Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.8.23

Bier en mossels is 'n gevaarlike resep

HANLIE VORNBERG skryf:  IN 1858 was daar reeds agt verskillende koerant publikasies in die Kaap. Koerante is graag in klubs en in openbare plekke gelees en een koerant het dikwels deur baie hande gegaan. Ook die dames het reeds hulle eie blad gehad, die sogenaamde,
„Lady ́s Companion.“

Aangesien advertensies altyd die lewensbloed van die pers was, was daar ook in die ou Kaap geen tekort daaraan nie. Die adverteerders het van al hulle skeppende talente gebruik gemaak om die lesers se aandag te trek.

Sommige het met dekoratiewe illustrasies gewerk en andere het selfs sover gegaan om hulle advertensies as nuwe "stories" te kamoefleer.

In die uitgawe van die „Lantern“ in Februarie 1889, het 'n sekere H Rider Haggard Junior, sy advertensie vir 'n bepaalde soort bier, onder die volgende opskrif geskryf: "Saved from a Horrible Death Through a Bottle of Ohlsson`s Stout.“

'n Man uit die voorstad Woodstock, het in die eerste persoon geskryf hoe hy vir middagete huistoe is om
vas te stel dat sy vrou vir hom 'n heerlike maaltyd mossels voorberei het. Dit was sy gunsteling gereg. 

Daar was genoeg mossels om die hele militêre diens te voed. Ongelukkig was daar egter nie meer Ohlsson`s bier by die huis nie en hy wou nie die watertand mossels sonder sy bier geniet nie.

Hoewel die versoeking groot was om dadelik te begin eet, het hy tog besluit om eers vir hom 'n bottel donker bier te gaan haal. Op pad terug huistoe, ontmoet hy 'n buurman wat hom vertel dat 'n sekere mnr Brittain pas gesterf het. Dit was glo die derde sterfgeval in die omgewing, aangesien die helfte van Woodstock deur slegte mossels vergiftig is. 

Tuis, het sy vrou gelukkig net 'n paar mossels geproe, naar geword, maar verder niks oorgekom nie.
Hulle het vinnig die giftige mossels in die vuilgoedblik gegooi.


Ongelukkig het die hond van 'n vriend, 'n vraterige Retriever, die blik omgekeer en al die mossels opgevreet. Terug op sy eie werf, het hy opgegooi en het die varke en eende sy braaksel met hom gedeel.

Op die ou einde was daar drie dooie mense, 'n dooie Retriever, 'n dooie kat en veertien dooie eende in Woodstock.

Die moraal van die storie is dié: indien die man in Woodstock nie so lief was vir sy Ohlsson ́s donker bier nie, sou ook hý die giftige mosselmaal nie oorleef het nie!

Die Ohlssons-brouery in Nuweland, Kaapstad, is in 1881 deur die Sweedse immigrant en fabrikant, Anders Ohlsson, gestig. Dit het bestaan tot 1956 toe dit deur die Suid-Afrikaanse Brouerye oorgeneem is.

Volgens die advertensie oor die giftige mossels, moes die gehalte van die bier in die Kaap sedert die vorige eeu, toe die Duitse reisiger, O.F. Mentzel, daar besoek afgelê het, baie verbeter het.

Mentzel vertel dat die bierbrouer, 'n ene William Menzing was. Hy is spesiaal deur die Kompanjie uitgesoek vir dié werk en het sy lewe lank die monopolie vir bierbrou in die Kaap gehad. Die gehalte van die bier was egter baie swak. Mentzel het gekla dat die bier direk na jou kop toe gaan en eerder hoofpyn as hoenderkop veroorsaak het.

Die koloniste het verskeie menings gehad oor die moontlike redes waarom die bier so sleg was. Die fout kon by die hops gelê het wat uit Holland ingevoer moes word en as gevolg van foutiewe ventilasie op die skip bederf is.

'n Ander rede was dat daar geen opgeleide en ervare brouers was wat die taak kon verrig nie. Dit was 'n paar slawe wat die mout moes voorberei. Die hops is dikwels meer verbrand as gerooster.

Ook die gistingsproses het tot die minderwaardige gehalte van die bier bygedra. Dieselfde suurdeeg is tydens dié proses, wat weke lank geduur het, oor en oor gebruik en die ou suurdeeg het 'n slegte smaak aan die bier verleen.

Die bier was donker en swaar en het winde, suur en sooibrand veroorsaak.

Mentzel het daardie jare nie baie hoop gehad dat die bier in die Kaap, sou verbeter nie.

Hulle sou kon probeer om die hops plaaslik aan te plant, maar die saadjies wat per skip moes kom, het tydens die lang reis uitgedroog en wou nie ontkiem nie.

Hulle kon ook probeer om die hops tydens die bootreis te kweek, maar die vogtigheid en hitte van die trope sou die plante te vroeg laat uitspruit.

Dan het hy ook melding gemaak van die dennebome wat ingevoer sou moes word om die nodige hopspale te voorsien waaraan die plant opgerank moes word.

Die bome sou volgens Mentzel, nie in die los sandgrond van die Kaap, groei nie.

Die koloniste moes egter een af ander tyd wel daarin geslaag het om hulle bierbrou probleme op te los. 

Die bier moes intussen beter gesmaak het. Anders sou die man in Woodstock, honderd jaar later ook aan mosselvergiftiging gesterf het!.