kom, sê Harald ewe vriendelik: kry vir jou ‘n sitplek. Daar is toe ‘n stoel regs van Aletta oop maar nee, sy eienaar kom nog.

Toe draai ek na die ander tafels, Louise Blake help my gelukkig met ‘n sitplek en net toe raak almal stil, want Harald wil die verwelkoming doen.

Toe besef ek met ‘n skok watter flater ek begaan het en ek voel of die aarde mykan insluk. Ek het so pas ‘n groot krater van myself gemaak. Met my “laat” kommery het ek nie besef nie dat Harald al gereed gestaan het om almal stil te kry en toe ek mooi kyk, sien ek natuurlik dit is nou die hooftafel met genooide gaste wat ek so bestorm het. Want daar sit dr Pieter Mulder, dr Piet Croucamp, Foeta Krige, Cobus Bester e.a en ek het die vermetelheid om sommer daar te wil inval. Wat ‘n verleentheid, as ek maar net besef het wat ek aangevang het en verskoning kon vra.

Karin Pretorius (middel regs) en Johan Pretorius (heel regs) saam met hul reüniegenote aan tafel.

Ek het baie gesellig gekuier met my buurman aan tafel, niemand anders nie as die vermaarde joernalis Johan Pretorius, onder andere van Die Transvaler en later van TV-faam. Hoe gereeld het hy nie die nuus vir ons uitgesaai van oral oor die wêreld en hier sit hy langs my. Weg is die donker hare en ook al grys soos ons almal en weg is die donker Charlie Chaplin-snorretjie wat ons so goed onthou. Hy het ook in Bloubergstrand gebly en nogal in die huis hier reg voor my blyplek. Nou dis selde dat twee Pretoriusse langs mekaar te sitte kom en so land en sand gesels.

Oorkant sit Jac du Toit wat ek so goed onthou van Die Transvaler-dae en in my geestesoog sien ek hom sit by sy lessenaar voor sy tikmasjien.

Die kos is uit die boonste rakke, smaaklik en geen tekorte nie en die bottel Sauvignon Blanc aan tafel so na my smaak. Die wonderlike aanbieding is ‘n groot lekkerte en die borge kan werklik op die skouer geklop word.

By die kosbakke skuur Jakkie Groenewald by my verby en herinner my aan die premiere van Zorro in Johannesburg waar ons mekaar laas gesien het toe ons soos karakters uit die rolprent aangetrek was. My uitrusting onthou ek was alles swart met ‘n gesigsmasker soos Zorro asook ‘n swart Spaanse hoed. Dit was in 1975!

Ons tafel het later begin leeg loop en ek moes ook terug na Pretoria waar familiegesellighede nog voorgelê het.

So, die uiteinde van my “missie-Johannesburg” is dat ek nooit by Harald uitgekom het nie om aan hom my ‘ernstige boodskap’ oor te dra.

Maar wag, skryf is mos maar in ons bloed en ek e-pos hom ‘n veruideliking van al my mistastings en wanbegripe en vra groot om verskoning.

Ordentlike en gemoedelike redakteur wat hy is, sê hy geen verskonings nodig nie en dat ek reeds weg was toe hy my kom soek het. Hy voeg by dat ek weer moet kom kuier, want dan “gesels ons ‘n hond uit ‘n bosoorlog”!