Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.1.24

‘Afrikaanse Alistair MacLean’ oorlede

PAUL C. VENTER skryf: DIE skrywer Calvyn van Niekerk is op 8 Januarie 2024 aan nierversaking oorlede. Ons innige simpatie met sy weduwee en familie. 

In sy laaste jare het Calvyn stil in Durban gewoon, die stad waar hy in die sewentigs as tydskrifjoernalis sowel as skrywer van stringe avontuurboeke en ʼn horde fotoboekies vir Republikeinse Pers gewerk het. Toe was hy die man na wie jonges soos ek geluister het.  

As verhaleredakteur van Ster en Die Brandwag het hy my 'n kans gegee om vervolgverhale vir die tydskrifte te skryf. Sy storieraad was goud werd, sy humor so droog soos die woestyn waarin sy Koning Kalahari afgespeel het. 

Calvyn van Niekerk
Ek weet sy pad het met baie van julle s'n ook gekruis. Jan Scholtz het hom die Alistair MacLean van Afrikaanse fiksie genoem.  

Later in my eie skryflewe het Calvyn ook 'n kreatiewe rol in my werk aan Arende gespeel. Hy het geweet Sloet Steenkamp se storie is na die eerste reeks nog nie klaar nie. 

En hy het my in my vryskutjare met artikelopdragte ondersteun wanneer die televisiewerk maar skraps was. 

Dankie vir alles, Calvyn. Jy moet lekker slaap, maat. (Van Niekerk was ook die redakteur van Keur. – Red.)