HANLIE VORNBERG skryf: HULLE het oornag hier by ons in Wenen aangekom. Die groot swart kraaie. Met die koms van die herfs, is hulle elke jaar dié tyd, terug. Hulle kom al die pad uit Rusland om hier te oorwinter. Vanmôre het ek hulle hoor krys en gesien hoe die tamaai voëls heen en weer oor die huis vlieg.
Daar is 'n Oostenrykse boerewysheid wat sê dat wanneer die kraaie kom, dit tyd is om jou vuurmaakhout bymekaar te maak.
Teen die tyd dat die kraaie hier aankom, het hulle reeds 'n lang reis agter die rug. As die eerste ryp in die broeigebied begin val, is dit tyd om suidwaarts te trek na ons toe. Hulle vind hulle kosvoorraad, die wurms, insekte en saadkorrels hoofsaaklik in die boonste grondlae, want van bevrore voedsel hou hierdie verevolk nie.
Terwyl ons hier in Sentraal-Europa die milde herfstemperatuur geniet, het die winter in Rusland reeds wreed toegeslaan. Vir die 2 000 kilometer reis, neem dit vir die voëls 'n bietjie langer as 'n week.
Hulle trek deur die dag en lê ongeveer 250 kilometer op 'n keer af. Tussenin land hulle om hulle innerlik te versterk. In dié opsig verskil hulle van die rooiborsies wat snags oor die hele Europese kontinent 450 kilometer en selfs meer aflê en met die wind van agter 'n snelheid van tot 150 kilometer per uur bereik.
Die Skandinawiese eende en seeduikers vlieg nie suidwaarts nie, maar swem al met die riviere langs tot in die Middellandse Seegebied.
Die tyd wanneer die voëls begin onrustig word en dit aanvoel om te vertrek, is geneties gereël. As die dae begin korter word, begin hulle genoeg energie stoor vir die lang reis. Dié wat in die nag vlieg, vreet bedags genoeg stoorvet sodat hulle in staat is om die hele nag deur te vlieg. Hulle kan nie land voor dit lig word nie. Sodoende word hulle deur vyande met rus gelaat.
Die ooievaar het in die somer sy broeiplek hier by ons in Burgenland, ’n provinsie in die
ooste van die land. Daar bou hulle neste op die skoorstene van die huise. In die herfs trek hulle dan suidwaarts tot in Suid-Afrika.
Regs: Die ooievaars bou in die lente hier in Burgenland hul neste op die skoorstene.
Dit was altyd vir my ‘n fassinerende gedagte dat die ooievare wat ek hier in ons somer sien, moontlik by my familie op die plaas in die Tsitsikamma oorwinter! Die ooievaar het dit nie nodig om hom kaduks te vreet voordat hy die pad vat suide toe nie. Hulle beskik oor 'n bepaalde vliegtegniek wat hordes energie spaar. Hulle seil op die warm winde wat van die kontinentale landmassa opstyg. Selfs 'n beseerde ooievaar slaag daarin om die 10 000 kilometer af te lê. Hulle vlieg in keëlvormige formasies, waarin dié in die middel 10% energie kan spaar.
In die somer het ons egter ook ons eie inheemse kraaie. Hulle word saadkraaie genoem en is nie so groot en raafswart soos die Russiese kraaie nie.
Links: Die groot, pikswart Russiese kraaie wat hier in Wenen oorwinter.
Toe ek op ́n keer met my hond in 'n klein woud hier naby my gaan stap, het die hond 'n kraaikuiken ontdek wat uit sy nes geval het. Ek het besluit om die arme voëltjie huis toe te neem en te versorg. Later het ek eers besef dat dit verkeerd is om dit te doen. Ek het gelees dat die kraaiouers self so ʼn kraaikuiken kom optel en weer in die nes terugplaas.
Indien 'n mens aan so ́n voëltjie raak en jou reuk daaraan kleef, word dit as vreemd beskou en word nie weer in die nes opgeneem nie.
Tuis het ek die jong kraai wat nog nie kon vlieg nie, vry in die huis laat rondbeweeg. Ek het 'n groot bak met hawermout en rosyne gemeng en dit in die kuierkamer neergesit. Die kraai was graag in die sonnige vertrek en het dikwels op een van die vensterknippe gesit en na buite gestaar. Ons het hom Bernie genoem. Bernie was ʼn vriend uit Suid-Afrika, 'n vurige voëlkyker wat ons 'n paar keer hier in Wenen kom besoek het.
Jong kraaie het 'n ongelooflike vreetlus! Wanneer Bernie my (die mamma) gesien of net gehoor het, het die rooi kraaibek oopgesper en gekrys na kos. Dan het ek outomaties my vingers in die kosbak gesteek, 'n porsie uit die mengsel saamgeklont en dit in die oop bek gedruk. Soos Bernie gevreet het, het sy kraaimis in oranje blertse op die mat, die boekrakke en die vloere gespat. Die opruimwerk agter hom was nie altyd lekker nie.
Regs: Bernie, die jong kraai saam met my in die tuin.
Bernie het graag op my skouer gesit. In dié posisie het hy dan aan my brilraam of oorkrabbertjies gepik. Wanneer ek naaldwerk gedoen het, was hy op my skoot en het met die gare gespeel. Aan die ontbyttafel het hy op die suikerpot se rand gaan sit en suiker opgepik.
Bernie het diep in my hart ingekruip. Ek was egter nie van plan om hom as troeteldier te behou nie en wou hom graag later weer sy vryheid in die natuur teruggee.
'n Voëlkundige het my gewaarsku dat kraaie baie intelligente voëls is en getroue huisdiere word en dat die moontlikheid bestaan dat Bernie ons glad nie meer sou wou verlaat nie. Hy het my die raad gegee om die kraai elke dag in die tuin te neem en om hom te laat luister na die gekrys van sy eie veervolk.
Wanneer ek buite op die sonstoel gelê het, was Bernie op my skouer en het hy boontoe gekyk, sy kop gedraai en geluister wanneer daar kraaie oor ons gevlieg het. Bedags, wanneer ek weg was, het ek Berrnie op die balkon gelos. Ek het besef hy sou, wanneer hy sterk genoeg was en kon vlieg ons een of ander tyd, verlaat.
Na bykans twee maande het ek een aand uit die stad teruggekom, die balkondeur oopgemaak om Bernie te gaan haal, maar hy was weg. Ek het gekyk of hy dalk van die balkon afgeval en êrens onder in die tuin bly lê het, maar hy was nie daar nie.
Links: Bernie het graag op my skouer gesit.
Bernie het besluit om by die ander kraaie aan te sluit. Hy het die vryheid gekies!
Ek het gemengde gevoelens gehad. Die idee was van die begin af om die kraai te red, te help, sterk genoeg te maak en hom dan sy vryheid terug te gee. In dié tyd het egter ook 'n gehegtheid tussen my en die jong kraai ontstaan. Die afskeid was nie sonder trane nie.
Dae lank het ek gewag en gehoop hy kom miskien kort terug om te kom groet. Die voëlkenner het berig dat dié moontlikheid wel bestaan.
Bernie het egter nie hiervoor kans gesien nie, en ék ook nie.