PAUL C. VENTER skryf: LANK, lank gelede, toe Afrikaanse Pers nog in Johannesburg gestaan het, naby waar Milpark Holiday Inn later sy staan kom maak het, het drie snotkoppies by Die Vaderland begin werk: Ek en Ferdinand Hand as verslaggewertjies en Ferdie se broer Reinhardt onder by die drukkery.
Die Hande – Hands? Ek weet nou nog nie waai een nie – was twee goedgemanierde plattelanders van die Platorand, ek ʼn gesoute en dus onbetroubare Johannesburger pas uit die army.
Later het ons drie saam ʼn huis in Linden betrek, ʼn karaktervolle opstal wat aan Harald en Aletta Pakendorf behoort het, waar die kaggel een bitterkoue winternag nie mooi wou vat nie toe help ons hom met petrol aan ... stop dit, ek glo nie Harald en Aletta wil die storie hier lees nie.
Aletta was so goed vir my toe sy op die kunsredaksie was en verniet teaterkaartjies kon kry. Ek het vir haar in dankbaarheid ʼn resensie of twee geskryf, maar Hermie Hendriks het dit gestop omdat hy ʼn behoorlike joernalis van my wou maak en bang was ek raak “te kunstig”.
Oom Hermie wat gehoor het ʼn mossie bad na ʼn storm voor sy refleksie in 'n perskar se wieldop en toe ʼn fotograaf gestuur het om die kunstige oomblik af te neem.
Hermie Hendriks |
Ek wil oor rugby praat. Die bietjie wat ek hopelik reg onthou.
Op skool het ek graag rugby gespeel, maar sonder die talent om ʼn ware rugbyheld te word. Ek was soort van ʼn "veilige" agsteman wat so "'n bietjie kon skop" en per ongeluk soms 'n drie gedruk het, dis omtrent al. As voltydse skrywer het ek oor die jare goed leer lieg, maar ek durf nie oor my rugbyroem lieg voor almal wat die tragiese waarheid weet nie weg is nie.
My een groot oomblik het wel saam met die pers se rugbyspan gekom. En saam met Ferdie Hand op losskakel. Onthou, ons was jonk: ek fiks uit die army waar ek ook effens rugby gespeel het, Ferdie fiks van goeie rugby vir Platorand speel. Ek dink sy broer Reinhardt het ook gespeel, maar ek kan hom nie in hierdie staaltjie saam met ons sien speel nie ... dalk drop my geheue my nou heeltemal, jammer, Rein!
Len Lindeque |
So gebeur dit toe dat ek en Ferdie een aand onder spreiligte vir die Pers uitdraf. In ʼn span en teen ʼn span (was ons opposisie Doeane en Aksyns daardie aand?) wat oor die algemeen ouer as ons was, maar nie noodwendig so fiks nie ... en van die spelers was heel moontlik eers by die Motte (Mothklub -- Red.) om voor hulle rugbyveld toe gekom het. Of was dit die Sans Souci? Het ons toe al by die Motte gekuier? Chris Vermaak sou geweet het, maar hy is ook al weg en ek
wil nie daaroor praat nie.
Chris Vermaak |
Ferdie Hand |
Later in ons lewens, toe ek al vryskut was en Ferdie redakteur van daardie koerant in King Williamstown – wat was die koerant se naam nou weer? – het Ferdie my nog gehelp om daai storie oor Steve Biko te doen; het ons oor drankies weer die glorieryke aand belewe en ek vermoed hy het vir hom ʼn drie of twee bygelieg. Ek is seker ék het.
Nou is Ferdie weg en daaroor wil ek nie praat nie.
Ek vra om verskoning aan die pers se rugbyspelers wat nog met ons is en destyds nie voor ʼn game by Sans Souci of die Motte ingeloer het nie. Ek vertel maar net wat ek deur newels van tyd onthou.
Laaste ding wat ek so vaagweg onthou: met Sans Souci binne skopafstand het ek so gou aangepas dat ek kort voor lank net so goed soos die ander begin speel het ... toe was my spel sekerlik nie meer dié van ʼn Frik du Preez nie, maar op ʼn uiters gesellige manier was dit groot sports; ek wil-wil amper ʼn geleentheid onthou toe die hele span gelyk in ʼn jacuzzi probeer klim het ... Wag nou, van die manne is al weg, ek wil nie daaroor praat nie.
Links: PAUL stuur hierdie foto van hom as Batman met sy seuntjie Ruhan as Robin. Hy en sy vrou Saarkie het Ruhan op drie maande aangeneem en hy sê hy kon die “blink, bruin ogies eenvoudig nie weerstaan nie”.