Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.12.24

Willem Allen oorlede

WILLEM ALLEN se dogter Glazelle Pohl laat weet dat hy vanoggend (13 Desember 2025) op 86 oorlede is ná ‘n stryd teen kanker. Hy was die afgelope drie maande ernstig siek en het veral die laaste maand vinnig agteruit gegaan.

Hy is op 13 April 1938 gebore.

Willem laat sy vrou Gladys en ʼn hele groot familie agter: sy dogters, Rosa van Eck, Wilma Schutte, Glazelle Pohl en Rene du Toit; skoonseuns Jannie van Eck, Ignatius Pohl en Thomas Rensleigh; sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Die gedenkdiens word gereël vir Donderdag 19 Desember om 10:30 by NHK Kruispad-gemeente, Tenbystraat, Westdene. Hulle gaan probeer om regstreekse internetstroming van die diens te reël en sal laat weet. K’rant sal die skakel plaas as dit ontvang word.

Willem het op 6 Februarie 1957 as betaalmeester by die Dagbreek-filiaal TW Hayne en Gibson begin werk en is in 1994 as ʼn direkteur van Perskor-publikasies aangestel.

Ná Dagbreek se samesmelting met Afrikaanse Pers om Perskor te vorm was hy onder meer vervoerbestuurder, die hoof van koerantverspreiding en vervoer asook bestuurder van Plaas Marius (Perskor se plaas in die distrik Louis Trichardt).

Met Caxton se oorname van Perskor was hy bestuurder van verspreiding en die motorwerkwinkel en het in 2006 afgetree.

Willem was in sy jong dae ʼn kranige rugbyspeler en kaptein, eers van Hayne en Gibson se span en later van Dagbreek Doornfontein sʼn.